Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Binnegevegte het die polisie verlam

Cele en Dlodlo se uiteenlopende weergawes van gebeure voor die onluste is verdag, berig Dawie Boonzaaier.

Polisielede in Eshowe, KwaZulu-Natal, begelei mense na veiligheid tydens verlede week se geweld. Foto: Mlungisi Louw

Binnegevegte tussen Bheki Cele, die minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, die polisiekommissaris, het bygedra tot die polisie se onvermoë om verlede week se geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng te voorspel.

Die gebrek aan koördinasie tussen eenhede in die polisie blyk uit nuwe onthullings oor ’n geveg om hulpbronne in misdaadintelligensie en die fatale besluit om honderde lede van die polisie se eenhede vir openbare orde weg te stuur uit Nkandla enkele dae voordat geweld KwaZulu-Natal sou verswelg.

Lede van die eenhede, wat opgelei en toegerus is om onluste te beheer, is in en om Nka­nd­la ontplooi uit vrees dat ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma tot geweld sou oorgaan op die dag van sy inhegtenisneming op 7 Julie. Toe niks gebeur nie, is hulle op 8 Julie reeds na hul tuiseenhede teruggestuur.

Toe vragmotors op 9 Julie aan die brand gesteek word by die Mooirivier-tolhek en die belangrike N3-snelweg gesluit word, was die eenhede vir openbare orde nêrens in sig nie.

’n KwaZulu-Natalse polisieoffisier het die afgelope week teenoor lede van die portefeuljekomitee oor polisie ontken dat die lede van die eenhede na hul tuisprovinsies teruggestuur is ná Zuma se inhegtenisneming, maar Rapport se bronne beweer sowat 400 lede van dié eenheid is eers weer op 14 Julie herontplooi na KwaZulu-Natal.

Vir wie moet die polisie luister?

Die polisie se vermoë om misdaadintelligensie in te samel in geheime operasies is bykans tot niet weens ’n stryd oor geld en beheer, berig News24 en Rapport se susterskoerant City Press. Luidens die berigte het top-offisiere by misdaadintelligensie op 8 Junie – ’n maand voor Zuma se inhegtenisneming – ’n brief uitgestuur waarin hulle waarsku oor ’n “gevaarlike kontantvloeiprobleem” omdat Cele geweier het om ’n begroting vir die eenheid goed te keur. Volgens City Press beloop die begroting R500 miljoen. Dié geld word onder meer gebruik om informante mee te betaal.

Volgens City Press wou Cele nie die begroting goedkeur nie weens beweerde onreëlmatighede met sekere van Sitole se aanstellings, waaronder dié van lt.gen. Yolisa Mokgabudi as waarnemende hoof van misdaadintelligensie.

Dit is bekend dat Cele ontevrede was oor die verwydering van lt.genl. Peter Jacobs as misdaadintelligensiehoof in Februarie.

Jacobs het ’n ondersoek na Sitole gelei oor die aankoop van persoonlike beskermende toerusting. Die inspekteur-generaal van intelligensie het bevind dat geld uit misdaadintelligensie se geheime rekening hiervoor gebruik is en dat dit ’n onreëlmatige uitgawe was.

Volgens Rapport se bronne wil Cele hê Jacobs moet herstel word in sy pos. Jacobs is tans hoof van die polisie se inspektoraat-afdeling.

’n Top-misdaadintelligensiebron het aan News24 beweer hul eenheid is lamgelê deur die geldtekort en dat dit een van die redes is waarom die polisie niks van hul eie intelligensieverslae gehad het oor die geweld nie.

Volgens City Press moes Mokgabudi haar lede “smeek” vir inligting oor wat tydens die onluste gebeur het.

Ook die vloei van intelligensie oor die oproer uit die departement van intelligensie is deur politiek beduiwel.

Cele het die afgelope week in die parlement beweer dat hy geen vooraf waarskuwing van die Staatsveiligheidsagentskap oor die geweld ontvang het nie, al dring Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, daarop aan dat “polisiestrukture” gewaarsku is dat moeilikheid kom.

Sitole, wat nie die afgelope week teenwoordig was toe die portefeuljekomitee van polisie KwaZulu-Natal besoek het nie, wou nie bevestig of ontken wát die polisie geweet het nie.

“Die kantoor van die nasionale kommissaris wil nie ingetrek word by hierdie bewerings wat op ministeriële vlak gemaak is nie,” het ’n woordvoerder van Sitole geantwoord. “Verder is intelligensie-aangeleenthede operasionele kwessies waarop ons nie in die openbaar kan kommentaar lewer nie.”

Ook die twee ministers wou nie kommentaar lewer op hul weergawes van gebeure nie.

Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Dinsdag alle kommunikasie met die media uit die kabinet in haar eie kantoor gevestig.

Andrew Whitfield, DA-LP en die party se woordvoerder oor polisie, sê daar is “effektief twee sentrums van mag, wat die polisie verdeel”.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê hy glo die vete tussen Cele en Sitole kon ’n rol gespeel het in die polisie se onvermoë om teen die geweld op te tree.

“Cele wil mag oor Sitole uitoefen, en dit plaas beamptes oor die land heen, maar veral in KwaZulu-Natal, in ’n penarie. Vir wie moet hulle luister?”

Groenewald sê ook dit is ’n skande dat die president nog nie vir Cele of Dlodlo gerepudieer het nie, al kan net een van hulle se weergawe van die gebeure die waarheid wees.

Whitfield sê die weergawes is ’n teken van hoe diep die ANC-regering se faksies verdeel is.

“Dié mense het mekaar se selfoonnommers, maar kan nie in ’n tyd van krisis hul kommunikasie koördineer nie.”

Tyrone Seale, pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, het by navraag gesê die president erken die swakheid van leierskap in die sekerheidsektor.

“Hy het al aangedui sodra die krisis verby is, sal ’n deeglike hersiening onderneem word oor ons gereedheid en respons op hierdie uitdagings,” sê Seale.

Cedric Frolick, voorsitter van komiteevoorsitters in die Nasionale Vergadering, het aangedui dat ’n parlementêre ondersoek ingestel sal word waarin ministers van die sekerheidsektor en ander sleutelrolspelers oor die gebeure in KwaZulu-Natal en Gauteng sal moet kom getuig.

Die DA het dit verwelkom.

Aangekeer

Tot dusver is 20 mense weens onrus-verwante moorde in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem. Daar is 337 mense oor die land heen in die geweld dood.

Ses mense is in hegtenis geneem weens aanhitsing tot geweld, maar die nasionale vervolgingsgesag sê dat hy steeds niemand weens terrorisme, verraad of opstand teen die regering kan aankla nie. Tog hou die regering vol dat die geweld ’n gekoördineerde opstand teen die regering was.

Meer oor:  Khehla Sitole  |  Peter Jacobs  |  Pieter Groenewald  |  Bheki Cele  |  Kabinetskommeling  |  Polisie  |  Onluste  |  Betoging  |  Protes  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.