Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Beëindiging van pandemie ‘gepaste huldeblyk aan Mthembu’

Die beëindiging van die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika én die algehele uitwissing daarvan sal ’n gepaste huldeblyk aan wyle Jackson Mthembu wees, het adj.pres. David Mabuza Maandag gesê.

Mabuza, ook voorsitter van die nuwe interministeriële komitee wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs gestig het om Suid-Afrika se Covid-19-entstofprogram polities te bestuur, het op die regering se gedenkdiens vir Mthembu hulde aan dié ontslape minister in die presidensie gebring.

Mthembu is Sondag in sy tuisdorp Emalahleni in Mpumalanga op ’n staatsbegrafnis ter ruste gelê nadat hy Donderdag in die Milpark-hospitaal in Johannesburg aan Covid-19 dood is.

Jackson Mthembu Foto: Jaco Marais

As minister in die presidensie was hy die afgelope maande die “stem en gesig” van die regering se kommunikasieveldtog oor die pandemie.

Mabuza het gesê Mthembu was altyd besig om die ideaal van ’n bekwame en ontwikkelingstaat te verwesenlik.

“Dít is tans belangrik in die stryd teen die tweede vlaag van die Covid-19-infeksies waarin die krag van ons gesondheidstelsel getoets word.”

Alle Suid-Afrikaners moet daarom “skouer aan die wiel sit” in die voortdurende stryd teen die virus om verdere sterftes en infeksies te voorkom, sowel as met pogings om wetenskaplike oplossings vir die huidige krisis te vind.

“Soos ons hulde bring aan minister Mthembu, moet ons leer uit die lesse van 2020 toe ons in ’n mate daarin geslaag het om die eerste vlaag van infeksies te stuit.

“Een blywende les wat ons met ons in 2021 moet saamneem, is dat as ons as verskeie staatsdepartemente en entiteite in silo’s werk, kan dit ons vermoë om lewens en mense se lewensbestaan te red in gevaar stel.”

Volgens Mabuza was dit hoekom Mthembu in sy rol as minister in die presidensie ’n kritieke leiersrol in die verbetering van die koördinering en integrasie van die regering se pogings in die stryd teen die verwoestende impak van die pandemie gespeel het. Dit het die bevordering van vennootskappe met maatskaplike vennote ingesluit.

“Daarom, om sy lewe te eer, is dit ons almal se plig as georganiseerde arbeid, die privaat sektor, akademici, die burgerlike samelewing en geloofs- en tradisionele instellings om saam in die stryd teen die pandemie te werk.”

Volgens Mabuza het Mthembu in die uitvoer van sy pligte gesterf, maar voor sy dood het hy sy talente aangewend om te verseker dat die regering op ’n samehorige wyse in staat is om mense se aspirasies in tasbare programme te omskep.

Net so het Mthembu ook daarin geslaag om ingewikkelde beleidsvoorstelle te vereenvoudig op ’n manier wat mense kon verstaan en hulle kon vereenselwig met hoe dit hul lewe sal verbeter, het hy gesê.

Meer oor:  Jackson Mthembu  |  David Mabuza  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Huldeblyk  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.