Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Besware oor aanstelling van nuwe Opod-hoof

Opposisiepartye het Donderdag weens uiteenlopende kwessies beswaar gemaak oor die aanstelling van Jennifer Dikeledi-Ntlatseng as die hoof van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, het op ’n debat van die Nasionale Vergadering (NV) gesê hy is bekommerd dat Dikeledi-Ntlatseng deur Bheki Cele, minister van polisie, gemanipuleer kan word omdat daar nog tergende vrae rondom haar aanstelling hang.

 Jennifer Dikeledi Ntlatseng
Jennifer Dikeledi Ntlatseng. Foto: LinkedIn

Hy het gesê Dikeledi-Ntlatseng, ’n voormalige direkteur van gemeenskapsveiligheid in Gauteng, se CV wys dat sy sedert 2017 werkloos is.

“Die komitee het ’n lys met die name van 24 kandidate gekry, maar party van hulle wat goeie kwalifikasies gehad het, is verwyder omdat hulle nie ervaring met ondersoeke het nie. Dikeledi-Ntlatseng het egter self nie ervaring met ondersoeke nie,” het Groenewald gesê.

Andrew Whitfield, DA-LP, het gesê die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het boonop sy magte oorskry deur onlangs die groen lig te gegee het dat Dikeledi-Ntlatseng die polisiewaghond lei.

Hy het gewys op die Wet op Opod waarvolgens die aanstelling binne ’n jaar moet plaasvind. Die pos is egter al langer vakant sedert Robert McBride se kontrak vroeg in 2019 verstryk het.

Cele het vroeër gesê die proses het gesloer omdat die paneel wat die aanstelling moes doen, aanvanklik nie ’n geskikte kandidaat kon kry nie.

Thandi Modise, speaker van die parlement, het intussen weens die wetgewing nie ’n versoek van Cele toegestaan dat die proses verleng word nie. Sy het gevra dat die polisiekomitee oor die aanstelling besluit.

Whitfield het gesê die wetgewing moes eers gewysig word om die ongerymdheid rondom die gesloerdery uit die weg te ruim, sowel as om te verseker dat die aanstellingsproses meer onafhanklik van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geskied.

Hoewel die IVP en die EFF ook kommer rondom die aanstelling geopper het, het hulle nie die aanstelling teengestaan nie.

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het gesê die komitee het Cele opdrag gegee om ’n omvangryke verslag in te dien oor hoekom daar so met die aanstelling gesloer is.

“Ons is egter tevrede dat die minister die komitee oor die proses ingelig gehou het oor die uitdagings om ’n gepaste kandidaat te kry. Dit is hoog tyd dat ’n vrou die mandaat het om die SAPD en die munisipale polisie te monitor wat grotendeels uit mans bestaan.”

“Die behoefte om ’n sterk leier aan die hoof van Opod te hê, was nooit belangriker nie weens die inperking en die gepaardgaande beweringe van polisiewreedheid,” sê Pettersson.

Meer oor:  Opod  |  Vf-Plus  |  Bheki Cele  |  Dr. Pieter Groenewald  |  Hoof  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.