Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe kabinet: Druk op Cyril oor ‘bevlektes, staatskapers'

Bevlekte individue of vermeende staatskapers moenie deel van pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet wees nie.

Dít omdat die kiesers die ANC in verlede week se verkiesing ’n laaste kans gegee het om te regeer, sê dr. Snuki Zikalala, president van die ANC-veteraneliga.

Dit is te midde van druk binne en buite die ANC-alliansie wat teen Ramaphosa opbou om nie bevlektes in sy nuwe kabinet aan te stel nie.

Cosatu en die SAKP, die ANC se alliansievennote, het Woensdag ook benadruk dat Ramaphosa, wat hulle hoop hulle eers sal konsulteer voordat hy sy nuwe kabinet sal aankondig, bekwame en vlekkelose individue in sy kabinet moet aanstel.

Corruption Watch het ook gesê dat die ANC die verkiesing gewen het weens Ramaphosa se beloftes om korrupsie en korruptes uit te roei en dat sy optrede voortaan, ook met sy kabinet, sy verbintenis daartoe moet wys.

Ramaphosa, wat nog nie aangedui het wanneer hy sy nuwe kabinet sal aankondig nie, het egter Woensdag in Johannesburg daarop gesinspeel dat noemenswaardige veranderinge aan sy nuwe kabinet gemaak gaan word, berig Elvira Wood.

As ons wil hê die land se ekonomie moet groei, sal ons die kabinet moet herstruktureer
Pres. Cyril Ramaphosa

“As ons wil hê die land se ekonomie moet groei, sal ons die kabinet moet herstruktureer.”

Hy het ook herhaaldelik gesê sy nuwe kabinet sal daarop fokus om korrupsie uit te roei.

Intussen het die Verkiesingskommissie Woensdag ook die lyste met die verskillende partye se nuwe LP’s aan hoofregter Mogoeng Mogoeng in Johannesburg oorhandig ter voorbereiding vir wanneer hulle volgende week amptelik by die parlement beëdig sal word.

Ramaphosa sal daartydens ook as nuwe staatshoof in die parlement aangewys word en na verwagting op 25 Mei in die Loftus Versfeld-stadion in Pretoria ingehuldig word.

News24 het Woensdag ook berig dat Ramaphosa sy kabinet met soveel as nege departemente en ministeries kan verklein en dat daar ook hard in Luthuli-huis onderhandel word oor wie ministers moet wees, en wie nie.

Verskeie spekulatiewe lyste van ’n kleiner kabinet en wie Ramaphosa dalk as ministers daarin kan aanstel, doen die afgelope ruk die ronde op veral sosialemediaplatforms.

Hiervolgens kan verskeie departemente saamgevoeg en kan verskeie huidige ministers hul poste verloor en nuwes in hul plek aangestel word.

Zikalala het Woensdag verder gesê hy en ander ANC-veterane sal die president aanraai om bekwame en onbevlekte individue as ministers aan te stel as die ANC as regering wil oorleef.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, verlede Sondag op die Siyabonga-byeenkoms om die uitslae van die verkiesing te vier. Foto: Felix Dlangamandla

“Kiesers het ons ’n laaste kans met die verkiesing gegee. As ons hulle nou in die steek laat, sal die samelewing ons oor twee jaar in die plaaslike verkiesings verwerp.

“Nuwe kabinetslede moet bekwaam en bevoeg wees om die ANC se manifes te kan implementeer. Hule moenie eiebelang nastreef nie,” sê Zikalala.

Bheki Ntshalintshali, Cosatu-hoofsekretaris, het gesê hulle vergader Vrydag om die nuwe kabinet te bespreek en verwag dat Ramahosa hulle en die SAKP daaroor sal raadpleeg voordat hy sy kabinet sal bekend maak.

Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder, het gesê sy party sal deel wees van die konsultasieproses.

“Sekere mense het groot probleme vir die beweging veroorsaak. Daarom moet die nuwe kabinet ’n kollektief wees wat die samelewing se goedkeuring sal wegdra.”

David Lewis, uitvoerende direkteur van Corruption Watch, het gesê sy organisasie se raad aan Ramaphosa is dat hy ontslae moet raak van onbevoegde ministers, terwyl hy ook nie enigiemand anders op die ANC se parlementêre lys as minister moet aanstel wat by korrupsie betrek word nie.

Sisulu reageer op bespiegelings dat sy help om Ramaphosa omver te werp:

Lindiwe Sisulu, tans nog minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het intussen reageer op ’n rubriek van Adriaan Basson, News24-hoofredakteur, waarin hy onder meer verwys na ‘n berig in die Sunday Independent waarin gesê word dat sy en dr. Nkosozana Dlamini-Zuma albei in die vleuels wag om by adj.pres. David Mabuza as adjunkpresident van die land oor te neem.

“Daar is verskillende weergawes van die verhaal, maar een teorie onder die ANC is dat (Ace) Magashule en sy ondersteuners op Sisulu se blinde ambisie wed om president te word ten einde Ramaphosa te ontsetel.

“Dit is geen geheim dat die verhouding tussen Ramaphosa en Sisulu gespanne is nie. Moenie verbaas wees as sy nie na die kabinet terugkeer nie,” het Basson geskryf.

Sisulu het dit in ’n verklaring as ’n “fiktiewe teorie” en “beledigend en hoogs onprofessioneel” afgemaak dat sy deel van ’n groep in die ANC is wat beplan om Ramaphosa omver te werp, en gesê sy win regsadvies in omdat Basson se kommentaar volgens haar “kwaadwillig” is en “tekortskiet aan joernalistieke integriteit” omdat sy nie om kommentaar genader is nie.

Basson het Woensdag in reaksie gesê Sisulu is geregtig op haar mening “en so is ek ook”. “Die stuk waarna sy verwys was ’n meningstuk wat ek geskryf het en wat beskerm word deur die perskode van Suid-Afrika. Dit was nie ’n nuusberig waarvoor ek haar kommentaar nodig gehad het nie.”

Meer oor:  Cosatu  |  Corruption Watch  |  Sakp  |  Bheki Ntshalintshali  |  Alex Mashilo  |  Politiek  |  Verkiesing 2019  |  Nuwe Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.