Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Boere eis Piet Doek se kop oor grond

Die politieke ontleder dr. Piet Croucamp hou vol dat AfriForum se adjunkhoof, Ernst Roets, ’n “wit terroris” is, maar sê dat boere sy opmerking oor plaasgrond “wat gesteel is” verkeerd verstaan.

Dr. Piet Croucamp

Croucamp het hom die afgelope week die gramskap van AfriForum-ondersteuners op die hals gehaal toe hy op ’n regstreekse uitsending van die RSG-program Kommentaar vanaf Stellenbosch se Woordfees AfriForum se betrokkenheid by die nuwe landbou-organisasie Saai gekritiseer het.

“Ek dink Roets is ’n wit terroris wat spook by dié debat. AfriForum is vir my ook ’n gevaarlike teenwoordigheid,” het Croucamp gesê.

“Hulle het ’n ander agenda, hulle is ondemokraties, en daai tipe wederstrewigheid het ons nie nodig in Suid-Afrika nie.”

Croucamp het die afgelope week sy opmerkings verdedig en gesê Roets “vat mense aan op ’n redelik militante manier. Dit wil dan voorkom asof AfriForum dink dat die verlede (apartheid) nie ’n menseregteskending was nie.”

AfriForum help Saai, wat sowat twee weke gelede gestig is, om “familieboerderye” se belange te verteenwoordig, met administrasie en werwing.

Saai se direksievoorsitter, Theo de Jager, was tot 2014 adjunkpresident van Agri SA.

Croucamp het sy ondersteuning vir Dan Kriek, president van Agri SA, uitgespreek en gesê “hy doen die regte ding”. Croucamp het gesê “hy hoop nie” die ANC hoor hom nie, maar daar is ideologies geen verskil tussen Kriek en pres. Cyril Ramaphosa oor grond nie. “En dis nie Dan Kriek wat oorgestap het na die anderkant toe nie, Ramaphosa het (na hom) oorgestap.”

Een van die ander paneellede, die joernalis Max du Preez, het ook gesê hy voel kriewelrig oor die uitgebreide invloed wat AfriForum verkry.

Louis Meintjes, president van die TLU, eis dat die Noordwes-Universiteit (NWU), Croucamp se werkgewer, teen hom optree oor die “vergesogte stellings” oor grond, maar Croucamp sê hy het nooit gesê die grond is gesteel nie, maar bloot dat dié narratief ’n belangrike een in Suid-Afrikaanse politiek is.

Roets sê hoewel hulle “oorval” is met pleidooie om stappe teen Croucamp te doen, dink hy nie dis sinvol nie.

*Lees Theo de Jager se artikel hier.

Meer oor:  Piet Croucamp  |  Ernst Roets  |  Woordfees  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.