Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bobani oorleef marathon-vergadering in NMB
bobani
Mongameli Bobani kyk na Athol Trollip terwyl Trollip hom daarvan beskuldig dat hy die eienaars van KMMO’s opsweep. Foto’s: Lulama Zenzile

Ná ’n marathon-vergadering van tien uur het Mongameli Bobani (UDM) se voorspelling dat hy aan die einde van die raadsvergadering Maandag steeds Nelson Mandelabaai se burgemeester gaan wees, waar geword. 

’n Mosie van wantroue teen Bobani is ná ’n dag van hoogdrama in die raad en nadat speaker Buyelwa Mafaya regsadvies ingewin het, nooit ter tafel gelê nie. 

Raadslede het ook nie die groen lig gegee dat sewe uitvoerende direkteure, insluitende die finansiële hoofbeampte, aangestel word nie.

Mafaya het die spesiale raadsvergadering byeen geroep nadat 117 uit die 120 raadslede van die metroraad ’n petisie onderteken het. Hulle het aangedring op die vergadering omdat hulle Bobani by wyse van die wantrouemosie uit die kussings wou lig.

Toe die vergadering begin, het Mafaya van die brief melding gemaak wat die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Xolile Nqatha, aan die metroraad gerig het.

Nqatha het onlangs die groen lig gekry om by die metro in te gryp.Cogta wil ingryp weens Bobani en sy raadslede se versuim om die poste van uitvoerende direkteure te vul, weens die aanstelling van ’n ongekwalifiseerde munisipale bestuurder, en die metro se versuim om vergaderings te hou. Voor Maandag het die metro vier maande laas vergader.

Cogta se ingryping kan daartoe lei dat die metro onder administrasie geplaas word en selfs ontbind word.Mafaya wou dié brief bespreek en sy wou eers die uitvoerende direkteure aangestel kry. ’n Meerderheid van die raadslede het kapsie gemaak, want hulle wou eers die wantrouemosie aanhoor.

Ná ’n lang debat en talle vertragings het Mafaya aangekondig die ANC, EFF en die AIC het hul steun vir die petisie onttrek, wat die petisie dus ongeldig maak. Sy het gemeen dat die wantrouemosie nie aangehoor kan word nie, want die petisie is ongeldig.

speaker
Speaker Buyelwa Mafaya moes heeldag vure doodslaan.

Terwyl regsadvies ingewin is, het dit aan die lig gekom Mafaya, Tshonono Buyeye (onderburgemeester) en Marlon Daniels van die Patriotic Alliance het doodsdreigemente ontvang.

Die dreigement het glo gelui dat die bloed, ook dié van hul families, sal vloei indien hulle sou help om Bobani uit die kussing te lig. Daniels het gesê hoewel hy simpatiek is teenoor diegene wat dreigemente ontvang het, gaan hy hom nie deur vrees laat regeer nie.

Athol Trollip van die DA het gesê die stad word gyselaar gehou en in die afgrond gedryf as gevolg van een man (Bobani). Hy het Bobani daarvan beskuldig dat hy die eienaars van klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) mobiliseer en dat dié optrede verlede jaar gelei het tot die dood van 18 mense.

Hierna is die regsmening van adv. Paul Notyhawa voorgelees. Sy mening was dat die petisie nie geldig is nie. Trollip het gesê Notyhawa het politieke affiliasies met sekere mense in die metroraad.

Notyhawa is ’n voormalige ANC-raadslid. Raadslede het geweier om Notyhawa se mening te aanvaar. Hierna is die regsmening van ’n advokaat Patel ingewin, wat ook van die mening was dat die petisie ongeldig is.

Die vraag wat die metroraad aan Patel gestel het, was of die raadsvergadering kon voortgaan, aangesien ’n meerderheid raadslede voor die vergadering hul steun aan die petisie onttrek het.

Raadslede het hardop geskree Mafaya het Patel mislei, in die lig daarvan dat dit net die EFF was wat voor die vergadering kleinkoppie getrek het. Daniels het gesê behalwe vir die EFF, het die ander tydens die vergadering aangedui hulle onttrek aan die petisie. Nog ’n hewige debat het gevolg. Mafaya het kort voor 19:00 uit haar stoel opgespring en die raadsaal verlaat.

Die vergadering is beëindig toe daar nie meer ’n kworum was nie.

Bobani het ná die vergadering daarop gewys dat dit nie nodig is vir Cogta om by die metro se sake in te meng nie. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.