Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Biden sê Pfizer-entstowwe sal ook na SA kom

Pres. Cyril Ramaphosa hoop Suid-Afrika se Covid-19-inentingsprogram sal ’n groot hupstoot kry wanneer die land nuwe entstof, insluitende dié van Johnson & Johnson (J&J), ontvang.

Ramaphosa het dit Sondagmiddag op ’n nuuskonferensie ná die G7-beraad in Cornwall, Brittanje, gesê. Hy was op die beraad in gesprek met pres. Joe Biden van Amerika en ander wêreldleiers oor onderskeie entstof-skenkings aan Suid-Afrika en Afrika.

Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Joe Biden van Amerika op die naweek se G7-beraad in Cornwall, Engeland. Foto: Presidensie/Twitter

Sy uitlatings kom kort nadat Suid-Afrika se inentingsprogram ’n reuseterugslag beleef het omdat die 2 miljoen J&J-entstofdosisse wat Aspen Pharmacare by sy aanleg in Gqeberha (Port Elizabeth) vir Suid-Afrika vervaardig het, vernietig moet word omdat dit glo besmet is.

Volgens Ramaphosa was hy reeds in gesprek met Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen Pharmacare, wat hom ingelig het dat hulle weer van voor af moet begin om J&J-entstowwe te vervaardig.

Ramaphosa het bygevoeg dat Suid-Afrika baie van sy inentingsprogram se hoop op die J&J-entstof geplaas het omdat dit ’n enkeldosis-entstof is.

“Ons het dus daarvoor gewag. Die uitvoerende hoof (Saad) het my ingelig dat hulle teen die middel van die week sal begin om nuwe entstof te vervaardig wat aan Suid-Afrika en Afrika beskikbaar gemaak sal word.

“Daarom is ons hoopvol dat ons inentingsprogram ’n groot hupstoot sal kry soos ons die entstowwe ontvang.”

Hy het bygevoeg dat die land intussen ander entstowwe soos die Pfizer-entstof gebruik.

In my gesprekke (op die G7-beraad) met pres. Biden het ek gesê dit sal goed wees as die dosisse wat hy skenk ook na Suid-Afrika en Afrika kan kom.

“In my gesprekke (op die G7-beraad) met pres. Biden het ek gesê dit sal goed wees as die dosisse wat hy skenk ook na Suid-Afrika en Afrika kan kom.”

Volgens Ramaphosa het Biden ingestem om dit so spoedig moontlik te doen.

“Ons sal dus sommige dosisse van daar kry en ook van Europa.”

Ramaphosa het bygevoeg dat hy op die G7-beraad dit duidelik gestel het dat die wêreld in ’n “oorlogsituasie” gewikkel is teen die Covid-19-pandemie en dat almal, nie net die ontwikkelde lande in die noorde nie, gelyke toegang tot entstowwe moet hê. "Dít omdat die wêreld meer bestand teen die pandemie sal wees as almal ingeënt is."

Suid-Afrika is saam met Suid-Korea, Australië en Indië as gaste genooi na dié beraad van Duitsland, Italië, Kanada, Frankryk, Japan, Brittanje en Amerika.

Volgens Ramaphosa is hy tevrede dat die Covid-19-pandemie deeglik op die beraad van Vrydag tot Sondag bespreek is.

“Ons boodskap was dat ons ook toegang tot entstowwe moet kry sodat die mense van Afrika – waarvan nog net 2% ingeënt is in vergelyking met die hoër persentasies in die noorde – ook ingeënt kan word.”

Volgens Ramaphosa het hulle dit ook duidelik gemaak dat entstof-nasionalisme beëindig moet word.

“In hierdie verband is ons tevrede dat die G7-lande hulself verbind het om ondersteuning en hulp te verleen om entstowwe beskikbaar te maak. Hulle het hulle ook tot die finansiële ondersteuning van Covax verbind.”

Ramaphosa het bygevoeg dat hy tevrede is nadat die G7-lande ingestem het dat onderhandelinge by die Wêreldhandelsorganisasie moet voortgaan wat betref die Kwytskelding van Handelsverwante Aspekte van Intellektuele Eiendomsregte (oftewel Trips) op Covid-19-entstowwe.

Suid-Afrika en Indië bevorder dit wêreldwyd omdat dit ontwikkelende lande in staat sal stel om self entstowwe te vervaardig.

Meer oor:  Johnson & Johnson  |  Entstowwe  |  G7-Beraad  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Inentings  |  J&J  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.