Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jy hoes behoorlik vir LP’s se verblyf
Patricia de LilleFoto: Adrian de Kock

Die belastingbetaler moet nou weens ’n gebrek aan roetine-instandhouding ’n verdere R95 miljoen opdok om huise waarin LP’s in Kaapstad gehuisves word, wéér op te knap.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het dit bekend gemaak in ’n parlementêre antwoord wat Maandagmiddag deur die parlement uitgereik is.

Dit is nadat Samantha Graham, DA-LP, vroeër by haar wou weet wat presies die besonderhede is van die beplande opknappingswerk by die drie parlementêre dorpe, en of kontrakteurs daarvoor al aangestel is. Sy wou ook weet wanneer die instandhoudingswerk begin.

De Lille het geantwoord dat die opknappingsprojekte bedoel is om aan die huidige bouregulasies vir elke wooneenheid te voldoen.

“Die omvang van die werk fokus hoofsaaklik op instandhoudingswerk wat gedoen moet word weens ’n gebrek aan periodiese of roetine-instandhouding van die geïdentifiseerde huise in die drie dorpe.”

Die omvang van die werk behels onder meer algemene gebou-opknappings en -instandhouding.

Verder gaan elektriese dienste gelewer word, terwyl alarm- en interkomstelsels opgeknap sal word om dit met die veiligheidstelsel by die hekke te verbind.

Strukturele werk sal ook gedoen word.

Badkamers sal opgeknap word om storte én baddens te verskaf, terwyl ander loodgieterswerk gedoen sal word waar nodig.

Kombuismeubels en -toestelle, sowel as dié in slaapkamers, asook deurhandvatsels, sal vervang word.

De Lille sê die opknappingswerk by Acaciapark sal R20,2 miljoen kos, dié by Pelicanpark R13 miljoen en by Laboriapark R11,2 miljoen.

Saam met die ander uitgawes sal alles altesaam sowat R95,9 miljoen kos.

Volgens De Lille sal die opknappingswerk vir elke huis sowat R361 882 beloop.

Volgens De Lille sal die opknappingswerk vir elke huis sowat R361 882 beloop.

Dit sluit kombuisopgraderings in wat in elke huis R37 450 sal kos, terwyl badkameropgradering elk R56 536 sal kos. Die opgradering van vloere sal R20 094 kos, die herstel van mure R39 834 en die vervanging van deure, vensters, diefwering, hekke en slaapkamerkaste sal sowat R11 923 per huis kos.

De Lille sê dat die herstelwerk aan plafonne R17 204 per huis sal kos, die herstel en skoonmaak van dakke, geute en pype R46 937, en die herstel van plaveisel, stormwaterkanale, tuinmure en hekke R26 174.

Elektriese opgradering in elke huis sal sowat R41 479 kos, terwyl nuwe sonpanele R19 270 en nuwe alarmstelsel R7 008 sal kos.

Volgens haar is daar aan alle relevante wetgewing vir die verkryging van bogenoemde dienste voldoen voordat die plan op 19 Augustus goedgekeur is. ’n Ope tenderproses is gevolg.

Volgens haar moet die aangestelde kontrakteur teen 13 Januarie aan alle veiligheidsvereistes voldoen én ook ’n volledige konstruksieskedule vir goedkeuring voorlê.

Vroeër is berig hoe De Lille in ’n ander parlementêre antwoord in Oktober gesê het dat die belastingbetaler die afgelope tien jaar gesamentlik meer as R460 miljoen moes opdok net vir die instandhouding van die drie parlementêre dorpe.

In dieselfde tydperk is meer as R37,3 miljoen ook bestee aan meubels en elektroniese toestelle vir die huise. Bogenoemde het nie die miljoene rande ingesluit wat terselfdertyd ook aan ander goedere tot voordeel van LP’s daar bestee is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.