Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Bell Pottinger het heeltyd geweet’

Senior amptenare van die Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger het doelbewus hul bande met die omstrede Gupta-broers weggesteek vir hul medewerkers – veral van dié met kennis van Suid-Afrika.

Daniel Thöle, ’n voormalige werknemer van Bell Pottinger. Foto: PRWeek.com

Daniel Thöle, ’n senior vennoot van die maatskappy wat kort ná die Gupta-debakel uit protes bedank het, sê hy het die meeste van die rekeninge van Bell Pottinger se Suid-Afrikaanse kliënte, veral groot mynhuise, hanteer omdat hy Suid-Afrika so goed ken.

Hy is self ’n Suid-Afrikaner.

Thöle sê hy het verwag dat sy kollegas hom raad sou vra oor kwessies soos die Gupta-rekening – maar hulle het dit aktief van hom probeer weerhou.

Lord Tim Bell, voormalige voorsitter en stigter van Bell Pottinger, het die kontrak met die Gupta-broers reeds in Januarie 2016 beding, maar Thöle het eers in April 2016 daarvan uitgevind.

“Hulle het toe agtergekom: “O, f*k, waarvoor het ons ons hier ingelaat?””

Dit was nadat Bell Pottinger ontmasker is as die agentskap wat die “witmonopoliekapitaal”-veldtog namens die Guptas dryf. Die veldtog moes die aandag van hul bedenklike sakepraktyke aflei deur “wit monopoliste” as die ware probleem te brandmerk.

Thöle sê hy het nadat hy van die kontrak te hore gekom het ’n formele vergadering met die bestuur gereël om die risiko’s te verduidelik en sy misnoeë uit te spreek. Teen Junie 2016 het hy gedreig om te bedank en in Oktober 2016 was hy sak en pak terug in Suid-Afrika.

“Dit het gegaan oor die fundamentele kwessie van jou reputasie. Ek sou hardop begin lag het in vergaderings waar bestuurslede kom sê het hoe oulik en gaaf die Guptas is.”

James Henderson, voormalige uitvoerende hoof van Bell Pottinger, het die afgelope week aan The New Yorker gesê hy is nie “voldoende ingelig” oor die Guptas se reputasie tydens die eerste paar maande van hul kontrak nie. Dit ten spyte daarvan dat die Gupta-broers al teen Maart 2016 amper daagliks in die nuus was nadat Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, onthul het dat die Guptas hom die pos van minister van finansies aangebied het.

Bell het voorheen aangevoer Henderson het heeltyd geweet watter vuilwerk die firma vir die Guptas doen.

Thöle sê as sy kollegas sy raad oor die Guptas gevra het, sou hy eenvoudig gesê het: “Bly weg.”

Volgens Thöle het Bell Pottinger die Oakbay-kontrak gekry deur Victoria ­Geoghegan, wat die kontrak hanteer het, se “diep konneksies in Suid-Afrika”. Haar pa, Christopher, was voorheen die hoof van ’n verdedigingsmaatskappy, wat in 2006 een van Suid-Afrika se grootste buitelandse beleggingsfasiliteerders was.

Geoghegan is in 2017 deur Bell Pottinger afgedank.

Die firma is in September onder administrasie geplaas nadat een groot kliënt ná die ander die firma afgedank het.

“Daar was baie goeie mense ook by Bell Pottinger, en hulle het onbillik as gevolg van die hele petalje skade gely.”

Thöle bestuur nou sy eie maatskappy.

“Hierdie was ’n klomp fantasties arrogante mense wat enigiets vir geld sou doen,” sê hy van sy voormalige kollegas.

Meer oor:  Skakelmaatskappy  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.