Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Blade sê Kaapse Metrorail-oorname is politieke foefie

Die voorneme van die Kaapstadse metroraad om die treindienste in die stad oor te neem is “onopreg, opportunisties en ’n politieke foefie”, sê dr. Blade Nzimande, minister van vervoer.

Hy het Woensdag na die metroraad gekap nadat die vorige dag aangekondig is dat ’n spesialis-taakspan aangestel sal word om ’n sakeplan vir die voorgestelde oorname van die treindienste op te stel.

Blade Nzimande, minister van vervoer.Foto: Lisa Hnatowicz

“Dit is ’n oneerlike, opportunistiese en absoluut politieke voorneme van die metroraad wat die ANC-regering se reusepoging om die spoorweë te verander in die wiele probeer ry.”

Dekades al is te min in die spoorweë belê, het Nzimande gesê.

Hy het daarop gewys dat die nasionale departement van vervoer ingevolge wetgewing “die enigste geldige vervoer-owerheid” is wat moet verseker dat spoordienste aan pendelaars gelewer word.

“Vir die metroraad om die wiel van voor af te probeer uitvind en die inmenging met die mandaat van ’n ander regeringsfeer sal nie die pendelaars help om beter, betroubare en kostedoeltreffende openbare vervoer te hê nie.”

Volgens Nzimande het die ANC-regering miljarde rande ingeploeg om weer lewe in die treindienste te blaas in ’n poging om die “nalatenskap van onderbesteding op die spoorweë” aan te pak.

“Ons dringende taak is om Metrorail te stabiliseer en ’n betroubare diens te lewer aan die hand van die huidige kapasiteit, gemeet aan ’n toename in passasiers, tevredenheid en doeltreffendheid.”

Hy sê Kaapstad se treindienste benodig sowat 110 volle treinstelle en in die 2019-’20-boekjaar word 88 volle stelle gebruik.

“Prasa [Passasierspooragentskap van Suid-Afrika] onderneem ook om omvattende werk te doen aan die infrastruktuur, wat onder meer die herstel van brûe, platforms en sinjale behels.”

Pendelaars staan tou op ’n stasie in Kaapstad om op ’n Metrorail-trein te klim. Foto: Jaco Marais

Die metroraad het Dinsdag bekend gemaak dat hy ’n multidissiplinêre span wil aanstel om die “hoëvlak-sakeplanne” vir die oorname van die passasierspoordienste in Kaapstad op te stel.

Lees meer daaroor hier.

’n Tender vir die verkryging van die dienste is onlangs uitgereik en vier aansoeke is teen die keerdatum in Februarie ontvang. Dié aansoeke word nou oorweeg en nagegaan.

Dit kom nadat die metroraad in Oktober 2017 ’n sakeplan goedgekeur het wat voorstel dat die treindienste “gestruktureerd en stapsgewys” oorgeneem word sodat daar genoeg tyd sal wees om die nodige vaardighede op te bou.

Die spesialiste sal eerstens vasstel of dit wenslik is om die treindienste oor te neem, watter sakemodel beskikbaar is, asook wat die finansiële en ander risiko’s is.

Nadat die raad dié fase hersien en goedgekeur het, sal ’n gedetailleerde sakeplan volg.

Meer oor:  Metrorail  |  Kaapse Metroraad  |  Blade Nzimande  |  Kaapstad  |  Openbare Vervoer  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.