Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bid jou dit aan: ’n SG wat die ANC hof toe sleep

Ace Magashule se hofsaak teen die ANC wys sy “blatante gebrek aan oordeel” en dat hy “skaamteloos” is.

Dr. Zamani Saul, ANC-voorsitter in die Noord-Kaap, en ook die provinsie se premier, het Vrydag onder Magashule ingevaar op die ANC se Namakwa-streekkonferensie.

Saul het gesê die ANC het nog nooit “so ’n ontwrigtende en vernietigende warrelwind vir ’n sekretaris-generaal (SG)” gehad nie.

Ace Magashule Foto: Daily Sun

Saul is ook ’n senior lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) . Dié opmerkings het gekom nadat Magashule Vrydagmiddag op die nippertjie ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het teen sy “onwettige, radikale en voortydige” tydelike skorsing.

Dit is nog onbekend of pres. Cyril Ramaphosa, Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, en die ANC, wat die respondente in die saak is, dit sal teenstaan.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Vrydagaand in ’n verklaring gesê “die ANC neem kennis van die hofstukke wat die geskorste Magashule ingedien het”.

“Die ANC sal Maandag oor sy weg vorentoe kommunikeer ná die gewone vergadering van sy topsesleiers.”

’n Politieke ontleder meen Magashule se hofaansoek is nie verrassend nie, maar dat die uitslag daarvan verreikende gevolge vir Magashule óf die ANC kan hê.

Magashule se opdraggewende prokureur is Eric Mabuza, wat hom onlangs as prokureur van oudpres. Jacob Zuma aan dié se korrupsiesaak onttrek het.

Dr. Zamani Saul Foto: Christiaan Cloete

Magashule versoek ook dat die hof sy “skorsing” van Ramaphosa as ANC-president kort ná sy eie skorsing verlede week as “geldig en effektief” moet verklaar, totdat dit wettig nietig verklaar word.

Hy wil ook hê dat die “opdrag” dat hy teen einde vandeesweek aan die ANC en Suid-Afrika om verskoning moet vra oor sy “skorsing” van Ramaphosa as “onwettig en onafdwingbaar” verklaar word.

Die ANC het vroeër aangedui dat Magashule nie by magte is om enigiemand uit die ANC te skors nie.

Magashule wil ook hê dat die ANC se “opsystaan”-reël onwettig, ongrondwetlik en nietig verklaar word.

Hy hou vol sy skorsing van Ramaphosa was ’n “bona fide-uitoefening van sy verantwoordelikhede as sekretaris-generaal in opdrag van die nasionale werkkomitee”.

Volgens hom het hy Ramaphosa “geskors” omdat hy nie “ ’n aanvaarbare verduideliking aan die ANC se integriteitskommissie kon gee oor waarom hy deur sy CR17-veldtog tot R300 miljoen gebruik het om die uitslag van die Nasrec-konferensie in 2017 te beïnvloed” nie.

Hy dring aan dat hy net om verskoning sal vra “as dié hof verklaar dat dit, ondanks my verduideliking, geregverdig is onder die omstandighede – iets wat ek betwis”.

“Enige verskoning voordat helderheid deur dié hof gebied is, sal nie eg of betekenisvol wees nie.”

Magashule beweer ook hy is die teiken van Ramaphosa se CR17-faksie, wat hom tot elke prys uit die “magtige” amp van sekretaris-generaal wil verwyder om Ramaphosa se pad vir herverkiesing tot ANC-president volgende jaar “makliker” te maak.

Dié “diepgewortelde ANC-faksionalisme” is glo die “werklike rede” vir sy skorsing en nie die ANC se “nuutgevonde teenkorrupsie-skoonmaakveldtog” nie.

Hy beweer ook dat die media die “oorheersende CR17-faksie” ondersteun.

Dinge gaan nou warm raak omdat ons hierdie organisasie hernu.

Magashule voer ook aan dat die strafregtelike aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog teen hom weens die Vrystaatse asbesdak-tenderskandaal van R255 miljoen “vreemd, indien nie heeltemal absurd nie”, is.

Die opsystaan-besluit teiken hom (Magashule) persoonlik en moet onwettig verklaar word “as die ANC wil oorleef. Versuim om dit te doen, sal die einde van die organisasie beteken.”

Magashule beweer ook dat “die mees korruptes in die ANC wat tot die oorheersende (CR17-)faksie behoort” teen die “gemanipuleerde” opsystaan-besluit beskerm word.

Saul het Vrydag gesê Magashule is die heel eerste sekretaris-generaal van die ANC wat hom voltyds beywer om ANC-president te word deur ’n sittende ANC-president (Ramaphosa) te wil ontsetel.

“Soos ek vandag (Vrydag) hier met julle praat, het die sekretaris-generaal hofstukke op die ANC bedien. Dit wys hy het ’n gebrek aan oordeel en is skaamteloos.”

Saul sê as selfrespekterende organisasie sal die ANC dít nie duld nie.

“Dinge gaan nou warm raak omdat ons hierdie organisasie hernu.”

Dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê as Magashule in die hof wen, kan dit “nuwe lewe in sy terugvegpoging blaas én die argument bevestig dat hy persoonlik geteiken word”.

“As hy egter verloor, is dit neusie verby omdat hy dan permanent uit die ANC geskop kan word.”

Meer oor:  Anc  |  Staatskaping  |  Nuk  |  Faksiegevegte  |  Ace Magashule  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.