Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Besluit oor vlak 1 kom dalk gou, maar niks nog seker

Hoewel die regering se planne vir die inperking wat in Mei uitgereik is, ’n aanduiding kan gee oor wat om in vlak 1 te verwag, is daar nog geen duidelikheid nie.

So sê Lungi Mtshali, woordvoerder van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wat as die minister van samewerkende regering en tradisionele sake die regering se veldtog teen die pandemie lei, Donderdag by navraag.

Dit lyk al hoe waarskynliker dat die Covid-19-bevelsraad en die kabinet in die komende week ’n afskaling van die inperking sal oorweeg.

Pres. Cyril Ramaphosa het dit Woensdag in ’n aanlyn vergadering met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) laat blyk dat prosesse onderweg is om aanbevelings aan die Covid-19-bevelsraad te doen oor die regulasies wat ingevolge vlak 1 verslap kan word.

Voorleggings oor die regulasies deur geloofsleiers, mense in die vermaakbedryf en die sport- en toerismebedryf is deur die bevelsraad ontvang.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag aan Radio Islam gesê die kwessie oor vlak 1 word oorweeg, maar het benadruk dat geen besluit nog geneem is nie.

Die proses om die regulasies gewysig te kry is ingewikkeld omdat verskeie staatsdepartemente daarby betrokke is en omdat daar bepaal moet word hoe wysigings aan ’n gegewe regulasie die waardeketting van die ekonomie sal raak.

Hy voel optimisties oor die getal nuwe koronvirusinfeksies wat die afgelope twee weke nie toegeneem het nie ten spyte daarvan dat die land verlede maand van vlak 3 na vlak 2 van die inperking beweeg het.

Mtshali benadruk dat die bevelsraad nog nie vergader het om wysigings aan die regulasies te oorweeg nie. Hy weet self nog nie watter regulasies gewysig kan word nie.

“Die proses om die regulasies gewysig te kry is ingewikkeld omdat verskeie staatsdepartemente daarby betrokke is en omdat daar bepaal moet word hoe wysigings aan ’n gegewe regulasie die waardeketting van die ekonomie sal raak,” sê Mtshali.

Ingevolge die regering se risiko-aangepaste strategie mag alle reise per lug en see in vlak 1 hervat, wat beteken dat internasionale reise weer sou kon plaasvind.

Alle beperkings op die beweging van mense sal ook opgehef word, wat beteken die aandklokreël wat tans geld tussen 22:00 en 04:00 sal geskrap word.

Volgens Mtshali sal die bevelsraad dit moontlik ook oorweeg om die regulasies te wysig in verband met betogings, wat tegnies gesproke nie tans mag plaasvind nie.

Wysigings aan die regulasies oor sportbyeenkomste en oor beperkings op die getal mense by geloofsbyeenkomste sal ook waarskynlik ter tafel gelê word.

Ander regulasies wat dalk ter sprake sal kom, is die beperkings op die verkoop van alkohol en die heropening van nagklubs.

Ingevolge die plan van die departement van hoër onderwys sal alle universiteitstudente ook in vlak 1 mag terugkeer na kampusse. Tans word net 66% van studente op universiteitskampusse toegelaat.

Sekere regulasies soos die beperkings op die getal mense op ’n gegewe plek en die dra van maskers, en om ’n gesonde afstand te behou, sal waarskynlik bly geld.

Maar ons sukses sal beperk wees solank ons volhou met die beperkings op die ekonomie. Die beperkings moet opgehef word. Ons moet alle sektore van die ekonomie heropen en internasionale reise toelaat in ooreenstemming met duidelike gesondheidsmaatreëls en die erkenning van individuele verantwoordelikheid.

Intussen neem druk op die regering toe om die afskaling van die inperking deur te voer nadat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag bekend gemaak het dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die tweede kwartaal – die strengste tyd van die inperking – met 51% gekrimp het op ’n jaargrondslag.

Luidens ’n verklaring van die kabinet het hulle Woensdag op ’n vergadering besluit om die nasionale ramptoestand, wat op 15 September sou verstryk, weer met ’n maand te verleng.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Donderdag in ’n verklaring gesê die provinsiale regering het reeds planne beraam om die Wes-Kaapse ekonomie ’n hupstoot te gee.

“Maar ons sukses sal beperk wees solank ons volhou met die beperkings op die ekonomie. Die beperkings moet opgehef word. Ons moet alle sektore van die ekonomie heropen en internasionale reise toelaat in ooreenstemming met duidelike gesondheidsmaatreëls en die erkenning van individuele verantwoordelikheid,” sê hy.

Die Wes-Kaapse wetgewer sal Donderdag vergader om amptelik standpunt oor die inperkingsvlak in te neem. Winde sê daar moet steeds ’n balans gehandhaaf word tussen die belange van die ekonomie en die verspreiding van die koronavirus in die land.


Meer oor:  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Inperking  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.