Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bobani: Vergadering ‘weens vrese vir geweld’ uitgestel

Vrese dat geweld op ’n raadsvergadering van die Nelson Mandelabaai-metro gaan uitbreek, is Donderdag na bewering as rookskerm gebruik om te keer dat Mongameli Bobani, burgemeester, se kop tydens ’n wantrouemosie rol.

Dit is die vyfde poging om hom deur ’n mosie van wantroue uit sy amp as burgemeester te onthef.

Lede van die DA, ANC, ACDP en Cope, wat saam ’n meerderheidstem in die metro het, was in die aanloop tot die raadsvergadering daarop ingestel om Bobani se kop te laat rol.

Ondersteuners van die UDM en die UF het die ingange na die raadsaal versper. Foto’s: Lulama Zenzile

Hul planne is egter in die wiele gery toe die speaker, Buyelwa Mafaya van die ANC, ter elfder ure aangekondig het dat die vergadering uitgestel is.

Volgens Mafaya het sy besluit om dit uit te stel nadat raadslede glo met geweld gedreig is. Mafaya het nie bevestig wie hierdie raadslede is nie.

Lede van die UDM en die UF, wat saam net drie setels in die raad van 120 raadslede het, het Dinsdag gewaarsku dat die “bloed kan vloei” in hul poging om te keer dat die raadsvergadering voortgaan.

Die EFF het sy steun vir die mosie Dinsdag onttrek “omdat hy geen waarborg het dat daar nie weer ’n burgemeester uit DA-geledere aan die bewind gaan wees as Bobani die trekpas kry nie”.

Mafaya het gesê sy het die “moeilike besluit” geneem nadat sy met die polisie gepraat het.

Die DA, ACDP en Cope het by die raadsaal opgedaag met die hoop om ’n kworum te kan vorm.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiekommissaris, het egter stellings weerlê dat die vergadering op grond van advies deur die polisie uitgestel is.

“As deel van ons standaardprosedures hou die polisie plekke dop waar geweld kan uitbreek. In dié geval het ons ons beplanning gedoen en was ons gereed om wet en orde te handhaaf.

“ ’n Organiseerder besluit of hulle ’n byeenkoms gaan kanselleer as hulle dink dit gaan onveilig wees. Ons (die polisie) het niemand aangeraai om enige vergadering te kanselleer of uit te stel nie,” sê Ntshinga.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het om 06:00 op Twitter, en sowat ’n halfuur voordat die metro die media ingelig het dat die vergadering uitgestel is, laat weet die vergadering is tot verdere kennisgewing uitgestel.

“Dit is gegrond op raad van die SAPD weens ’n veiligheidsrisiko,” het Holomisa getwiet.

Mafaya het nadat sy haar verklaring uitgereik het nie gereageer op navrae oor hoekom Ntshinga haar stellings betwis nie.

’n Klein skare betogers van die UDM en UF het die ingange van die raadsaal versper om te verhoed dat die vergadering plaasvind.

Hulle het lede van die DA, Cope en die ACDP uitgejou toe hulle ondanks die kansellasie by die raadsaal opgedaag het.

Betogers het lede van die DA voor die raadsaal uitgejou.

Dié partye het gehoop om ’n kworum te kan vorm sodat die vergadering kon voortgaan.

Hulle bestempel die uitstelling as ’n goedkoop taktiek om Bobani se bas te red.

Die ANC se streekskoördineerder, Luyolo Nqakula, sê Mafaya het die party oor die kansellasie ingelig. Hy sê Mafaya is kragtens wet by magte om dié besluit te neem, want sy is verantwoordelik vir raadslede se veiligheid.

In die lig daarvan dat die polisie ontken dat die besluit om die vergadering te kanselleer gegrond was op raad van die SAPD sê Nqakula: “Ons wag op ’n dringende verslag wat ons hieroor aangevra het ”

Hy het erken daar was genoeg mense om Bobani uit te stem.

Athol Trollip, DA-koukusleier, het gesê die metro het ’n “mafia-staat” geword en ’n klein groep mense hou die stad as gyselaar.

“Ons het talle vergaderings gehad met ander partye insluitend die ANC en almal het saamgestem dat Bobani moet waai, maar toe die tyd aanbreek om dit te laat gebeur was hulle skoonveld.”

Siya Sijadu van Cope sê hulle wou Donderdag ’n “tiran” verwyder het.

“Hy mag dalk vandag oorleef, maar môre is nog ’n dag en sy tyd gaan kom. Hy moet die eerbare ding doen en bedank, maar hy klou vas aan sy netwerk van korrupsie.”

Lance Grootboom van die ACDP sê al die “leuens” wat vertel is om Bobani te beskerm, is ten koste van die inwoners van die metro.

Volgens Trollip gaan hulle die nasionale regering vra om in te gryp om weer orde en stabiliteit na die metro te bring.

Daar is nog nie op ’n datum vir die volgende raadsvergadering besluit nie.

Bobani kon nie vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.