Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bloedneus vir Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa het die naweek ’n reuse-bloedneus gekry toe een van sy groot bondgenote, die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, so uitgejou is op ’n ANC-konferensie in KwaZulu-Natal (KZN) dat hy glad nie sy toespraak kon voltooi nie.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne.

Dié uitjouery Vrydag en die ontwrigting van die provinsiale leierskongres in die provinsie waar die ANC sy grootste ledetal het, vorm alles deel van ’n vurige terugvegpoging van die Zuma-kamp in die party.

Die voorbokke in die saal toe Mantashe doodgeskreeu is, was afgevaardigdes van die Ethekwini-streek wat deur die Zuma-groep oorheers word. Mantashe is gister stert tussen die bene terug Gauteng toe.

Zuma-ondersteuners is ongelukkig oor die manier waarop die voormalige staatshoof geïsoleer en sy oorblywende ondersteuners binne die party gemarginaliseer word.

Zuma was Vrydag, ná sy verskyning op aanklagte van bedrog en korrupsie in die hooggeregshof in Durban, weer in ’n strydlustige bui met dreigemente teen sy vyande in die ANC-alliansie.

Die oorlog tussen die Zuma- en Ramaphosa-kamp binne die party woed nou in alle felheid in KZN. As deel van die oorlog moes die provinsiale kongres die naweek ter elfder ure uitgestel word nadat die Zuma-kamp ’n dringende interdik in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gekry het.

ANC kry harde hou in verdeelde KZN.

Die temperatuur is verder opgejaag toe Supra Mahumapelo, wat ná weke se onrus en onenigheid uiteindelik gedwing is om as premier van Noordwes te bedank, sy opwagting in Durban gemaak het om Zuma te ondersteun.

Mahumapelo het ’n waarskuwing uitgestuur aan wat hy genoem het die “post-Nasrec-triomfaliste” wat so “magsdronk” is dat hulle bereid is om die ANC te verwoes.

Die provinsiale kongres moes gehou word nadat die ANC in Januarie vanjaar die provinsiale struktuur ontbind het en gelas het dat nuwe leiers gekies word. Daar was mislukte pogings om ’n “eenheidslys” van leierskandidate uit alle faksies in die provinsie op te stel in ’n poging om die geskille by te lê. Dit blyk die Zuma-faksie was nie bereid om vir hul teenstanders plek in te ruim op só ’n lys nie.

Die naweek se probleme het begin met die dringende hofinterdik deur taklede van die Moses Mabhida-streek in die hooggeregshof in Pietermaritzburg wat die verkiesingskonferensie verhoed het om voort te gaan.

Die hofsaak het blykbaar sowel die Zuma- as die Ramaphosa-faksies in die provinsie onkant betrap.

Sihle Zikalala – wat in die Zuma-groep is – en Mike Mabuyakhulu – in die Ramaphosa-groep – het gistermiddag op ’n gesamentlike mediakonferensie gesê hulle is bekommerd oor die feit dat hofstukke ingedien is ’n halfuur of selfs minder voordat die saak Vrydagmiddag aangehoor is, “en waarom die ANC nie kans gegee is om te antwoord op die beweringe teen hom nie”, het Zikalala gesê.

Hulle het aangebied om te getuig oor die maatreëls wat getref is om te verseker dat alle ANC-lede kan deelneem aan die proses om afgevaardigdes vir die konferensie te kies. Die regter het egter gesê dis onnodig. Hy sal hulle met die keerdatum vir die bevel aanhoor.

Die keerdatum is eers op 7 Julie, maar Zikalala en Mabuyakhulu gaan Maandag die hof nader om dit te probeer vervroeg. “Ons wil binne ses weke weer die konferensie hou,” het Zikalala gesê.

Die twee groepe het die afgelope twee weke ernstige beraadslagings gehou weens die vlaag politieke moorde wat die provinsie teister en wat uit die verdeeldheid tussen hulle voorspruit.

Hulle het ’n skikking bereik oor leiersposte en sou dit op die konferensie aan die afgevaardigdes voorlê.

Daarvolgens sou Zikalala voorsitter in die provinsie en Mabuyakhulu ondervoorsitter wees. Die res van die vyf topposte in die nuwe struktuur sou tussen die twee groepe verdeel word.

“Ons sou nie leiers op die konferensie afdwing nie. Hulle sou deelneem aan die aanwys van die nuwe leierstruktuur, maar ons het ver gevorder met ’n voorstel daaroor aan die konferensie,” het Mabuyakhulu in ’n onderhoud met Rapport gesê.

Zuma was egter glad nie deel van die skikkingsproses nie. Hy is ook nie formeel daaroor ingelig nie, het Rapport op goeie gesag verneem.

As die eenheidsplan geslaag het, sou die provinsie ’n goeie kans gehad het om die komende verkiesing as ’n verenigde front aan te pak. Dit sou pres. Cyril Ramaphosa ook kon help om sy mag in die party te versterk.

“Die ANC in ons provinsie is in groot, groot moeilikheid. Diegene wat hof toe is en wat Mantashe doodgeskreeu het, is ’n minderheid, maar hulle respekteer geen reëls nie en hou die res van die provinsie gevange,” het Bheki Cele, minister van polisie en ’n veteraan in die provinsiale politiek, aan Rapport gesê.

’n Streekvoorsitter wat nie sy naam genoem wou hê nie, het gesê daar is geen twyfel dat die gebeure agter die skerms deur die Zumagesinde groep aangevoor word nie.

“Dit wat met Gwede gebeur het, is heeltemal ongehoord in die ANC.”

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Jacob Zuma  |  Zuma-Faksie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.