Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Belegging-konferensie lewer R290 miljard op

Die internasionale beleggingskonferensie wat Vrydag in Sandton, Johannesburg gehou is, het beleggings van sowat R290 miljard vir Suid-Afrika opgelewer.

Dit is volgens pres. Cyril Ramaphosa ’n welkome hupstoot vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en kan lei tot duisende nuwe werksgeleenthede in die land.

Onderhandelinge is nog aan die gang om ’n bykomende R400 miljard se beleggings te verseker, het ’n trotse Ramaphosa vroeg Vrydagaand in sy afsluitingstoespraak gesê. 

Voorts het die Amerikaanse tegnologiereus Amazon  aangekondig dat hy in 2020 bykomende datasentra in Suid-Afrika gaan open. 

Vroeër vanjaar het verskeie lande saam sowat $35 miljard se beleggings beloof. 

Sowat 1 300 beleggers het die konferensie in die Sandtonse konferensiesentrum bygewoon. Onder hulle was die wêreldbekende Chinese filantroop en belegger Jack Ma wat die konferensie op uitnodiging van Ramaphosa bygewoon het.

Die grootste beleggings kom van onder meer Vodacom (R50 miljard), die New Development Bank van die Brics-groepering (R29 miljard), Sanral (R9,5 miljard in die Oos-Kaap), die Suid-Afrikaanse motorvervaardigersorganisasie (R40 miljard), Sappi (R7,7 miljard), Mondi (R8 miljard), Vedanta (R21,4 miljard) en Mercedes-Benz (R10 miljard).

Die konferensie was deel van Ramaphosa se plan om in die volgende vyf jaar $100 miljard se beleggings na Suid-Afrika te lok.

“Daar is die laaste paar jaar gesê daar is ’n beleggingsboikot teen Suid-Afrika. Daardie boikot is duidelik nou verby!” het die president gesê.

“Namens alle Suid-Afrikaners sê ek dankie, dankie, dankie.

“Hierdie beleggingskonferensie het ons stoutste verwagtinge oortref.

Daar is die laaste paar jaar gesê daar is ’n beleggingsboikot teen Suid-Afrika. Daardie boikot is duidelik nou verby!

“Julle het nou gewys julle beskou en erken Suid-Afrika as  ’n beleggingsbestemming waar julle geld op jul beleggings kan verdien,” het Ramaphosa gesê.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie het hierdie hupstoot baie nodig.”

Die president sê baie van die beleggers het teenoor hom opgemerk hulle het die Suid-Afrikaners wat aan die konferensie deelgeneem het as baie patrioties ervaar.

“Ons praat nou met een stem en trek in dieselfde rigting,” het Ramaphosa opgemerk.

“Ons sal bly luister na wat hulle as beleggers vir ons sê. Die vier gesante wat ek oor die hele wêreld heen gestuur het om vir ons beleggings te gaan soek, het reguit vir ons kom sê wat julle pla en ons het daaraan aandag gegee.”

Die president sê die aankondiging van Amazon beteken “die vierde nywerheidsrevolusie” is nie meer in Suid-Afrika net ’n term nie. Dit is nou ’n werklikheid.

Hy sê Afrika bied vir beleggers ook groot moontlikhede noudat dié vasteland op ’n vryehandelsgebied besluit het.

“Daar is ook vir Suid-Afrikaanse maatskappye baie geleenthede in Afrika. Ons sal, en ek sê dit in alle nederigheid, met Afrika saamwerk om ons vasteland te help om ook op ekonomiese gebied te ontwikkel. Dit sal goed vir ons almal wees as Afrika ontwikkel,” sê Ramaphosa.

Daar is ook vir Suid-Afrikaanse maatskappye baie geleenthede in Afrika. Ons sal, en ek sê dit in alle nederigheid, met Afrika saamwerk om ons vasteland te help om ook op ekonomiese gebied te ontwikkel.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, het Vrydagmiddag op ’n mediakonferensie gesê hy is baie opgewonde oor die beleggings van sowat R100 miljard wat die mynbedryf ontvang het.

“Dit wys die mynbedryf is weer stabiel,” sê die minister.

Derek Hanekom, minister van toerisme, sê toerisme en die rolprentbedryf in Suid-Afrika hou groot voordele vir beleggers in.

Om meer beleggers te lok is daar besluit om visumvereistes aan te pas en dit makliker vir mense te maak om Suid-Afrika te besoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.