Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Beleid gee leiding oor ‘4de nywerheidsrevolusie’

Suid-Afrika gaan die eerste keer ’n omvattende beleidsrigting kry wat die land in staat sal stel om hom beter voor te berei op die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie (VNR).

Die witskrif oor wetenskap en tegnologie, wat reeds verlede week deur die kabinet goedgekeur is, gaan Suid-Afrika volgens Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van wetenskap en tegnologie, nou in staat stel om doeltreffender met die ontwikkelde wêreld mee te ding rakende outomatisering, digitalisering en innovasie.

Kubayi-Ngubane het Maandag in Pretoria met die bekendstelling van die witskrif dit as ’n “mylpaal” beskryf, veral omdat dit fokus op die groter inspanning van wetenskap en tegnologie om inklusiewe ekonomiese groei en transformasie te bespoedig, die ekonomie mededingender te maak en landsburgers se daaglikse lewe te verbeter.

Mmamoloko Kubayi-NgubaneFoto: Daily Sun

Die publiek het 30 dae om daarop kommentaar te lewer. Daarna sal ’n beraad met belanghebbendes op 9 November plaasvind, voordat die witskrif vir finale goedkeuring aan die kabinet voorgelê sal word.

Kubayi-Ngubane sê die VNR verander die wyse waarop mense met mekaar skakel, sake doen en leer, en dat dit reeds baie gevorderd in die ontwikkelde wêreld is.

“Om Suid-Afrika in staat te stel om doeltreffend in hierdie nuwe wêreldorde – wat al hoe meer outomatisering en digitalisering meebring – te kan deelneem, het die departement hierdie nuwe beleidsdokument ontwikkel.

“Die nuwe konsepbeleid fokus op twee hoofdoelwitte, naamlik om te verseker dat Suid-Afrika voordeel trek uit wetenskap, tegnologie en innovasie vir ekonomiese groei, maatskaplike ontwikkeling en transformasie.

“Dit is ook om te reageer op die risiko’s en geleenthede vanweë vinnige wêreldwye tegnologiese vooruitgang en veranderinge.”

Volgens die minister neem die witskrif ook ’n aantal mega-tendense in ag wat oor die geopolitiese, ekonomiese, maatskaplike, tegnologiese en omgewingsfere strek.

“Hierdie mega-tendense sluit in ’n groeiende bevolking, verhoogde verbruik deur ’n groeiende middelklas in opkomende ekonomieë, die opkoms van China en Indië en die impak op die natuurlike omgewing.”

Kubayi-Ngubane meen sommige van hierdie tendense skep geleenthede, veral vir jeugdiges.

“Suid-Afrika kan voordeel trek uit hierdie geleenthede deur tegnologie te gebruik om sektore soos die landbou en mynbou te moderniseer en om ons uitvoer na groeiende markte te verhoog.”

Volgens haar dryf vinnige tegnologiese veranderinge sommige mega-tendense om ’n wêreld te vorm wat binnekort baie anders sal lyk.

Sy sê dat die lyne tussen fisieke, digitale en biologiese stelsels ook al hoe meer vervaag, terwyl regerings wêreldwyd beplan vir die uitwerking van die VNR.

“Tradisionele werksgeleenthede gaan reeds weens outomatisering verlore en tradisionele handel word ontwrig deur die skuif na aanlyn handel met verpersoonlikte dienste en produkte. Die rol van kripto-geldeenhede in die digitale ekonomie is onseker. Die moontlikhede is opwindend en die gevolge groot.”

Die witskrif stel onder meer ingryping deur beleid voor om vaardigheidsontwikkeling te bespoedig, die IKT-sektor te beïnvloed, navorsing te ondersteun, sowel as om meganismes te skep om staatsdepartemente saam te laat beplan rakende wetenskap en tegnologie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.