Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bobani uit, nou stryd om nuwe burgemeester te verkies

Die uitgerekte stryd wat dit geverg het om van Mongameli Bobani as burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro ontslae te raak, is ’n voorskou van die proses om sy opvolger te verkies.

Só meen Ongama Mtimka, ’n dosent, navorser en politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth, nadat ’n wantrouemosie Donderdag teen Bobani eers ná die vierde poging geslaag het.

Die wantrouemosie teen Bobani is op ’n raadsvergadering aangehoor. Uit die 118 raadslede het 108 op die vergadering die mosie ondersteun om Bobani as die hoof van die metro te verwyder.

Bobani (UDM) het sowat 15 maande gelede die burgemeestersamp by Athol Trollip (toe nog ’n DA-lid) oorgeneem nadat Trollip ook deur ’n wantrouemosie as burgemeester verwyder is.

Mongameli Bobani
Mongameli Bobani op Donderdag se raadsvergadering in die Nelson Mandelabaai-metro voordat hy as burgemeester uitgestem is. Foto: Lulama Zenzile

Volgens Mtimka kan die onenigheid tussen politieke partye, soos duidelik geblyk het met Bobani wat keer op keer die valbyl vrygespring het, ook nou weer opvlam wanneer oor die nuwe burgemeesterskandidaat besluit word.

“Nie een party in die metro het met ’n volstrekte meerderheid stemme die vorige verkiesing gewen nie. Dus is daar baie verdeeldheid in die raad en moet mense op koalisies staatmaak. Maar ons het reeds gesien dat elke party tog hul eie administrasie in beheer wil sien. Daarom vermoed ek dit gaan selfs ’n groter stryd wees om ’n nuwe burgemeester te verkies as wat dit was om die vorige een uit te kry.”

Joleen Steyn-Kotze, ’n senior spesialisnavorser in demokrasie van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), sê die sleutel tot welslae vir die metro gaan politieke volwassenheid van elke politieke party verg.

“Die raad het ’n politieke teater geword, waar partye hul eie agendas dryf, eerder as om dienslewering en ander belange van inwoners te bevorder.”

Steyn-Kotze meen ook dit is belangrik dat die metro nou ’n burgemeester verkies wat stabiliteit in die raad kan bring en ’n sterk speaker is ook nodig.

“Wat ook belangrik gaan wees is die burgemeesterskomiteelede wat gekies gaan word. Daar moet regtig gekyk word na watter lede hul portefeuljes bevorder en wie saam met die nuwe burgemeester kan werk.”

Steyn-Kotze en Mtimka is dit eens dat Bobani se leierskap oor die afgelope paar maande nie die metro bevoordeel het nie.

Bobani gaan glo nie die trekpas gelate aanvaar nie. Daar word wyd bespiegel dat regstappe vir volgende week beplan word omdat die regte prosedure glo nie gevolg is nie.

Bobani het by navraag gesê alles sal binnekort onthul word wanneer hy ’n mediakonferensie hou.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het Vrydag gesê hy is nie bewus van enige planne om die wantrouemosie se besluit in die hof te betwis nie.

“Ek kan my nie voorstel dat dit die ingesteldheid van die mense wat (vir die wantrouemosie) gestem het, sal verander nie. Maar dit kan wees dat die prosedure bevraagteken word.”

Holomisa sê hy sal eers die naweek ’n volledige verslag van die raadsvergadering se gebeure kry en daarna meer breedvoerig kommentaar kan lewer.

Intussen is Tshonono Buyeye van die AIC die waarnemende burgemeester, maar partye begin reeds kyk na kandidate.

Die EFF, wat met die wantrouemosie teen Bobani buite stemming gebly het, het reeds Vrydag aangedui hulle sal ’n burgemeesterskandidaat aanwys.

Yazini Tetyana, EFF-voorsitter in die Oos-Kaap, sê die EFF het buite stemming gebly omdat hulle nie mosies van die DA ondersteun nie.

Die wantrouemosie is vroeër deur die DA-raadslid, Morné Steyn, ingedien.

Tetyana sê hulle hoop om soos in Johannesburg ’n kandidaat vanuit hul geledere in Port Elizabeth te kan kies.

Luyolo Nqakula, die ANC se streeksvoorsitter, het by navraag gesê hulle praat nog intern oor die kwessie van ’n burgemeesterskandidaat.

Ook Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse leier van die DA, kon nie Vrydag bevestig of hulle ’n kandidaat vir die burgemeestersamp beskikbaar gaan stel nie.

“Ons het gedoen wat ons moes doen. Bobani is uit. Ek het die DA se senior bestuur oor die gebeure ingelig en hulle moet besluit oor wat die party volgende in die metro sal doen.

“Ons sal voortgaan met ons gesprekke agter geslote deure met die opposisiepartye, soos ons gedoen het om Bobani te verwyder,” sê Bhanga.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.