Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Besetting gebeur net te glad en gou’

’n Druiweboer van Stellenbosch se dringende aansoek om mense wat plakkershutte teen ’n stink spoed op sy grond oprig, te stop, gaan Maandag deur regter John Hlophe in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word.

Sinkstrukture skiet soos paddastoele op net nadat die gate vir die ankerpale gegrawe is. Foto’s: Edrea du Toit

Die boer, wat om veiligheidsredes nie sy naam gepubliseer wil hê nie, het gisteroggend reeds die hof genader, maar Hlophe het beslis dit is nie dringend genoeg om oor die naweek aan te hoor nie.

Die boer se plaas lê teen die Papegaaiberg langs Stellenbosch se Kayamandi-woonbuurt. Die plaas beslaan 60 hektaar, maar hy huur ook ’n bykomende 60 hektaar van die munisipaliteit, ’n ooreenkoms wat volgende jaar Februarie verval. Die onwettige strukture word tans op sy eie grond opgerig.

Hy glo die onwettige besetting van die grond word moontlik aangevuur deur die onlangse uitsprake van pres. Cyril Rama­phosa dat die ANC die Grondwet wil verander om grondonteiening sonder vergoeding makliker te maak.

‘Die plek langs my plaas lyk soos ’n konstruksie-perseel.’

“Op die dorp is ’n paar EFF-manne wat nou rondhardloop en ook moedswillige raadslede wat net wil opstook.

“Dié toedrag van sake vertraag die hele proses vir ontwikkeling omdat die rassekaart gespeel word.”

Hy sê die munisipaliteit het ambisieuse planne vir die uitbreiding van Kayamandi, wat ’n hospitaal en skool insluit. Hy sê as die huidige onwettige besettings sou voortgaan, sal dit al hierdie planne beduiwel.

Die onwettige bouery op die plaas aan die agterkant van Kayamandi en voor die grens (die ry bome) van die buurplaas Middelvlei.

Een van die eienaars van die buurplaas Middelvlei het gister aan Rapport gesê ook sy draadheining is die vorige nag vir die soveelste keer geknip. Hy sê hy het reeds miljoene bestee aan elektriese heinings en sekuriteitswagte. Hy vrees vir sy lewende hawe, sê hy.

Volgens Ben Johnson, die eienaar se skoonseun, hoor jy snags net “hamerslae en sinkplaatgeraas”. Hy sê boere se wingerdpale word gesteel vir die onwettige bouery.

Hy het Rapport na die grensdraad op ’n koppie langs Papegaaiberg geneem, waar mense gister steeds besig was om houtpale in te kap en blink sinkplaat vas te timmer.

“Die plek langs my plaas lyk soos ’n konstruksieperseel.”

Middelvlei het miljoene rande bestee om die onwettige besetters uit te hou, maar dan en wan word die grensdraad geknip en pale van die wingerde gebuit.

Hy sê ’n mens kan duidelik sien dat dit ’n georkestreerde optrede is.

“Dinge gebeur net te glad, en die strukture word op georganiseerde manier opgerig.

“Hier staan soms selfs baie blink motors rond. Ek verstaan strukture word teen R350 stuk aan mense gegee en dat prominente ANC-manne glo betrokke is.”

Hy sê die polisie steur hulle nie aan hul klagte nie of daag ure later eers op.

Ook in die Vrystaat
Sowat 100 inwoners van die Monyakeng-buurt buite Wesselsbron in die Vrystaat het die afgelope week begin om erwe op ’n stuk grond wat ’n boer vir weiding huur, met klippe uit te merk. Netwerk24 het toe berig dat die boer, Johannes de Villiers, glo die besetting volg ná Ramaphosa se aankondiging oor grondonteiening.

Met Rapport se besoek aan die gebied gister het mense voorafvervaardigde sinkpanele aangedra.

Sommige het na die uitbreiding verwys as “Azania”.

Alle navrae is na ’n segsman, ene “Wa­nana” of “Zola” verwys. Niemand wou egter sê waar Wanana of Zola te vinde is nie.

Volgens Stellenbosch se burgemeester, adv. Gesie van Deventer, is die onwettige bouery op private grond.

“Ons het ’n bevel teen die besetting van munisipale grond. Indien dit verontagsaam word, sal ons nie huiwer om op te tree nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.