Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Beskerm poste by SAL, vra SAKP en opposisie

Alle vakbonde in Suid-Afrika moet ongeag hul affiliasie verenig om poste by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), én ander staatsbeheerde ondernemings, te beskerm, sê die SAKP.

Die ANC-alliansievennoot het dié oproep Donderdagmiddag gemaak toe hy sy teleurstelling uitgespreek het met die regering se besluit om die SAL in vrywillige sakeredding te plaas.

Ook opposisiepartye het Donderdag gevra dat poste by die SAL nie weens die sakeredding in die slag moet bly nie.

Dr. Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder, eis in ’n verklaring ’n deeglike ondersoek na wat presies die SAL in sy huidige krisis gedompel het.

Mashilo het ook gevra dat alle vakbonde saamstaan om die SAL as ’n staatsbeheerde bate en werkgeleenthede te beskerm.

Numsa en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kajuitpersoneel (Sacca) – die twee vakbonde wat die onlangse staking by die SAL aangedryf het wat die lugdiens verder op sy knieë gedwing het – het Donderdag gesê hulle neem kennis van die aankondiging dat die SAL in sakeredding is. Hulle sal later volledig daarop reageer.

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, sê die sakeredding skok nie die EFF nie omdat dit deel is van “die breër selfopgelegde strukturele hervormingsprogram weens korrupte makro-ekonomiese beleid in die hande van Pravin Gordhan (minister van openbare ondernemings) en Tito Mboweni (minister van finansies)”.

Die EFF sê hy het geen hoop dat die vrywillige sakeredding ’n ander uitslag sal bewerkstellig vir die SAL nie.

Die party eis dat die “onbevoegde” Gordhan en die SAL-direksie onmiddellik bedank.

Ons grootste kommer is dat die SAL-personeel nie moet ly weens swak besluite van die bestuur en die uitvoerende gesag nie.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het Donderdag by die parlement gesê pres. Cyril Ramaphosa het geen ander keuse gehad as om die SAL in sakeredding te plaas nie.

“Ons grootste kommer is dat die SAL-personeel nie moet ly weens swak besluite van die bestuur en die uitvoerende gesag nie.”

Mazzone sê die DA hoop dat rasionaliteit eerder as ideologie voortaan sal seëvier en dat ’n openbare/private vennootskap soos in die res van die wêreld die SAL se voorland sal wees.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, het die sakeredding as “ ’n hartseerdag” beskryf. Hy sê die SAL is die eerste staatsentiteit wat in sakeredding geplaas word, maar Eskom en die ander sal volg omdat dit die gevolg van staatskaping en korrupsie is.

“Ons herhaal ons oproep aan die regering dat wat ook al met die SAL gebeur, werkers nie hul werk verloor nie. Werkers kan nie betaal vir die sondes van (oudpres. Jacob) Zuma en die Guptas nie,” sê Bloem.

Mzamo Buthelezi, IVP-LP, sê sy party ondersteun die “dapper en beslissende” stap om die SAL in sakeredding te plaas.

“Ons moet egter verseker dat hierdie proses nie tot werkverliese lei nie omdat werkers met hul baie min invloed gewoonlik die spit afbyt weens die mislukkings en besluite van die topbestuur.”

Intussen het Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), wat ’n geskeduleerde sitting met die SAL Donderdag weens die sakeredding uitgestel het, gesê die komitee verstaan dat die sakeredding die enigste volhoubare roete is om ’n onbeheerde inploffing van die SAL te vermy.

Meer oor:  Sakeredding  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.