Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Behoorlike plan vir veiligheid op plase nóú nodig – Agri SA

“Dit is die boere van die land se primêre verantwoordelikheid om voedsel te produseer en nie om nog in die nag te moet patrollie ry om hom en sy eiendom te beskerm nie.

“Dít is ’n direkte gevolg van die polisie se onvermoë om landsburgers effektief te beskerm,” meen Tommie Esterhuyse van Agri SA.

“Wreedaardige en sinnelose” plaasaanvalle het die afgelope maand verskeie landelike gemeenskappe geteister, sê Agri SA in ’n verklaring.

Tommie Esterhuyse

Daarom is ’n effektiewe landelike beveiligingstrategie en gepaardgaande polisiediens wat doelgerig plaasaanvalle en -moorde ondersoek en verdagtes voor die hof bring, nou kritiek nodig in Suid-Afrika, sê die landbou-organisasie.

Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: landelike veiligheid, het Dinsdag gesê daar was in Junie 27 aanvalle op plase en kleinhoewes, “bykans een elke dag”.

“Verskeie plaasaanvallers is gedood toe slagoffers hulself verdedig het.”

Hy het Agri SA se ernstig kommer oor die misdaadsituasie in landelike gebiede uitgespreek en die aanvalle op boerderygemeenskappe en ook misdaad teenoor gewone landsburgers ten sterkste veroordeel.

Die kwessie word as so ernstig beskou dat die DA Dinsdag ook ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen het om aan Suid-Afrikaners te verduidelik wat sy regering doen om die stygende aantal plaasaanvalle en -moorde stop te sit “wat al vir lank deur die regering geïgnoreer word”.

Dit op dieselfde dag wat Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag oor plaasaanvalle in die parlement gesê het dat die bekamping van moorde in enige sektor van die Suid-Afrikaanse samelewing ’n prioriteit vir die polisie is.

“Ons werk baie nou saam met plaasboere deur die plaasveiligheidsplan wat ons in Limpopo bekend gestel het. Ons probeer om dit uit te brei.”

Esterhuyse sê die regering moet die waarde van die landbou deeglik in ag neem met sy beleidsontwikkeling en sy modelle vir polisiëring in landelike gebiede.

Volgens hom is die onvolledige toepassing van die landelike beveiligingstrategie een van die bydraende faktore tot misdaad op plase.

“Daarom moet ’n omgewing daargestel word waarin die landbou sy rol effektief in landsbelang kan vervul.”

Hy sê Agri SA poog sedert Februarie om met die polisie in gesprek te tree oor die landelike beveiligingstrategie, en sien daarna uit dat ’n datum daarvoor gefinaliseer word.

Dianne Kohler Barnard, DA-LP en voorsitter van die party se kantoor oor landelike veiligheid, het Dinsdag gesê die DA het verlede week al vir ’n debat in die Nasionale Vergadering oor plaasaanvalle versoek, maar het nog geen antwoord daarop gekry nie.

Volgens Kohler Barnard was daar volgens TLU SA sedert 1 April vanjaar sowat 59 plaasaanvalle en 12 plaasmoorde landwyd en “lyk dit nie of die regering enigsins besorgd is daaroor nie”.

“Plaasaanvalle is ’n tweede pandemie in die land en die regering moes al lankal daaraan aandag geskenk het.

“Hy moet besef die krisis gaan nie verdwyn as hy aanhou om sy kop in die sand te steek en weier om die lot van derduisende bang en weerlose landelike Suid-Afrikaners aan te spreek nie.”

  • Intussen het pres. Cyril Ramaphosa in reaksie op ’n parlementêre vraag oor waarom die regering ook nie bykomende wetstoepassingspersoneel tydens die inperking ontplooi het om plaasaanvalle en -moorde te voorkom nie, gesê dat die polisie en verskeie rolspelers saamwerk aan die landelike beveiligingstrategie.

Ramaphosa se parlementêre antwoord is laat Dinsdagmiddag uitgereik.

Die strategie is volgens hom ’n ingryping wat die hulpbronne saamvoeg om veiligheid in landelike gebiede te verbeter.

“Die regering is verbind tot ’n benadering vir misdaadvoorkoming wat die lewe en eiendom van alle Suid-Afrikaners dieselfde ag en sal aanhou om wetstoepassers en ander hulpbronne te ontplooi.”

Meer oor:  Plan Plaasaanvalle  |  Veiligheid  |  Plaaswerkers  |  Misdaad  |  Beskerm  |  Plaasmoorde  |  Boere. Land
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.