Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bewerings 'ongegrond' dat Roets voor komitee geboelie is

Die DA se bewerings dat LP’s AfriForum se Ernst Roets erg tydens dié organisasie se mondelingse voorlegging oor onteiening van grond sonder vergoeding “uitgetart” en “aangeval” het, is “ongegrond”.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee wat die wysiging van art. 25 van die Grondwet om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik maak namens die parlement bestuur, het Vrydag so in ’n verklaring gesê.

Motshekga het dit gesê nadat die komitee tydens sy sitting ’n brief wat DA-LP’s met hul klagtes aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, geskryf het, wou bespreek het.

Mathole Motshekga Foto: Daily Sun

Vroeër is berig dat dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, die betrokke brief op 25 April vanjaar aan Motshekga geskryf het en daarin beswaar aangeteken oor die “mislukking” deur hom om die integriteit en prosedurele regverdigheid van die mondelingse voorleggingsproses in dié komitee te beskerm.

Dit het die DA genoodsaak om die parlement te versoek om die mondelingse voorleggings van die grondwetwysigingsproses te hersien.

Sy het onder meer verwys na Roets se verskyning op 24 Maart vanjaar voor die komitee en hoe “Floyd Shivambu en dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP’s, op een punt selfs ’n onuitgelokte aanval op Ernst Roets (hoof van beleid en aksie van AfriForum) gemaak het. Hulle het hom as ’n “rassis”, “rassistiese gek” en ‘f***** rassis’ gebrandmerk.”

Lotriet het toe bygevoeg dat Motshekga versuim het om Roets teen die ongevraagde aanvalle te beskerm, terwyl hy ook DA-LP’s se besware daarteen verwerp het.

Motshekga het Vrydag verder in sy verklaring gesê dat die komitee met kommer kennis geneem het van ’n klag oor die integriteit en gedrag van die komitee.

Ernst Roets Foto: Elizabeth Sejake

Volgens Motshekga bevat die DA se klagtes “ongegronde bewerings”.

Hy het geweier dat die brief bespreek word siende dat dit aan die speaker gerig was en het aangevoer dat dit onprosedureel vir die voorsitter is om in besit van die brief te wees sonder dat die speaker dit na hom verwys het.

Volgens Motshekga was die brief egter vir sy aandag gerig.

Hy het ook in sy verklaring gesê dat ander LP’s in die komitee Vrydag aangevoer het dat die “DA se weergawe nie ’n ware weerspieëling van die gebeure tydens die betrokke vergadering is nie”.

“Die ANC en EFF (se LP’s) het die komitee daartydens daaraan herinner oor Roets se uitlatings dat hy nie die komitee erken of enige geloof of vertroue in die komiteelede het nie. Sommige LP’s het versoek dat hy verbied moet word om weer in die parlement te verskyn.”

Volgens Motshekga het hy ook ’n versoek van LP’s toegestaan om ’n opname van die betrokke vergadering te kry om hulself weer daarmee te vereenselwig.

“Oor die versoek dat Roets verbied moet word, het Motshega beveel dat die aangeleentheid in ’n latere stadium bespreek word,” lui sy verklaring.

Meer oor:  Afriforum  |  Ernst Roets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.