Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
BLF wil OVK se beslissing beveg

Black First Land First (BLF) sal hom tot die konstitusionele hof wend om die Verkiesingskommissie (OVK) se beslissing te beveg om hom as party te skrap.

Andile Mngxitama, BLF-leier, het die OVK se bekragtiging van ’n appèlaansoek deur die VF Plus by navraag as ’n bewys “dat Suid-Afrika ’n wit land is wat aan wit vrese toegee”, beskryf. “Die OVK het bevind dat swartheid onwettig is.”

Die VF Plus het die aansoek gebring ingevolge artikel 16(1)(c) van die Wet op die Verkiesingskommissie (Wet 51 van 1996) dat die OVK nie ’n politieke party mag registreer wat lidmaatskap op grond van ras, kleur of etnisiteit uitsluit nie.

Volgens die party bepaal die BLF se grondwet in artikel 4 dat slegs swart mense lede van dié party mag wees en dat dit ongrondwetlik en teen die vermelde wet is.

Die BLF het betoog dat artikel 4 van sy grondwet nie uitdruklik wit mense verbied om lede van die party te word nie. Die party het wel erken dat “swart mense (Afrikane, bruin en Indiër mense) lidmaatskap van wit mense uitsluit”.

Volgens die OVK het die BLF se uiteensetting enige “dubbelsinnigheid” rondom die lidmaatskapkwessie uit die weg geruim en bevind dat die registrasie van die party tersyde gestel word omdat dit ongrondwetlik is.

Met die VF Plus se aanvanklike aansoek het die OVK aangevoer dat die registrasie van die BLF nie teen die bepalings van die wet is nie, omdat artikel 4 van dié party se grondwet eerder na ’n bepaalde ideologie as ’n spesifieke ras verwys.

Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het die beslissing as “ ’n groot oorwinning vir die hele Suid-Afrika beskryf, want die rassehaat en onverdraagsaamheid wat Mngxitama en sy bondgenote aanvoor en voorstaan, kan nie geduld word nie”.

Die OVK het Maandag in ’n verklaring gesê uit die voorlegging van die BLF in reaksie op die VF Plus se appèlaansoek is enige onsekerheid uit die weg geruim. Die OVK het bevind dat die party se waardes nie met dié van die Wet op die Verkiesingskommissie ooreenstem nie.

“Dit het die kwessie of die BLF ’n party is met ’n grondwet wat geregtig is op registrasie uitgeklaar. Dit is nie,” het die OVK in die verklaring geskryf.

Met verwysing na artikel 16(1)(c) van die Wet op die Verkiesingskommissie het die OVK gesê ’n aansoek vir registrasie van ’n party kan nie goedgekeur word as lidmaatskap op enige gronde verbied word soos dié uiteengesit in subartikel (ii) nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.