Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Boek oor Ace nie in openbaar verbrand ná ANC ingryp
Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC.Foto: CITY PRESS

Die verdoemende boek oor Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, gaan wel nie meer in die openbaar verbrand word nie, maar dit bly volgens die ANC-jeugliga in die Vrystaat “ ’n propaganda-masjien teen die ANC” in aanloop tot die verkiesing.

Dié beplande massaverbranding van Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture op 15 April op die Mangaung-Suid-stortingsterrein in Bloemfontein, is Woensdag laat vaar nadat die ANC én sy jeugliga op nasionale vlak ingegryp het.

Dakota Legoete, ANC-woordvoerder, het Woensdag aangekondig dat enige ANC-lid wat in die naam van die party by sulke “boewery” betrokke is, sal intern getug word.

Dit kom nadat ANC-lede ook Dinsdagaand die boek se bekendstelling in Sandton ontwrig het.

Dié optrede is skerp deur die ANC, die parlement, die boek se uitgewer, politieke partye, die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) én ander belanghebbendes veroordeel.

Magashule, ’n voormalige Vrystaatse premier, het Woensdag gesê die ontwrigting en dreigemente teenoor skrywers en joernaliste word nie in sy naam gepleeg nie omdat dit op “politieke onverdraagsaamheid en teen vryheid van spraak vir alle Suid-Afrikaners” neerkom.

“Ek het my organisasie ingelig dat ek regstappe gaan doen oor die vals bewerings wat in die boek gemaak word. Waar ons nie saamstem met die menings wat in die boek, die media en ander platforms uitgedruk word nie, moet ons vreedsame en grondwetlike middele gebruik om met diegene te handel wat leuens en fopnuus versprei,” het Magashule in ’n verklaring gesê.

Ek het my organisasie ingelig dat ek regstappe gaan doen oor die vals bewerings wat in die boek gemaak word.

Sello Pietersen, woordvoerder vir die ANC-jeugliga in die Vrystaat, het bevestig dat die beplande massa-verbranding ná ’n gesprek met hul nasionale leiers afgestel is.

“Ons sal as gedissiplineerde ANC-lede nie ons nasionale leiers minag nie.”

Pietersen het dit egter duidelik gestel dat die ANC-jeugliga in die Vrystaat se gevoel oor die boek nie verander het nie. “Ons glo steeds dit hoort nie op die winkelrakke nie omdat dit vol leuens én kwaadwillig is. Dit is ’n propaganda-masjien teen die ANC en sy leiers wat in aanloop tot die verkiesing gebruik word.”

So het mense Dinsdagaand die bekendstelling van ’n verdoemende boek oor Ace Magashule in Sandton ontwrig.Foto: FELIX DLANGAMANDLA

Baleka Mbete en Thandi Modise, die parlement se politieke hoofde, het gesê die strafregstelsel moet ’n sterk en duidelike boodskap uitstuur dat sulke optrede geen plek in ’n grondwetlike demokrasie het nie. Hulle meen gegriefdes moet wetlike kanale volg om die inhoud van die boek te betwis.

Penguin Random House, die uitgewer, het gesê dat die ontwrigting en uitbrand-dreigemente aan die Nazi-era in Duitsland herinner.

“Ons hoop Ace Magashule en sy ondersteuners kry die boodskap dat geen intimidasie ons sal afskrik nie. Of dit dreigemente is om hof toe te gaan, die ontwrigting van boekbekendstellings of die verbranding van boeke, ons sal nie stilgemaak word nie.”

Die boek word Donderdag ook in Exclusive Books in die V&A Waterfront in Kaapstad bekend gestel.

Intussen het Patricia Kopane, DA-premierskandidaat in die Vrystaat, gesê sy gaan strafregtelike klagte indien teen twee Vrystaatse munisipale raadslede wat duidelik op foto’s van die Sandton-ontwrigting gesien kan word. Sy sal ook amptelik versoek dat die twee geskors word.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê as die ANC verantwoordbare regering voorstaan, “sal hy eerder daarop aandring dat die ernstige bewerings in die boek, wat selfs moord insluit, deeglik ondersoek word”.

Gareth van Onselen, hoof van politiek en regering van die Instituut van Rasseverhoudinge, het Woensdag gesê die vernietiging van boeke skep ’n onheilspellende, gevaarlike en onaanvaarbare presedent wat die oppergesag van die reg regstreeks kan bedreig.

Die instituut meen om dié rede moet daar spoedige gevolge vir dié soort optrede wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.