Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Baie sterftes: Binnelandse sake moet werkwyse aanpas

Die getal sterftes in Suid-Afrika het so drasties gestyg weens die Covid-19-pandemie dat die staat sy werkwyse met die registrasie van sterftes moes hersien.

Tommy Makhode, direkteur-generaal van binnelandse sake, het Woensdag aan LP’s gesê die pandemie het ’n impak op al die dienste van sy departement, maar veral die registrasie van sterftes is erg getref.

Hy het saam met Njabulo Nzuza, adjunkminister van binnelandse sake, die verkose komitee oor veiligheid en justisie toegespreek oor hul begroting en jaarlikse prestasieplan.

Uit die syfers blyk dat 55 676 sterftes in Desember verlede jaar deur die departement geregistreer is teenoor 38 620 in Desember 2019.

“In Januarie vanjaar het ons sowat 78 244 sterftes geregistreer teenoor 36 803 in Januarie verlede jaar.”

LP’s het ook gehoor hoe die meeste sterftes per jaar sedert 2016 gewoonlik in Junie, Julie en Augustus geregistreer is, maar die patroon het van Junie 2020 tot Januarie vanjaar verander weens die Covid-19-pandemie.

Njabulo Nzuza, adjunkminister van binnelandse sake. Foto: Daily Sun

Makhode het gesê dit beteken die departement se kantore moet daagliks baie later oopbly – “meestal tot 19:00 saans om te verseker dat die nodige dienste aan bedroefde families gelewer word”.

Hy sê die departement het besef hy moenie net sy diensleweringsmodel hersien nie, maar ook sy bedryfsmodel “om by die situasie aan te pas”.

Volgens hom sal die hersienings betyds gekommunikeer word en sal hulle toesien dat ’n doeltreffende diens gelewer word.

Nzuza het aan LP’s gesê die pandemie het tot dusver ’n “rampspoedige” impak op die bedrywighede van die departement gehad.

Sake is vererger omdat die departement se begroting net soos dié van alle ander staatsdepartemente weens die pandemie aansienlik besnoei is.

“Ons moes ook geld herprioritiseer vir Covid-19.”

LPs het gehoor die departement se begroting in die vorige boekjaar is met tot R562 miljoen besnoei, terwyl dit op mediumtermyn met nog R301 miljoen besnoei sal word.

“Dit het ’n impak gehad op wat ons as ’n departement kon doen. Op bedryfsvlak het ons aansienlik tyd verloor omdat sommige kantore moes sluit weens Covid-19. Dit het ons hoofkantoor ingesluit.”

Die begrotingsbesnoeiing het daartoe gelei dat die departement nie meer personeel kon aanstel nie, hoewel daar ’n tekort op kritieke gebiede is. Dít terwyl die druk op goedere en dienste ook vererger, met kontraktuele verbintenisse wat die risiko loop om nie eerbiedig te word nie. Dit kan tot ontwrigting van dienslewering en hofgedinge lei.

Dit lei ook daartoe dat instandhoudings- en ondersteuningsdienste in gevaar gestel word.

Dit het ’n impak gehad op wat ons as ’n departement kon doen. Op bedryfsvlak het ons aansienlik tyd verloor omdat sommige kantore moes sluit weens Covid-19. Dit het ons hoofkantoor ingesluit.

Die departement moes dus sy prestasieplanne en -teikens aanpas.

Makhode het bygevoeg die pandemie het ook ’n impak op die departement se toonbankdiens, inligtingstelsels en immigrasie-afdeling gehad en dienste vir permit- en asielsoekers moes afgeskaal word. Dít terwyl alle dienste aan landsburgers ook weens Covid-19-regulasies verminder is.

Volgens hom moet die departement egter aanpas en moderniseer en is daar ’n toenemende fokus op tegnologie as die middelpunt van die departement se toekomsplanne.

Meer oor:  Binnelandse Sake  |  Tommy Makhode  |  Sterftes  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.