Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
BLF-leier gaan sit toe Afrikaanse volkslied begin
Andile Mngxitama, leier van die politieke party Black First Land First (BLF) het die swartmag-teken gewys terwyl die volkslied gespeel het by die geleentheid waar die politieke partye wat op 8 Mei aan die verkiesing deelneem, die verkiesingskommissie se gedragskode onderteken het. Foto: Felix Dlangamandla

Andile Mngxitama, leier van die politieke party Black Land First (BLF) het die swartmag-teken gewys terwyl die volkslied gespeel het.

’n Rukkie later, toe die Afrikaanse en Engelse deel van die volkslied begin het, het hy gaan sit. Die ander leiers van politieke partye wat by Gallagher Estate in Midrand die verkiesingskommissie (OVK) se gedragskode onderteken het, het almal bly staan.

Onder dié leiers was pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, Mmusi Maimane, die DA-leier, dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, Mangosuthu Buthelezi, leier van die Inkatha-Vryheidsparty (IVP), Mosioua Lekota, Cope-leier, en eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP.

Groenewald se party het verlede week ’n klag by die OVK ingedien waarin hy vra BLF moet nie toegelaat word om aan die verkiesing deel te neem nie. Die klag sal nou deur die verkiesingshof aangehoor word.

Die leiers van die 45 partye wat teenwoordig was – drie ander was afwesig – het elkeen ’n minuut gekry om sy of haar party se standpunt te stel en te sê hoe dié party die OVK se gedragskode sal nakom. En hoekom.

Die leiers het almal saam op die verhoog voor sy party se vlag gesit.

Die leiers van die politieke partye wat Woensdag die verkiesingskommissie se gedragskode onderteken het. Foto: Felix Dlangamandla

Net soos verlede week toe Mngxitama sy party se kandidatelys aan die OVK oorhandig het, was die kommissie vol lof vir dié organisasie omdat hy “professioneel en ordentlik” is.

Mngxitama, wat nie skaam is om te sê sy party beywer hom net vir die belange van swart Suid-Afrikaners nie, het sy toespraak afgesluit deur na Eskom te verwys: “Bring Brian Molefe terug!”

Hlaudi Motsoeneng, omstrede voormalige SAUK-bedryfshoof en leier van die African Content Movement (ACM), het soos ’n wafferse bokser sy hande bo sy kop gehou en op en af gepomp voordat hy met sy toespraak begin het.

“Ek weet almal van julle wil in jul hart vir die ACM stem,” het Motsoeneng onder ’n gelag gesê.Dit was vreemd om te beleef hoe die 90-jarige Buthelezi ’n toespraak hou wat net ’n minuut lank geduur het. Dit was sekerlik een van die kortste toesprake in sy politieke loopbaan.

Nadat hy die gedragskode onderteken het, het Buthelezi na sy stoel agter op die verhoog begin terugstap. Op pad het hy Ramaphosa gesien en nadergestap.

Die president, soos amper altyd met sy Ipad in die hand, het opgestaan en Buthelezi vriendelik gegroet. Hulle het langer as ’n minuut met breë glimlagge gestaan en gesels.

Kort voor die einde van die geleentheid het Ramaphosa opgestaan en na Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, gestap en iets in sy oor gefluister.

Dit was duidelik die president was op pad.

’n Amptenaar van die OVK het saam met hom gestap, maar die president het eers by Meshoe gaan staan en ’n paar woorde met die eerwaarde gepraat.

Toe Ramaphosa die verhoog verlaat, het die ANC ’n “impakspeler” opgestuur om die president se plek te vul.

Sy naam was Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, maar hy het ’n minimale rol gespeel.

Meer oor:  Blf  |  Andile Mngxitama  |  Politiek  |  Rassehaat  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Volkslied
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.