Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Betogings in KZN: President vra vir kalmte

Betogings het in KwaZulu-Natal uitgebreek ná die hooggeregshof in Pietermaritzburg Vrydag oudpres. Jacob Zuma  se aansoek van die hand gewys het.

Zuma het verlede week by dié hof aansoek gedoen dat die lasbrief wat deur die konstitusionele hof  uitgereik is vir sy inhegtenisneming opgeskort word.

Zuma het Donderdag sy tronkstraf van 15 maande begin uitdien.

Netwerk24 het 'n verslagspan in KwaZulu-Natal wat berig oor die jongste verwikkelinge rakende Zuma.

Volg die jongste gebeure soos berig deur  Dennis Delport (joernalis) en die fotograwe Lulama Zenzile en Mlungisi Louw huier:

10 Jul. 21:45:07

10 Jul. 21:09:44

10 Jul. 17:23:59

10 Jul. 16:54:20

10 Jul. 16:51:47

Menseregtekommisie vra vir kalmte in KwaZulu-Natal

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het Saterdag in ’n verklaring om kalmte gevra en terselfdertyd die voorvalle van geweld in KwaZulu-Natal veroordeel.

Die sporadiese voorvalle van geweld kom ná die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma Woensdagnag voor.

Die kommissie het ook weer eens sy steun uitgespreek vir die beslissing van die konstitusionele hof op 29 Junie, waarin Zuma tot 15 maande tronkstraf gevonnis is vir minagting van die hof.

In die verklaring doen die kommissie ’n beroep op politieke leiers en lede van die publiek om die oppergesag van die reg te eerbiedig en om hul ondersteuners te maan om nie gewelddadig op te tree nie.

10 Jul. 15:15:03

President vra vir kalmte in KwaZulu-Natal

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n beroep op kalmte in KwaZulu-Natal gedoen en die polisie geprys vir die inhegtenisnemings.

Altesame 27 mense is sedert Vrydag in hegtenis geneem op aanklagte wat onder meer openbare geweld, sakeroof, kwaadwillige saakbeskadiging en die oortreding van die inperkingsmaatreëls insluit.

Dit kom nadat 23 vragmotors aan die brand gesteek en sodoende vernietig is.

Ramaphosa het Saterdagmiddag in ’n verklaring ’n beroep op gemeenskappe in die provinsie gedoen om hulle daarvan te weerhou om die oppergesag van die reg te ondermyn en die ekonomie skade te berokken.

Hy het gesê die uitwerking van openbare geweld teen die padvervoerbedryf en skade aan snelweë wat as ekonomiese are dien, sal ook gevoel word deur die mense wat die misdade organiseer en pleeg.

Hy het gesê die redes wat glo vir die geweld in KwaZulu-Natal aangevoer word, kan nie gebruik word om vandalisme en openbare geweld te regverdig nie.

“Die Grondwet beskerm die reg tot protesaksie, maar betogings kan nie misbruik word om die wet te oortree of eiendom te beskadig en mense se lewensbestaan te bedreig nie.

“Misdadige elemente moet te doen kry met die volle mag van die reg.

“Die president loof dus die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir hul pogings om die geweld onder bedwang te bring.”  

10 Jul. 13:56:05

ANC veroordeel geweld in KZN

Die ANC gaan dadelik ingryp in die voortslepende geweld in sekere dele van KwaZulu-Natal.

Die party het Saterdag in ’n verklaring sy kommer uitgespreek oor die verwoesting van eiendom en infrastruktuur en plundery wat met die gewelddadige betogings gepaard gaan en gesê dit moet ten sterkste veroordeel word.

Elke Suid-Afrikaner het die reg om vreedsaam, ongewapen en vrylik uitdrukking te gee aan hul mening, maar landsburgers moet in die uitoefening van hul grondwetlike reg hulle daarvan weerhou om die wet te oortree of geweld te gebruik, lui die verklaring.

“Kwessies wat kommer wek moet deur vreedsame en wettige kanale uitdrukking kry in ’n grondwetlike demokrasie. Die party is bekommerd oor die verwoesting van eiendom en die funksionering van die ekonomie wat benadeel word.”

Die ANC het KwaZulu-Natal se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) sowel as lede van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat in die provinsie ontplooi is, opdrag gegee om dadelik in te gryp en om in gesprek te tree met die leierstrukture en relevante rolpelers.

Die party het wetstoepassingsagentskappe aangemoedig om ferm en vinnig binne die wet op te tree teen “enige vorm van wetteloosheid, openbare geweld, beskadiging van eiendom en die ontwrigting van ekonomiese aktiwiteite en dienslewering”.  

10 Jul. 12:37:09

Betogers het Saterdagoggend die pad vanaf Eshowe na oudpres. Jacob Zuma se Nkandla-woonkompleks versper. Die polisie was op die toneel maar het nie lank daar gebly nie. Foto: Mlungisi Louw

10 Jul. 12:32:18

Netwerk24 by Nkandla:

‘Ons soek vir Zuma’    - deur Dennis Delport

In Nkandla is die boodskap Saterdagoggend duidelik – bring oudpres. Jacob Zuma terug. Op die pad tussen Eshowe en Zuma se Nkandla-woonkompleks het ondersteuners die pad versper met padversperrings wat normaalweg langs die pad staan.

Daar is ook boomstompe en -takke oor die pad gestrooi. Met Netwerk24 en die polisie se aankoms op die toneel het sowat 30 ondersteuners hul misnoeë duidelik gemaak.

“Ons soek Zuma (terug). Ons soek Zuma. Dis al hoe ons sal padgee,” het die ondersteuners geskree terwyl hulle klippe en selfs bakstene gegooi het. Die betoging naby Zuma se Nkandla-woning is Saterdag een van vele oor KwaZulu-Natal heen.

Vrydagaand het ondersteuners van die voormalige staatshoof minstens 23 vragmotors op die N3-snelweg naby Mooirivier aan die brand gesteek. Dié snelweg is steeds in albei rigtings vir verkeer gesluit.

Geen beserings is aangemeld nie.

Netwerk24 verneem daar is Saterdag ook grootskaalse betogings in Estcourt.

Brig. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Netwerk24 gesê 27 mense oor KwaZulu-Natal heen is reeds in hegtenis geneem weens die betogings.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêreveteranevereniging (MKMVA), was Donderdagaand een van hulle. Die polisie het nog nie op verdere navrae oor die situasie reageer nie.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  N3  |  Hofuitspraak  |  Zuma-Geweld  |  Zuma-Vonnis  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.