Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Beste' munisipaliteit in Noordwes kry 4 uit 10

In die land van die blindes is eenoog koning.

Dié spreekwoord is toepaslik te oordeel na AfriForum se power rapporte vir munisipaliteite in Noordwes. Die “beste” munisipaliteit in dié lendelam provinsie, J.B. Marks, het die twyfelagtige voorreg om ’n teleurstellende 4 uit 10 punte te behaal. J.B. Marks bedien die Potchefstroom- en Ventersdorp-omgewing.

AfriForum het Dinsdag met die bekendstelling van sy nuwe sentrum vir plaaslike regering Noordwes se munisipale indeks bekend gestel. Die sentrum wil hom landwyd daarop toespits om probleme by plaaslike munisipaliteite te identifiseer en dit met private vennootskappe te help oplos.

Die indeks word bepaal deur verskeie aspekte te bekyk wat lewensgehalte en die vlak van dienslewering in ’n bepaalde munisipale beïnvloed. Die meeste munisipaliteite in Noordwes se (gebrekkige) prestasie lê tussen een en twee uit tien. Volgens die indeks is die Ratlou-munisipaliteit in die Delareyville-omgewing die swakste met ’n punt van 0,5 uit 10.

Inwoners van die Setlagole-nedersetting in die Ratlou-munisipaliteit staan tou vir water. Foto: Mathews Lonkokile, Argief

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê die sentrum wil volhoubare oplossings vind vir Noordwes-munisipaliteite (en ander landwyd) wat “in die waakeenheid lê.

“Munisipale dienslewering in Noordwes gaan vinniger agteruit as wat die regering en tesourie kan intree.”

Dr. Eugene Brink, bestuurder van AfriForum se sentrum vir plaaslike regering, sê werkloosheid en die swak ekonomiese klimaat wat ontstaan weens vrot plaaslike bestuur lei uiteindelik tot ernstige sosio-ekonomiese probleme en oproer.

Dr. Eugene Brink, bestuurder van AfriForum se sentrum vir plaaslike regering, Dinsdag met die bekendstelling van dié nuwe sentrum.

“Swak vullisbestuur, gereelde onderbrekings in watertoevoer en veral korrupsie kom wyd in Noordwes se munisipaliteite voor. Nie een munisipaliteit hier het (die laaste boekjaar) ’n skoon oudit gekry nie. Die munisipaliteite kan nie hul grondwetlike mandaat om basiese dienste te verskaf nakom nie.”

AfriForum wil die indeks ook gebruik om die publiek ingelig te hou sodat druk op die owerhede geplaas kan word om aandag aan probleme te gee.

“Ons gebruik die indeks voorts as ’n rigtingwyser van waarop om te fokus sodat ons prakties by oplossings betrokke kan raak.”

Kruger het verduidelik ’n moontlike oplossing is om bestaande meganismes binne die wet te ontgin wat die private sektor ruimte gee om by plaaslike bestuur betrokke te raak.

“Ons wil verskillende modelle implementeer om ’n alternatief te skep vir die bestaande munisipale bestuursmodel. Die situasie by die Kgetlengrivier-munisipaliteit in Koster en Swartruggens, waar inwoners deur middel van ’n hofbevel beheer oor water- en riooldienste geneem het, is een moontlikheid.”

Morné Mostert, hoof van plaaslike regeringsake by AfriForum, sê die ideaal is egter dat munisipaliteite en die plaaslike gemeenskappe vrywillig samewerkingsooreenkomste aangaan, juis omdat daar dikwels in gemeenskappe kundigheid oor diensbestuur is.

Brink en sy span besef egter hul grootste struikelblok is weerstand van munisipaliteite, onder meer omdat gemeenskapsbetrokkenheid outomaties groter deursigtigheid sal meebring om wanpraktyke bloot te lê.

“Daar is egter reeds gevalle van welwillendheid en samewerking by munisipaliteite.”

Brink sê indien die ANC ernstig is oor dienslewering en die uitroei van korrupsie, behoort hulle private/openbare vennootskappe aan te moedig.

“Munisipaliteite moet soos ondernemings bestuur word. Plaaslike ekonomieë en werkloosheid kan verbeter indien beleggers gelok word en onder meer die groot toerismepotensiaal in baie plattelandse gebiede ontgin word.”

AfriForum kan moontlik op steun uit Noordwes se premierskantoor staatmaak.

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, verlede week in Coligny, waar hy erken het hy is skaam vir sy provinsie se munisipaliteite en die korrupsie wat aan die orde van die dag is daar. Foto: Isabel Venter

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, het verlede week op ’n vergadering in Coligny gesê hy “skaam hom” oor die stand van munisipaliteite in die provinsie.

Mokgoro het erken dienslewering word gekniehalter omdat alle vlakke van regering “deur en deur korrup” is, het Netwerk24 toe berig. Hy glo dit is daarom belangrik dat munisipaliteite vennootskappe met die private sektor sluit.

• AfriForum het reeds ’n prestasie-indeks oor Gauteng gedoen. Die Wes-Kaap s’n is byna voltooi en ander provinsies se indekse sal deur die loop van vanjaar gedoen word.

Meer oor:  Noordwes  |  Politiek  |  Munisipaliteite  |  Afriforum  |  Oudit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.