Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bfn-sakeman getuig voor Zondo oor ‘Ace se inmenging in transaksie’

’n Bloemfonteinse sakeman gaan voor die Zondo-kommissie getuig oor sy 20 jaar lange stryd om die plaaslike Musgrave-perseel te bekom.

Tebogo Koetle van die maatskappy Ya Rona Investment was voorheen 15 jaar lank met die Mangaung-metro in ’n hofstryd hieroor gewikkel.

Koetle het aan Netwerk24 bevestig dat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hom gevra het om te getuig.

Dié saak kom ook voor in die Vrystaatse DA se “klagstaat” oor beweerde korrupsie in die provinsiale regering wat by die Zondo-kommissie ingedien is.

Koetle beweer dat Ace Magashule, die destydse Vrystaatse premier en nou ANC-sekretaris-generaal, die stok in die wiel van sy beoogde ontwikkeling van miljarde rand op die Musgrave-perseel van 90 ha was. Dié eiendom het voorheen Denel se Musgrave-wapenfabriek gehuisves.

Tebogo Koetle van Ya Rona Investments met die dokument waarin hy destyds Cyril Ramaphosa van die Malope Group genooi het om saam met hom die Musgrave-eiendom in Bloemfontein te ontwikkel. Ramaphosa, toe nog nie president nie, het laat weet dat sy groep nie eiendomsontwikkeling doen nie. Foto: Marietjie Gericke

Volgens Koetle wou Magashule verseker dat die eiendom wat reeds aan hom toegeken was, “aan ’n wit front-maatskappy van Kaapstad”, Modianyeho, verkoop word.

Themba Zweni, voorheen jare lank burgemeesterskomiteelid onder die destydse burgemeester, Gertrude Mothupi, ondersteun sy bewerings in ’n onlangse Facebook-inskrywing.

Zweni verwys na die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, se woorde in haar provinsiale rede dat sy “wil huil omdat net 3% van swart mense grond in die Vrystaat besit”.

“Regtig, Premier? Hoekom is jy nou eers hierdeur geraak?” lui sy inskrywing op Facebook.

“Is daar enigiets wat jy nou anders sou doen? In al daardie jare is ons vervolg omdat ons teen ’n belaglike opdrag geskop het van die destydse provinsiale uitvoerende komitee van die Vrystaatse ANC waarvan jy deel was, om te keer dat ’n sekere swart man die reg op die Musgrave-gronde kry.”

Zweni sê hy praat van die stuk grond wat 20 jaar gelede aan Koetle “vervreemd is”.

“Die Vrystaatse ANC onder die leierskap van die destydse voorsitter, Ace Magashule, het ons as koukus van die Mangaung-ANC jare later die belaglike opdrag gegee om Koetle die reg te ontneem om die eiendom te mag besit.

“Ons moes die grond van Koetle vat en dit aan ’n maatskappy gee wat later geblyk het ’n frontmaatskappy van wit mense in Kaapstad te wees.”

Zweni skryf hulle wat geweier het om die opdrag uit te voer, is vervolg.

Zweni vra op Facebook hoe die munisipaliteit grond wat hy in 1994 vir R25 000 van Krygkor (Denel) teruggekry het omdat Krygkor gemeen het dat die grond nutteloos was, nou vir R62 miljoen kan verkoop.

Zweni sê dié grond is nie van dienste voorsien nie en word in ’n ou dokument oor korting vir “uitvalgrond en deurgange” genoem as grond waarvoor die Bloemfonteinse munisipaliteit tot 90%-afslag sou toestaan.

“Koetle was nie die enigste swart man in die Vrystaat wat graag grond wou bekom wat in die provinsie vernietig is nie.

“Daarom, Premier, onthou voordat jy weer wil huil dat swart mense in die Vrystaat lankal grond sou gehad het, as dit nie vir die gierigheid van ons eie leiers was nie.”

Ntombela het by navraag gesê sy weet nie waarvan Zweni praat nie en sy sal later kommentaar probeer lewer. “Hulle moet kom praat as daar ’n probleem is. Ek was nie in daardie tyd die premier nie.”

* Koetle sê hy is nie verras deur Zweni se Facebookplasing nie.

Besluite oor die vervreemding van die Musgrave-eiendom is nie deur die Mangaung-raad geneem nie, maar deur ANC-politici wat ANC-raadslede van bo-af gestoomroller het.

“Raadslede is net as rubberstempels gebruik. Die opposisiepartye se getalle was te min en kon nie veel doen om die verrotting te keer nie.”

Koetle sê hy sal sonder vrees of vooroordeel voor die Zondo-kommissie getuig.

* Pule Mabe, woordvoerder van Magashule, het teen druktyd nog nie op skriftelike navrae reageer nie. Hy het ook nie sy telefoon beantwoord het nie.

Koetle beweer die munisipaliteit het die Musgrave-perseel in 1990 vir R630 000 aan hom aangebied.

Toe hy in 2006 gereed was om daarvoor te betaal, het Mangaung glo reeds besluit om die eiendom aan Modianyeho te verkoop.

“Ek moes Mangaung met ’n hofbevel keer omdat ek reeds die regte op die grond gehad het.”

Verskeie sake in die hooggeregshof het gevolg waarin onder meer gesê is dat die perseel nou baie meer werd geword het oor die ontwikkelings wat intussen in die omgewing bygekom het.

Sedertdien is die hele kwessie hangende. Die perseel is nog nie verkoop nie en die eiendom is nog nie ontwikkel nie.

Meer oor:  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.