Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bekwaamste kaders moet dié poste kry - Cyril
Pres. Cyril Ramaphosa lewer Vrydagaand die ANC se 8 Januarie-verklaring. Foto: skermgreep

“Die bekwaamste kaders moet in posisies van verantwoordelikheid ontplooi word om goeie regering te help skep,” het pres. Cyril Ramaphosa Vrydag in sy hoedanigheid as ANC-leier gesê toe hy die organisasie se 8 Januarie-verklaring voorgelees het.

Hy het ook in dié toespraak erken swak regering veroorsaak agterstande met dienslewering.

Hoewel daar volgens Rama­phosa sedert 1994 vordering gemaak is om dienste aan almal te verskaf, is daar steeds agterstande met toegang tot elektrisiteit, water, sanitasie, huise en infrastruktuur.

Hy skryf dit toe aan “grootskaalse ongelykhede uit ons verlede”, maar ook aan “volgehoue swak regering, kapasiteit en finansiële bestuur op die verskillende regeringsvlakke”.

Hy het gevra dat wanadministrasie, korrupsie en swak regering in munisipaliteite “waar ons regeer” en op al drie regeringsvlakke getakel moet word.

“Die ANC moet die vertroue van mense bou deur progressief in hul behoeftes te voorsien, verantwoordbaar te wees teenoor gemeenskappe, die bekwaamste kaders in posisies van verantwoordelikheid te ontplooi en om openbare bronne eties te bestuur. Swakhede moet ook erken word.”

2 miljoen verloor hul werk

Hy het erken dat die ekonomie gedurende die pandemie ernstige skade opgedoen het en dat 2 miljoen mense hul werk verloor en tot onder die armoedelyn geval het.

“Oor die land heen het gemeenskappe te kampe met hoë vlakke van misdaad en geweld.

“Die gebrek aan veiligheid ondermyn hul welstand en strem sosiale en ekonomiese ontwikkeling.

“Ander sosiale probleme, soos dwelm- en alkoholmisbruik, dra by tot geweld en veroorsaak ongelukkigheid in baie families,” het hy gesê.

Oor die herverdeling van grond het hy gesê “die beleid van grondskenkings moedig instansies soos myne, sake-ondernemings en kerke aan om onderbenutte grond te skenk”.

Hy het die organisasie weer verbind tot die wysiging van art. 25 van die Grondwet om onder bepaalde omstandighede grond sonder vergoeding te kan onteien.

Steun steeds grondonteiening sonder vergoeding

Hy het egter ook genoem dat die “herverdeling van grond op ’n manier hanteer sal word wat ekonomiese groei en volhoubare voedselsekerheid bevorder”.

Gemarginaliseerde groepe, soos vroue, die jeug en gestremdes, moet ook voordeel daaruit kan trek.

Dit is van kritieke belang dat daar voldoende ondersteuning is vir diegene wat landbougrond bekom, sê Rama­phosa.

Wat grond vir verblyf betref, is dit belangrik dat dit gekoppel word aan die nodige ontwikkeling om te verseker dat plattelandse en stedelike mense in volhoubare menslike nedersettings woon wat naby ekonomiese geleenthede en sosiale infrastruktuur is.

ANC moet vernuwe

Oor die ANC het Ramaphosa gesê die organisasie moet vernuwe word en die integriteitskommissie gaan versterk word om beslissend te kan optree om korrupsie en wandade “in ons geledere te kan hanteer”.

Hy het herhaal dat diegene wat weier om vrywillig uit hul pos te tree terwyl daar ’n ondersoek teen hulle is, “onmiddellik geskors sal word”.

Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) gaan binnekort riglyne vir die inwerkingstelling hiervan afhandel.

“Slegs as ons verenig teen korrupsie staan, kan ons die integriteit van ons beweging herstel,” het hy gesê.

Oor die naderende munisipale verkiesing het hy gesê: “Ons gaan dit nie duld dat ANC-lede betrokke raak by skelm optrede, soos stemkopery, manipulasie van taklyste om poste te bekom of bevoordeling om stemme te kry nie.”

ANC soek sterk mandaat

Volgens hom is dit belangrik dat die ANC voortbou op onlangse suksesse in munisipale tussenverkiesings en ’n sterk mandaat kry.

Een van die prioriteite vir die jaar is om die Covid-19-pandemie te oorkom en die oogmerk is “die doeltreffende instelling van voorkomende maatreëls en ’n vinnige en doeltreffende program om die entstof aan alle mense te voorsien”.

Die versnelde beskikbaarstelling van 5G-tegnologie sal die ekonomie se mededingendheid verbeter en datakoste verlaag.

Boonop sal dit klein sakeondernemings en groot maatskappye se funksionering verbeter, het Ramaphosa gesê.

Energiesekerheid sal steeds ’n prioriteit wees en die fokus sal bly op die bou van “massiewe kapasiteit om elektrisiteit op te wek en te versprei”.

Die verslapping van regulasies om die opwekking van elektrisiteit deur munisipaliteite en ondernemings toe te laat, hou potensiaal vir heelwat beleggings en werkgeleenthede in, het hy gesê.

“Ons moet voortgaan om die lewenskoste van alle Suid-Afrikaners te verlaag deur openbare vervoer te verbeter en die koste van elektrisiteit, water, sanitasie en ander dienste te verlaag.”

Hierin het die private sektor ’n groot rol te speel.

“Groot maatskappye kan nie toegelaat word om hul markkrag te misbruik tot nadeel van verbruikers en kleiner ondernemings nie.”

Die pandemie het die noodsaak om nasionale gesondheidsversekering te versnel, bevestig. Dit sal volgens Ramaphosa die groot ongelykhede in gesondheidsorg verminder en help dat almal die sorg kry wat hulle benodig.

“Die verspreiding van waninligting en samesweringsteorieë oor Covid-19, die behandeling daarvan en die ontwikkeling van entstowwe moet aktief teengewerk word,” sê Rama-phosa.

Gesondheidswerkers sal die aanvanklike prioriteitsgroep wees vir die toediening van die entstof saam met ander voorsteliniewerkers, soos onderwysers en polisielede, asook ouer mense en diegene met onderliggende gesondheidsprobleme.

Daar gaan volgens hom steeds meer intensiewe veldtogte wees vir die bevordering van die teenverspreidingsmaatreëls. Daar sal ook voortgegaan word met die opsporing en toetsing van mense.

“Ons sal binne die land se vermoë voortgaan met maatskaplike ondersteuning aan kwesbare mense,” het Rama­phosa gesê.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  8 Januarie-Verklaring  |  Verklaring  |  Kaders  |  Toespraak  |  Swak Bestuur  |  Pandemie  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.