Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bloem sloer oor MRK-klagtes, meen DA
’n Blik op Bloemfontein in die Vrystaat.Foto: Getty Images

Daar word beweer dat Bloemfontein se Mangaung-metro doelbewus ’n klag wat die DA-koukus saam met Patricia Kopane, die DA se Vrystaatse leier, by die Menseregtekommissie ingedien het, ignoreer.

Die klag is reeds in November verlede jaar ingedien en handel oor die agteruitgang van dienslewering in die metro.

Hardie Viviers, ’n Bloemfonteinse prokureur en DA-koukusleier, beweer in ’n verklaring die metro ignoreer hul besware soos uiteengesit in die klag.

Volgens Viviers het sy party ’n dossier met al die relevante klagte en probleme wat op ’n wyk-tot-wyk-basis uiteengesit is oor probleme met water en sanitasie in die Rosestad, aan die MRK oorhandig.

Agttien maande later het die metro deur middel van die MRK laat weet hy het meeste van die klagte hanteer, maar dat meeste daarvan ook flagrante leuens was.

Intussen het nuwe uitdagings met dienslewering in die metro na vore gekom, sê Viviers.

Hy sê die metro se antwoorde is “totaal onvoldoende” met geen duidelike aanduiding oor hoe die probleme opgelos gaan word nie.

Hardie ViviersFoto: Netwerk24

Selfs die DA het meer duidelikheid gevra oor hoe die metro voorstel diensleweringsprobleme opgelos gaan word, sê Vivier.

Volgens hom gaan dit waarskynlik weer etlike maande neem voordat die munisipaliteit op die versoek reageer.

Viviers sê die ANC het herhaaldelik gewys dat dienslewering nie sy voorkeur is nie en dat die welstand van inwoners sekondêr is tot die party en sy lede se strewe na mag.

Viviers sê net in die afgelope week was van die inwoners van Bloemfontein vir drie dae lank sonder water oor die tweespalt tussen die metro en Bloemwater.

Die DA bly daartoe verbind om die metro aanspreeklik te hou sodat dienste aan al die inwoners van die metro gelewer word.

Qondile Khedama, hoofbestuurder van kommunikasie van die metro, sê by navraag hulle het die brief van die MRK verlede week ontvang.

“Ons is in voortdurende gesprek en interaksie met die MRK gewikkel. Ons het op hulle navrae gereageer en ook weer in gesprek met Bloemwater getree.

“Die MRK is saam met ons bekommerd dat menseregte geskend word as Bloemwater waterlewering tot 30% verminder en ’n deel van Bloemfontein se inwoners sonder water gelaat word omdat water ’n basiese mensereg is.

“Die MRK het ook vir die metro gesê dat ons die beste van alle munisipaliteite in die provinsie reageer wanneer dit kom by die oplos van water- en sanitasieprobleme en die spoed waarmee ons navrae hanteer.”

Qondile KhedamaFoto: Mangaung-metro

Khedama sê as munisipaliteit gaan hulle voort om te kyk hoe water- en sanitasieprobleme verder opgelos kan word. “Dit is die DA se reg om ’n klag by die MRK in te dien. Ons doen ons bes om nie die inwoners van die metro se menseregte te skend nie.”

Khedama het bevestig die metro skenk tans aandag aan ’n tekort aan behuising in Bloemfontein en probleme met rioolvuil wat oorloop. Daar word ook na ander bronne van water gekyk.

Daar word ook op hoë vlakke gesprekke gevoer om die geskil tussen die metro en Bloemwater finaal op te los.

Lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) besoek Bloemfontein vandeesweek om die probleme aan te hoor.

Olly Mlamleli, die metro se burgemeester, sal dan saam met bestuurslede van Bloemwater die watergeskille tussen die partye aan die LP’s moet verduidelik.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Mangaung-Metro  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.