Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bedrogsake: R21 m. se gesteelde toelae nie teruggekry

Duisende pensioentrekkers en ander begunstigdes is die afgelope jaar uit hul maatskaplike toelae van gesamentlik meer as R21 miljoen bedrieg.

Lindiwe Zulu. Foto: Daily Sun

Dié geld is nooit teruggevind nie, sê Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, in ’n parlementêre antwoord wat Dinsdag deur die parlement bekend gemaak is.

Liezl van der Merwe, IVP-LP, wou vroeër in ’n amptelike vraag by haar weet hoeveel bedrogsake pensioentrekkers en ander begunstigdes die afgelope 12 maande by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) aangemeld het, of dit opgelos is en of die gesteelde geld teruggekry is.

Zulu het in haar antwoord gesê dat sowat 20 787 bedrogsake teen 28 Junie vanjaar by die Poskantoor geregistreer is.

“12 432 begunstigdes van maatskaplike toelae is vergoed vir die verliese wat hulle gely het en wat altesaam sowat R21,7 miljoen beloop het.

“Hoewel die begunstigdes vergoed is, kan nie een van die sake as opgelos beskou word nie omdat die strafregtelike ondersoeke daarna steeds voortduur.

“Geen geld is teruggekry nie omdat dit ook van die strafregtelike ondersoek afhang,” het Zulu geantwoord.

Van der Merwe wou in ’n ander vraag weet wat Sassa doen om korrupsie en bedrieglike transaksies met Sassa-kaarte te stop.

Volgens Zulu moet begunstigdes bedrog met hul maatskaplike toelae by hul naaste Sassa-kantoor of by die Poskantoor aanmeld wat dit sal ondersoek en die begunstigde daarna sal vergoed.

“Die strafregtelike ondersoek sal voortgaan en vervolgings sal plaasvind sodra die feite bekend is.”

Enige verlore of gesteelde kaart kan dadelik gestop word sodat dit nie aan niksvermoedende begunstigdes uitgereik kan word nie.
Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling

Volgens Zulu werk Sassa en die Poskantoor egter voortdurend daaraan om bedrog te voorkom deur hul stelselbeheer te verbeter soos byvoorbeeld met die instel van die biometriese registrasie van alle nuwe begunstigdes.

Sy sê die Poskantoor het ook ’n geoutomatiseerde kaartbestuurstelsel in werking gestel wat hulle in staat stel om elke Sassa-kaart van die punt van ontvangs by hul hoofkantoor tot by die uitreik aan individuele begunstigdes te kan naspoor.

“Enige verlore of gesteelde kaart kan dadelik gestop word sodat dit nie aan niksvermoedende begunstigdes uitgereik kan word nie,” sê Zulu.

As gevolg van groot vertragings in bedrogondersoeke, het die Poskantoor volgens Zulu ingestem om begunstigdes wat bedrog aangemeld en alle relevante dokumente ingedien het, binne 14 dae te vergoed.

“Die ondersoek sal voortduur, maar nie ’n negatiewe invloed op die begunstigde hê nie.”

Vergoeding binne 14 dae sal egter eers plaasvind wanneer ’n agterstand ingehaal is, wat ontstaan het voordat stelsels behoorlik ingestel is.

Meer oor:  Lindiwe Zulu  |  Toelae  |  Pensioentrekkers  |  Bedrieg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.