Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Beelde van apartheid: Publiek glo min gepla

Die regering het besluit om voort te gaan met die proses om standbeelde en monumente van die apartheids- en koloniale eras te skuif, al het deelnemers aan openbare sittings glo oorweldigend aangedui die beelde kan maar bly.

Die Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria nadat dit in 2015 gevandaliseer is. foto: Theana Breugem

’n Ministeriële taakspan wat gevra is om die “transformasie van die erfenislandskap” te ondersoek, het bevind sekere standbeelde en monumente is “te aanstootlik” om langer ten toon gestel te word.

Vusi Ndima, adjunk-direkteurgeneraal van sport, kuns en kultuur en voorsitter van die taakspan, beklemtoon egter sy departement probeer nie daarmee om die geskiedenis van Suid-Afrika “uit te wis” nie.

“Hierdie kwessie gaan nie oor ras nie,” het Ndima Vrydag aan Rapport gesê oor die kabinetsbesluit verlede week om simbole van vorige bedelings na sogenaamde temaparke te verskuif.

“Ons doen dit nie uit woede nie. Ons wil slegs ’n situasie vermy waar standbeelde beskadig of vernietig word.”

‘Ons wil geld maak uit die parke.’

Ndima se taakspan het in 2016 bymekaargekom nadat verskeie beelde, waaronder dié van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria en Jan van Riebeeck in Kaapstad, in 2015 beskadig is. Die taakspan het in elke provinsie met gemeenskappe vergader.

Luidens die taakspan se verslag, wat verlede week voor die kabinet gedien het, was die “algemene sentiment tydens die provinsiale konsultasies om die standbeelde te behou, maar die openbare ruimte te herinterpreteer en dit onapologeties inklusief te maak”.

Die taakspan het ook bevind daar is ’n bereidwilligheid onder Suid-Afrikaners “om te vergewe”. “Maar die vraag is hoe om daardie gees te herlei na ’n boodskap wat versoening onderstreep,” lui die verslag.

Die taakspan het eindelik besluit die manier om daardie “gees” te herlei, is temaparke waar die standbeelde en monumente “veilig” bekyk kan word.

’n Oudit sal binne ses maande gedoen word om vas te stel watter standbeelde en monumente “te aanstootlik” is en moet skuif.

Dan volg ’n formele proses van openbare deelname. “Ons wil dit op ’n baie ordentlike manier doen, want ons verstaan die emosies daarom,” sê Ndima.

“Die doel is nie om sekere gemeenskappe te antagoniseer nie en toekomstige prosesse sal met verskeie gemeenskappe en rolspelers se insette voortgaan.”

Alle ou beelde sal nie geskuif word nie. “Die oudit is daar om vas te stel watter boodskap die monumente en standbeelde oordra. As die boodskap opbouend is en met ons Grondwet se waardes ooreenstem, moet die standbeeld bly.”

Ndima is gegrief oor die verwysing na die parke as “temaparke”. “Dit is beledigend vir almal wat daarby betrokke is. Ek het klaar aan die kabinet voorgestel dat ons liewers daarna moet verwys as parke vir kulturele nasiebou.”

Toe Rapport vra of die regering nie eintlik maar net die beelde vir die publiek wil wegsteek nie, het Ndima gesê: “Glad nie.

“Ons wil hê die parke moet besoek word. Ons wil geld daaruit maak. Kyk na parke soos dié in Moskou waar oudleiers se standbeelde gehuisves word en steeds groot toeristetrekpleisters is.”

Ndima het verwys na die Muzeon-kunstepark in Moskou, waar standbeelde van Sowjet­era-leiers soos Josef Stalin en Wladimir Lenin sedert die val van kommunisme staan.

Ndima het ook in reaksie op ’n vraag daaroor van Rapport gesê die regering sal graag hulp van kultuur- en burgerregtegroepe aanvaar om historiese monumente in stand te hou.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, was deel van die ministeriële taakspan, maar sê hul mandaat is in 2019 beëindig. Sy het nog nie die finale verslag gesien nie. Sy sê AfriForum sal “natuurlik” wil deelneem aan die bewaring van Afrikanererfenis, maar hulle is nie vir “temaparke” te vinde nie.

“Dit kan ’n gallery of rogues raak,” sê Bailey. “Waar gaan die geld vandaan kom? My eerste vrees met die parke was dat hier nou ’n wonderlike geleentheid vir tenderpreneurs is.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dié vakbond staan die verwydering van monumente of standbeelde teen. “Ons stel definitief belang om ons erfenis te bewaar, maar dan moet daar ’n politieke wil wees om te sê die Afrikaner is deel van Suid-Afrika se erfenis,” sê Hermann.

“Deur ‘konsentrasiekampe’ vir beelde word die slagoffer-oortreder-verhouding in stand gehou. Die oortreders word só vir altyd in ’n posisie van skuld gehou.

“Enige geskiedenis het goed en kwaad – of dit nou Amerikaners, Duitsers, Engelse of Zoeloes is. Die temaparke reduseer Afrikanergeskiedenis net tot kwaad.”

Kort ná die verwydering van die Cecil John Rhodes-standbeeld by die Universiteit van Kaapstad in 2015 het die komediant Evita Bezuidenhout in City Press geskryf apartheidsbeelde kan na haar tuin in Darling geskuif word, waar besoekers dit saam met ander apartheidsaandenkings kan besigtig. Die tuin heet Boerassic Park.

Meer oor:  Evita Bezuidenhout  |  Dirk Hermann  |  Standbeelde  |  Kolonialisme  |  Afriforum  |  Transformasie  |  Monumente  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.