Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bekommerde MRK neem plaasmoorde onder die loep

Die Menseregtekommissie (MRK) is erg bekommerd dat die “bewaarders” van voedselsekerheid in die land weens plaasaanvalle en -moorde onder beleg is.

Dit is waarom die MRK ook Senekal in die Vrystaat binnekort gaan besoek om te help om die huidige plofbare situasie daar ná die moord op die plaasvoorman Brendin Horner te probeer ontlont.

Die kommissie sal dan ook die breër probleem van plaasmoorde en moorde in die algemeen in Suid-Afrika met belanghebbendes bespreek om te help om met oplossings vorendag te kom.

Só het eerw. Chris Nissen, MRK-kommissaris, Vrydag aan die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê toe hy en ander MRK-kommissarisse saam met prof. Bongani Majola, MRK-voorsitter, ’n voorlegging oor die kommissie se prestasies en begroting verskyn het.

Nissen het gesê dat die MRK ’n subkomitee van drie kommissarisse bestaande uit hom, adv. André Gaum en adv. Jonas Sibanyoni saamgestel het wat moet kyk hoe hulle by veral die Senekal-situasie kan ingryp.

“Ons kantoor in die Vrystaat het die situasie gemonitor en geëvalueer, maar ons sal Senekal ook self vir verdere bemiddeling besoek.

“Ons wil die kwessie daar ook met al die politieke partye bespreek, maar ook die kwessie van plaasmoorde in die geheel.”

Ons wil die kwessie daar ook met al die politieke partye bespreek, maar ook die kwessie van plaasmoorde in die geheel.

Volgens Nissen is dit die MRK se standpunt dat een moord te veel is.

“Terselfdertyd moet ons egter ook spesiale aandag skenk aan wat elders in die land ten opsigte van moorde gebeur. Die Kaapse Vlakte gaan erg onder bendegeweld gebuk. Net in byvoorbeeld die Philippi- en Nyanga-gebied word tot 30 moorde per maand aangemeld.

Nissen het gesê dat die polisie se nasionale landelike veiligheidstrategie ook ondersteun en versterk moet word om plaasgemeenskappe beter te kan beskerm.

Sibanyoni het bygevoeg dat plaasmoorde landwyd aan die toeneem is.

“Ons het daarom besluit dat ons binnekort ’n webinaar met alle belanghebbendes oor plaasmoorde sal hou. Ons besluit nog net wie almal daarheen genooi moet word.”

Majola het aan die komitee gesê dat die kommissie se finansies reeds baie beperk is en dat voorgestelde besnoeiings aan sy begroting ’n ernstige uitwerking op sy werksaamhede gaan hê.

Volgens hom is die kommissie veral bekommerd omdat menseregte in die huidige onstuimige tye weens Covid-19 en die ekonomiese krisis al meer in gedrang gaan kom.

Hy het gesê dat polisiewreedheid, geslagsgeweld, diensleweringsprobleme en misdaad, ook onder wetstoepassers, rasse-polarisasie, werkloosheid en hongerte alles aan die toeneem is en dat dit ’n bedreiging vir menseregte inhou.

Ons het daarom besluit dat ons binnekort ’n webinaar met alle belanghebbendes oor plaasmoorde sal hou. Ons besluit nog net wie almal daarheen genooi moet word.

“Met die swak ekonomie is daar ook baie dinge waarmee die land reeds sonder sal moet klaarkom. Ons is bekommerd dat menseregte een daarvan sal wees omdat dit lyk asof dit van die maklikste dinge is om te ignoreer.”

Majola het benadruk dat as menseregte nie beskerm word nie, sal dit ook ontwikkeling in die land belemmer.

Meer oor:  Menseregtekommissie  |  Senekal  |  Brendin Horner  |  Chris Nissen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.