Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bheki Cele ‘kry R40 000 in ’n koevert’, hoor Zondo

Bheki Cele, minister van polisie, het glo R40 000 kontant, saamgebondel in ’n koevert, uit die polisie se misdaadintelligensie-eenheid se geheime fonds ontvang tydens ’n ontmoeting by ’n veroordeelde dwelmhandelaar se huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal.

Adv. Susan Wentzel SC lei die getuienis van kol. Dhanayaja Naidoo. Foto: Skermgreep

Cele se naam is Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek genoem deur kol. Dhanajaya Naidoo, ’n fluitjieblaser wat jare lank in die misdaadintelligensie-eenheid gewerk het.

Naidoo, wat reeds agt jaar in die getuienisbeskermingsprogram skuil uit vrees vir sy lewe, het Maandag vir die tweede dag per oudioskakel vanaf ’n geheime plek plofbare getuienis voor die kommissie gelewer.

Hy het getuig van ’n besoek in 2009 aan die huis van die omstrede veroordeelde dwelmhandelaar Panganatha (Timmy) Marimuthu.

Marimuthu het glo “tenders gekry met die hulp van Cele en ’n baie ryk man geword”, het Naidoo getuig. Hy sê sy inligting het hy “uit gesprekke met verskeie kollegas opgetel”. Hyself kan nie sê of dit waar is nie.

Naidoo het getuig hy was op ’n keer by toe genl.maj. Solomon Lazarus, voorheen finansiële hoof van die misdaadintelligensie-eenheid se geheime fonds, by Marimuthu se huis in Umhlanga gewag het om met Cele, toe nasionale polisiehoof, te praat.

Kort voordat Cele opgedaag het, het Lazarus rondgebel om kontant in die hande te kry. Naidoo het hom hoor vra vir geld en hy het genoem dat hy self R40 000 van die geheime fonds by hom het. Hy het dit aan Lazarus gegee.

Lazarus het kort daarna ’n vergadering met Cele gehad en ná die vergadering het Naidoo nie weer die R40 000 gesien nie. Hy het afgelei dat die geld aan Cele gegee is.

Later het Lazarus en Marimuthu ook ’n hegte band gesmee.

Talle van Marimuthu se familie en vriende is ook as agente of informante van die eenheid aangestel en het maandeliks salarisse ontvang.

Naidoo het getuig op ’n dag het Marimuthu hom selfs gebel en gesê hy moet vir hom ’n tandeborsel en tandepasta bring – dit is hoeveel mag Marimuthu gehad het.

Volgens Naidoo was dit vir hom ’n laagtepunt om deur ’n dwelmhandelaar gebel te word om ’n tandeborsel en tandepasta na hom te neem.

“Ek het gedink ‘is dít wat misdaadintelligensie nou moet doen’,” het Naidoo getuig.

Die eenheid se verbintenis met Marimuthu het steeds hegter geword, in so ’n mate dat daar maandeliks ’n “salaris” van R50 000 uit die geheime fonds aan hom betaal is.

Talle van Marimuthu se familie en vriende is ook as agente of informante van die eenheid aangestel en het maandeliks salarisse ontvang.

Naidoo het getuig groot getalle familielede en vriende van Richard Mdluli, oudhoof van die misdaadintelligensie-eenheid, asook familie en vriende van Lazarus, is deur die eenheid aangestel –sommige selfs in die rang van kolonel, hoewel hulle nie voorheen aan die polisie verbonde was nie.

Naidoo het ook getuig oor duur oorsese besoeke wat in 2009 uit die geheime fonds betaal is. In een geval het Mdluli en sy vrou vir hul dogter in China gaan kuier en hul vliegtuigkaartjies van R86 000 is deur die eenheid betaal.

Dié toerusting kon in der waarheid sommer oor die internet bestel gewees het, maar daar is R200 000 van die eenheid se geld vooraf op twee kredietkaarte gelaai vir die agt se uitstappies en aankope in Singapoer.

Kort ná Mdluli se besoek aan China saam met sy vrou, het hy sy spesiale vriendin, Theresa Lyons, saamgeneem na Singapoer, van 20 tot 29 November 2009.

Benewens Mdluli en Lyons is nog ses mense saam, waaronder lede van die eenheid en hul vroue. Naidoo was ook saam.

Die verskoning vir dié besoek was dat hulle spioenasietoerusting moes gaan koop, maar Naidoo het getuig hulle was slegs twee keer vir twee uur op ’n slag na ’n gewone winkel wat elektroniese toerusting verkoop.

Dié toerusting kon in der waarheid sommer oor die internet bestel gewees het, maar daar is R200 000 van die eenheid se geld vooraf op twee kredietkaarte gelaai vir die agt se uitstappies en aankope in Singapoer.

Naidoo het getuig Mdluli het tydens die besoek na Lyons verwys en gesê “die queen” is swaar op sy beurse en dat sy uitermatig baie inkopies doen.

Oor die betaling van joernaliste het Naidoo getuig omstreeks 2008 is R40 000 gebruik om die senior joernalis Ranjeni Munusamy se silwer BMW te herstel en nuwe bande aan te sit.

In nog ’n geval, einde 2009 of begin 2010, het Mdluli gesê hy moes ’n joernalis ontmoet wat inligting het wat sleg is vir die eenheid se reputasie.

Mdluli het toe R20 000 of R25 000 kontant gevra uit die eenheid se geheime fonds om die joernalis om te koop, volgens Naidoo.

Naidoo getuig Dinsdag verder.

Meer oor:  Zondo  |  Bheki Cele  |  Kwazulu-Natal  |  Umhlanga  |  Kontant  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.