Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Bisarre’ DA-verklaring oor begroting skok De Lille
Grant Twigg, voorsitter van die DA in die Kaapstadse metro. Foto: Peter Abrahams/ SON

Patricia de Lille is geskok oor die misnoeë van die DA in die Kaapstadse metro oor verhoogde tariewe wat in die stadsraad se 2018-’19-konsepbegroting voorgelê word.

De Lille, die stadsraad se uitvoerende burgemeester, het die begroting op 28 Maart voorgelê.

“Die plaaslike DA-raad moedig alle DA-raadslede aan om ’n robuuste debat te voer om seker te maak dat die finale begroting in die beste belang van alle inwoners in die Kaapse metro is,” het Grant Twigg, voorsitter van die DA in die metro, gesê.

Volgens hom kan die begroting in sy huidige vorm nie deur ’n DA-regering aanvaar word nie.

“Hoewel die begrotingsproses wat deur die burgemeester in werking gestel is, nie juis ruimte laat vir enige insette deur raadslede wanneer dit opgestel word nie, wil ek raadslede aanspoor om die konsepbegroting aan te pas,” het hy in ’n verklaring gesê.

De Lille het teruggekap en gesê Twigg se verklaring oor die begroting is “absolute nonsens” en dat die begrotingsproses deur wetgewing voorgeskryf word.

“Ek sou hoop dat Twigg teen dié tyd verstaan hoe die stadsraad werk. Ek is eerlikwaar geskok deur die bisarre verklaring wat hy vandag uitgereik het.”

Sy het gesê ’n konsepbegroting word reeds deur subkomitees gedebatteer gedurende die begrotingsproses en dat Twigg self ’n voorsitter van een van die subkomitees is. Die begroting word ook aan politieke koukusse voorgelê voordat dit vir openbare deelname na die stadsraad geneem word.

Burgemeesterskomiteelede, senior bestuurders, subkomitees en koukusse is als deel van die proses voordat die konsepbegroting vir openbare deelname beskikbaar is.

Volgens De Lille was Twigg deel van die koukus wat die konsepbegroting goedgekeur het en het hy gestem ten gunste van dieselfde begroting wat hy nou kritiseer.

“Twigg het gerieflik vergeet dat ek van September tot Maart nie deel van die koukus was nie en dat ek hof toe moes gaan om deel te kon neem aan die koukus waar regeringsake bespreek is,” sê De Lille.

Die proses het ook behels dat die adjunkburgemeester en die burgemeesterskomiteelid vir finansies verantwoording moes doen in die koukus omdat hulle deel van die begrotingskomitee was.

“Geen enkele mens besluit alleen wat in die konsepbegroting ingaan nie. Burgemeesterskomiteelede, senior bestuurders, subkomitees en koukusse is als deel van die proses voordat die konsepbegroting vir openbare deelname beskikbaar is,” sê De Lille.

Meer oor:  Kaapstad  |  Patricia De Lille  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.