Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Blou ligte uit in NK . . . en vonke spat klaar in VS

Terwyl die nuwe Noord-Kaapse premier op sy inhuldiging ’n verbod geplaas het op rooi tapyte en blouligbrigades vir hom en sy kabinet, het die vonke reeds in die Vrystaatse wetgewer gespat.

Dr. Zamani Saul het Woensdag in sy toespraak in Kimberley gesê net die Noord-Kaapse polisiekommissaris mag ’n bloulig-gevolg in dié uitgestrekte provinsie gebruik.

Drie wetgewerlede, Sandlana Smit (ANC), Limakatso Mahasa (ANC) en Dévar Smit (VF Plus), wat gister as lede van die Vrystaatse wetgewer ingehuldig is. Foto: MLUNGISI LOUW

Saul is saam met 29 ander partyverteenwoordigers deur regterpresident Pule Tlaletsi van die Noord-Kaap as wetgewerlede ingehuldig.

In Bloemfontein het Mandisa Makesini, die EFF-koukusleier, Woensdagoggend sommer dadelik onder die ANC-hoës ingeklim en gesê dié provinsie “rittel van die korrupsie”.

Omtrent al die provinsie se munisipaliteite onder die ANC se beheer het in duie gestort en miljoene rande se regeringsgeld is vermors, het sy onder luide protes van die ANC gesê.

Makesini het boonop gesê almal wat omtrent niks beteken nie, kry werk in die Vrystaatse premierskantoor. Sy het dit ’n “vlugtelingkamp” genoem.

In teenstelling daarmee het Saul in Kimberley luide toejuiging van die sowat 2 000 teenwoordiges in die Mittah Seperepere-konferensiesaal ontlok toe hy ’n gebed aangehaal het waarin hy God verskoning vra vir “selfsug en arrogansie”. Hy het ook hulp versoek om “ ’n lig te wees wat helder in donker plekke skyn en ’n brug vir mense in nood te wees”.

“Help ons in die Noord-Kaapse wetgewer om eerbare en beter diensknegte te wees.”

Hy het gesê hy wil baie graag saam met die opposisiepartye werk om ’n beter samelewing te skep.

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, lag toe Shadrack Tlhaole, die EFF se provinsiale sekretaris, sy veiligheidshoed op sy kop wou sit. Foto: CHARNÉ KEMP

Hy sal sy taak met ’n onwrikbare gewete en nederigheid verrig.

Newrene Klaaste, nuwe speaker, het ’n gelag ontlok toe sy die EFF die “Ekonomiese Vryheidsfront” genoem het en daarop etlike kere verskoning gevra het. Shadrack Tlhaole, die EFF se provinsiale sekretaris, het dit glimlaggend aanvaar.

Aubrey Baartman, EFF-voorsitter, en Danie Coetzee, VF Plus-LW, het hul eedsverklarings in Afrikaans afgelê, en Tlhaole en Kesholohetse Lepolesa, EFF-LW, in hul moedertaal.

Die adjunkspeaker is Mangaliso Matika wat verlede jaar te midde van protesaksie en onder groot druk as burgemeester van Kimberley bedank het.

Die inhuldigingsgeleentheid vir Vrystaatse wetgewerlede en die verkiesing van ampsdraers is in die Vierde Raadsaal in Bloemfontein gehou. Die media en die publiek kon nie op die galery sit nie omdat dit struktureel te gevaarlik geword het.

Sisi Ntombela, geklee in ’n roomkleurige rok met baie borduursel en spog-kralewerk, is in die vergadering onder luide ANC-applous weer tot die Vrystaatse premier verkies. Ntombizanela Sifuba, wat voorheen ’n adjunk-direkteur vir monitering en evaluasie in die Vrystaatse departement van maatskaplike ontwikkeling was, is tot speaker verkies.

  • Die omstrede Vusi Tshabalala, voormalige uitvoerende burgemeester van Maluti-A-Phofung (Qwaqwa, Harrismith en Kestell), is tot hoofsweep verkies, Lucy Mapena tot adjunk-speaker en die voorsitter van komitees is nou Mojalefa Buti.
Meer oor:  Dr. Zamani Saul  |  Vrystaat  |  Noord-Kaap  |  Da  |  Anc  |  Eff  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.