Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Beskerm burgerlike vryheid, vra DA

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, vra dat die parlement ’n ad hoc-komitee saamstel wat moet verseker dat burgerlike vryheid tydens die landwye inperking weens Covid-19 beskerm word.

Steenhuisen het Sondag in ’n verklaring gesê hy het Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), gevra dat sy dié komitee saamstel om toe te sien dat burgerlike vryheid nie gedurende die 21 dae lange inperking geskend word nie.

Steenhuisen
John Steenhuisen, tussentydse DA-leier. Foto: Felix Dlangamandla

“Die DA het aan Thandi Modise geskryf en gevra dat sy ingevolge reël 253 (1) (b) van die NV ’n ad hoc-komitee aanstel om deurlopend toesig oor die nasionale uitvoerende gesag en staatsentiteite te hou en te verseker dat burgerlike vryheid deurentyd beskerm word,” sê Steenhuisen.

“Vandeesweek was daar reeds berigte oor brutaliteit aan die hand van weermaglede wat oor Suid-Afrika heen ontplooi is. Daar word onder meer beweer dat soldate op inwoners losgebrand en onnodig geweld gebruik het.

Minagting van burgerlike vryhede

“Dit is onaanvaarbaar en kommerwekkend, want dit is minagting van die burgerlike vryhede van Suid-Afrikaners,” sê Steenhuisen. Enkele gevalle van polisiegeweld is op sosiale media gedeel nadat die inperking Donderdag om middernag ingetree het.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum het ’n klag by die polisie ingedien ná ’n voorval waarin die News24-verslaggewer, Azarrah Karrim, in die kruisvuur beland het toe die polisie rubberkoeëls vuur om mense wat in die strate van Yeoville in Johannesburg rondgehang het, uiteen te jaag.

Daar was ook ’n voorval in die Wes-Kaap waarby die polisie en ’n fotograaf betrokke was. Die fotograaf is gedreig terwyl ’n video geneem is van hoe die polisie op mense wat in die openbaar drink, toeslaan.

Die media lewer ’n noodsaaklike diens en mag gedurende die inperking buite rondbeweeg.

Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, het Sondag ’n video getwiet van die polisie wat inwoners op hul erwe in hul huise injaag.

Die Wet op Rampbestuur verbied egter niemand om buite op hul erf te wees tydens die inperking nie.

Mbalula sal met polisie praat

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het op Maimane se twiet gereageer en bevestig dat landsburgers wel tydens die inperking buite op hul erf mag wees. Mbalula het bygevoeg dat hy met die polisie sal praat om te verseker dat hulle weet wat die regte prosedures is.

Intussen het die Hola Bon Renaissance (HBR)-stigting dokumente by die konstitusionele hof ingedien. Hulle wil verlof vra teen pres. Cyril Ramaphosa se afkondiging van die inperking. Die stigting wil hê die hof moet verklaar dat Ramaphosa die Grondwet oortree en sy magte misbruik het toe hy dit afgekondig het.

Sontaga Seisa, woordvoerder van die onafhanklike ondersoek, het gesê hy kan nie onmiddellik reageer op navrae oor of daar klagte van die publiek aan die polisiewaghond gestuur is nie.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Polisiegeweld  |  Demokratiese Party
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.