Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Betaal is Gigaba se voorland

Malusi Gigaba, beleërde minister van binnelandse sake, sal waarskynlik die meer as R1 miljoen in regskoste wat belastingbetalers moes opdok vir sy onsuksesvolle hofgeding teen die Oppenheimer-familie se Fireblade Aviation, persoonlik moet terug betaal.

Dit is as die parlement se portefeuljekomitee oor binnelandse sake sy sin teen Gigaba kry nadat hy Donderdagmiddag laat weer bloedneus geslaan is toe die konstitusionele hof sy aansoek om verlof tot appèl teen ’n ’n bevel van die hooggeregshof dat hy onder eed in die Fireblade Aviation-hofgeding gelieg het, met koste van die hand gewys het.

Malusi GigabaFoto: DEAAN VIVIER

Dié hofuitspraak kom ook net ’n dag nadat adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), in ’n verdoemende verslag bevind het Gigaba het die Grondwet én die etiese kode vir lede van die uitvoerende gesag oortree deurdat hy in bogenoemde aansoek vir die hof gelieg het.

Sy het aanbeveel dat pres. Cyril Ramaphosa en die parlement “gepas” met Gigaba handel.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het Donderdag gesê Ramaphosa sal nog die OB-verslag bestudeer “en daarna oor gepaste optrede besluit”.

Omie Singh, medevoorsitter van die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange, het Donderdag gesê dié komitee sal ook met ’n ondersoek na Gigaba begin sodra die OB-verslag amptelik na hom verwys word.

Politieke druk bou ook al hoe sterker op dat Ramaphosa Gigaba moet afdank met die DA, EFF, Cope en Cosatu wat ná Mkhwebane se bevinding almal Gigaba se kop eis.

Hlomani ChaukeFoto: DAILY SUN

Thabo Mokgola, Gigaba se woordvoerder, het Donderdagmiddag bevestig Gigaba is bewus gemaak van die konstitusionele hof se uitspraak.

Hlomani Chauke, voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het Donderdagmiddag ook in ’n sterk bewoorde verklaring gesê die OB se bevindings en die konstitusionele hofuitspraak teen Gigaba, dui op ’n “totale verontagsaming van belastingbetalers se hulpbronne omdat groot bedrae geld aan ligsinnige hofgedinge oor die kwessie bestee is”.

“Die komitee moet dink oor wat moet gebeur om die geld wat aan regskoste bestee is, terug te verhaal.

“Indien dit versoek word, sal die komitee ook inligting waarna verwys is in die OB-verslag, aan die etiekkomitee gee.”

Chauke sê Gigaba sal Dinsdag aan die parlement moet verduidelik wat sy departement se eintlike standpunt is oor die toestemming aan Fireblade Aviation om ’n private terminaal by OR Tambo-lughawe te bedryf.

“Die afgelope Dinsdag het die komitee met die Oppenheimers (by die parlement) vergader waar hulle hul kant van die storie gegee en ook gesê het dat die minister gelieg het.”

Volgens Chauke trek die OB-verslag en die konstitusionele hofbevel nou ook die toelating van inligting wat die departement verskeie kere aan die komitee oor die kwessie gegee het, in twyfel.

Intussen het Fireblade Aviation luidens News24 Donderdag ook hul “tevredenheid” uitgespreek oor die “billike en regverdige konstitusionele hofuitspraak”.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het op Twitter gesê Gigaba se hofgedinge teen Fireblade Aviation het Suid-Afrikaners meer as R1 miljoen aan regskoste uit die sak gejaag.

Hy het verder in ’n verklaring gesê die hofuitspraak is ’n waterskeidingstoets vir Ramaphosa se “Nuwe Dagbreek” en dat hy Gigaba moet afdank ter wille van alle Suid-Afrikaners wat vir te lank die euwel van korrupsie moes verduur én om staatskaping vir eens en altyd te stop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.