Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Beserings aan diens: 14 000 eisers wag nog

Mediese diensverskaffers is landwyd op hul knieë en het reeds begin om werknemers af te lê omdat die vergoedingsfonds sedert Augustus vanjaar nog geen eise vir beserings aan diens verwerk of uitbetaal het nie.

Werkers wat beseer word, word self deur ’n krisis in die gesig gestaar omdat al hoe meer instansies hulle nie wil behandel nie omdat hulle nie seker is wanneer/en of hulle betaling van die vergoedingsfonds sal ontvang nie.

Verskeie dokters asook maatskappye wat omskakelingsfinansiering bied, sê na raming is 14 000 eise ter waarde van R800 miljoen uitstaande.

Die omskakelingsfinansierders dien namens mediese diensverskaffers eise aan die fonds in en betaal dan gewoonlik binne 14 dae self die mediese diensverskaffers.

Ongeveer 90% van die eise word deur hierdie omskakelingsfinansierders gehanteer.

Twee woordvoerders van sulke maatskappye sê hulle betaal die eise uit wanneer die eis op die vergoedingsfonds se stelsel geregistreer en goedgekeur is.

Ons kan dit eenvoudig nie bekostig nie, radioloë weier al lankal om werkbeserings te hanteer.

Omdat dié stelsel reeds sedert Augustus buite werking is, kan hulle nie die diensverskaffers betaal nie en dié is nou in ’n geldelike verknorsing.

Volgens een van die omskakelingsfinansierders het die departement van arbeid ’n jaar gelede begin om van die uMehluko-stelsel na die moderne eCoid-stelsel oor te skakel.

Die ou stelsel is op 15 Augustus vanjaar afgeskakel en die nuwe stelsel sou op 1 Oktober aktief wees.

Sedert 12 September is ouer eise wat reeds verwerk is, ook nie betaal nie, sê van die mediese diensverskaffers.

Die omskakelingsmaatskappye is self in die knyp omdat hulle geen diens kan lewer nie en dus geen inkomste verdien nie.

Ongeveer 1 200 mediese en administratiewe poste is in gedrang, sê ’n maatskappywoordvoerder.

“Die ergste is, die fonds het miljarde rande en is solvent; dit gaan oor die administrasie. Elke keer wanneer hulle ’n nuwe stelsel implementeer, vererger die probleme,” sê ’n ander maatskappy se woordvoerder.

Dokters, hospitale en ander mediese diensverskaffers sê al hoe meer instansies is huiwerig om mense te behandel wat aan diens beseer is.

“Ons kan dit eenvoudig nie bekostig nie, radioloë weier al lankal om werkbeserings te hanteer,” sê een dokter.

Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa) het Maandag in ’n mediaverklaring gesê weens die aantal klagtes wat hy van werkgewers ontvang, het hy self na die stand van sake in die vergoedingskommissaris se kantoor ondersoek ingestel.

Die departement van arbeid het onderneem om Maandag ’n mediaverklaring uit te reik, maar dit is met die publisering hiervan nog nie gedoen nie.

Gerhard Papenfus, hoof van Neasa, sê werkgewers is geweldig gefrustreerd oor die onbevoegdheid en gebrek aan dienslewering van die fonds.

Neasa sê miljarde rande word in die koffers van die vergoedingsfonds gestort sonder dat enige diens gelewer word. Dié onbevoegdheid het ’n regstreekse impak op die manier waarop werkgewers hul ondernemings bedryf.

Volgens Neasa verloor ondernemings hul sertifikate van goedkeuring en mediese praktisyns weier om beseerde werkers te behandel omdat hulle nie betaal word nie.

Neasa sê dit is duidelik dat die vergoedingsfonds agteruitboer en besig is om tot ’n disfunksionele leë dop sonder enige aanspreeklikheid te verval.

Ondanks pogings van Neasa om op die hoogste vlak met die regering oor die krisis te skakel, val sy pleidooie op dowe ore.

Neasa sê dringende skrywes wat aan die minister van arbeid gerig is, is nooit beantwoord nie.

Papenfus sê die feit dat dié departement nie met werkgewers wil skakel nie, het Neasa nou gedwing om die krisis openbaar te maak.

Die mediese diensverskaffers en omskakelingsfinansierders het op voorwaarde van anonimiteit met Netwerk24 gepraat omdat hulle vrees dat dit hul ondernemings sal benadeel.

Die departement van arbeid het onderneem om Maandag ’n mediaverklaring uit te reik, maar dit is met die publisering hiervan nog nie gedoen nie.

Meer oor:  Gesondheidsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.