Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Begin van ‘robuuste’ taak om van OB ontslae te raak

Die onafhanklike paneel wat gaan help om oor die lot van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), te beslis is net die begin van ’n “robuuste” en moeilike parlementêre proses om alle klagte teen haar behoorlik te ondersoek.

Dit is die mening van Lawson Naidoo, grondwetkenner van die waghondorganisasie Casac, nadat die parlement Woensdag die name van die drie lede van die paneel bekend gemaak het.

Regter Bess Nkabinde, ’n afgetrede regter in die konstitusionele hof, is die voorsitter van die paneel, wat sy werk en ’n verslag binne 30 dae moet afhandel.

Die ander twee lede is adv. Dumisa Ntsebeza SC, ’n senior advokaat, en adv. Johan de Waal SC, senior advokaat en akademikus.

Intussen het Masibulele Xaso, sekretaris van die Nasionale Vergadering (NV), Donderdag in ’n sitting van die programme-komitee gesê die speaker, Thandi Modise, sal binnekort aankondig wanneer die paneel met sy werk sal begin.

Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: DAILY SUN

Dit was nadat Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, duidelikheid daaroor gevra het. “Dit is hoogs onwaarskynlik dat hulle vanjaar nog sal begin omdat dit beteken dat hulle oor die feestyd sal moet werk en ’n verslag aan ons op Nuwejaarsdag moet gee. ’n Mens sou dus aanneem dat hulle in Januarie sal begin.”

Mazzone het bygevoeg dat dit ’n kwessie van nasionale belang en dringendheid is dat die paneel so gou as moontlik met die werk begin.

Xaso het gesê ’n presiese datum is nog nie vasgestel nie omdat voorlopige kwessies soos kontrakte eers afgehandel moet word.

“Die speaker sal binnekort nadere besonderhede bekend maak.”

Volgens Xaso sal die paneel self besluit hoe hy te werk sal gaan.

Mazzone, wat die mosie om Mkhwebane se verwydering vroeër vanjaar namens die DA ingedien het, het ná die sitting in ’n verklaring gesê haar party is verheug dat die parlement ná die aanstel van die paneel nog ’n stap nader daaraan is om Mkhwebane tot verantwoording te roep.

Intussen gaan Mkhwebane onverpoos voort om die parlementêre proses teen haar in sy spore te probeer stuit.

Uitspraak is Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad voorbehou in haar aansoek om te appelleer teen dié hof se uitspraak verlede maand, toe haar aansoek om só ’n interdik met koste van die hand gewys is.

Dit sal die eerste keer wees dat die verwydering van ’n sittende hoof van ’n art.9-instelling versoek word. Dit is ook die eerste keer dat die nuwe parlementêre proses so iets moontlik sal maak.

Mkhwebane het gehoop dié interdik sou die parlementêre proses teen haar tydelik stuit sodat sy haar aansoek

kan afhandel om die grondwetlikheid van die reëls, waarvolgens sy uit haar amp verwyder kan word, te betwis.

Naidoo het Donderdag die aanstelling van die onafhanklike paneel as ’n mylpaal vir Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie bestempel.

“Dit sal die eerste keer wees dat die verwydering van ’n sittende hoof van ’n art.9-instelling versoek word. Dit is ook die eerste keer dat die nuwe parlementêre proses so iets moontlik sal maak.”

Volgens Naidoo is die aanstelling van die paneel die begin van die eerste van ’n tweeledige proses om alle klagte teen Mkhwebane deeglik te ondersoek, sowel as om haar die geleentheid te bied om behoorlik daarop te reageer.

“Dit sal die parlement ook die geleentheid gee om alle bewyse teen Mkhwebane deeglik te oorweeg.

“Die verwydering van enige sittende hoof van ’n art.9-instelling moet egter nie ’n maklike ding wees om te doen nie. Dit is waarom die grondwet bepaal dat ’n meerderheid van twee derdes van alle LP’s in die Nasionale Vergadering dit moet steun.”

So werk die proses vir die onafhanklike paneel

Ingevolge die parlement se reëls om ’n sittende hoof van ’n art.9-instelling te verwyder, wat in Desember verlede jaar aanvaar is, is die onafhanklike paneel net aan die Grondwet, die landswette en die reëls onderworpe.

Die paneel mag sy eie werkwyse bepaal, mits dit streng binne die reëls is.

Hy moet binne 30 dae ’n voorlopige assessering doen om te bepaal of daar prima facie-gronde bestaan om ’n formele verwyderingsproses teen Mkhwebane te begin.

Die paneel sal enige LP die kans bied om relevante geskrewe of opgeneemde inligting binne ’n spesifieke tydsraamwerk voor te lê.

Hy sal ook sonder enige versuim afskrifte van alle beskikbare inligting rakende die assessering aan Mkhwebane moet verskaf en haar ’n billike tyd gun om skriftelik op alle relevante bewerings teen haar te reageer.

Luidens die reëls mag die paneel nie mondelinge verhore hou nie en sy assessering beperk tot die relevante geskrewe en opgeneemde inligting wat LP’s of Mkhwebane voor hom plaas.

Sy verslag aan die einde van die proses moet aanbevelings, asook ’n minderheidsmening van enige paneellid, insluit.

Sodra die paneel sy aanbevelings gemaak het, moet Modise reël dat die aanbevelings dringend deur die Nasionale Vergadering oorweeg word.

As die Nasionale Vergadering besluit dat ’n art.194-ondersoek teen Mkhwebane moet voortgaan, moet die kwessie na ’n komitee van LP’s verwys word wat ’n formele verwyderingsproses moet begin.

Modise moet pres. Cyril Ramaphosa ook inlig oor enige optrede of besluit wat uit die aanbevelings mag spruit.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Komitee  |  Ob  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.