Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Boere is op hul eie, sê AfriForum
Ian Cameron Foto: Nico Gous

Gemeenskappe in landelike gebiede moet hulself beveilig omdat die regering nie sy mandaat vervul om hulle te beskerm nie, sê AfriForum.

Dié burgerregte-organisasie het Woensdag saam met Saai, ’n landboubelangenetwerk vir familieboere, statistieke vir plaasaanvalle en -moorde in 2019 op ’n mediakonferensie in Centurion bekend gemaak.

Luidens dié data was daar ’n klein toename in plaasmoorde – van 54 moorde in 2018 tot 57 in 2019.

AfriForum is egter meer bekommerd oor die aantal plaasaanvalle wat luidens sy statistieke van 433 aanvalle in 2018 tot 552 aanvalle in 2019 gestyg het.

“Mense is siek en sat gewag vir die regering om op te tree. Die polisie het nie die vermoë om hulle te beveilig nie en die statistieke wys dit,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid.

Hy het spesifiek gekap na die polisie omdat dié volgens Cameron onder meer sloer om sy landelike beveiligingsplan wat in Oktober 2019 van krag geword het, toe te pas.

“Ons is op ons eie,” sê hy.

Kenners van die georganiseerde landbou sê egter daar is positiewe tekens dat die polisie erns daarvan maak om misdaad in landelike gebiede te takel.

“Die landelike beveiligingsplan gaan nie oornag toegepas word nie, want daar is koste en infrastruktuur aan verbonde. Ons is positief ná ons gesprekke met die polisie,” sê Tommy Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se sentrum vir landelike veiligheid.

Tog stem hy saam met Cameron dat gemeenskappe binne die raamwerk van die Grondwet sterker stappe moet doen om hulself te beveilig deur onder meer opleiding te ondergaan en by buurtwagte betrokke te raak.

“Ons moedig ook landelike gemeenskappe aan om hulself te bewapen, hoewel vuurwapens altyd verantwoordelik gebruik moet word. Ons moet vuur met vuur beveg,” sê Cameron.

Ons moedig ook landelike gemeenskappe aan om hulself te bewapen, hoewel vuurwapens altyd verantwoordelik gebruik moet word. Ons moet vuur met vuur beveg.

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie stel nog sy plan in werking. Die polisie moedig rolspelers aan om agter dié plan te verenig.

Die statistieke

Die polisie het nog nie sy plaasmoordsyfer vir die 2019-’20-boekjaar bekend gemaak nie.

AfriForum se statistieke oor plaasmoorde stem wel ooreen met dié van TLU SA, maar dié twee organisasies se statistieke oor plaasaanvalle verskil drasties.

Volgens Bennie van Zyl, bestuurder van TLU SA, het sy organisasie 419 aanvalle in 2019 aangeteken – aansienlik minder as AfriForum se syfer van 552 plaasaanvalle in 2019.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.Foto: Argief

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies sê die feit dat die polisie, TLU SA en AfriForum se plaasaanvalsyfer jaarliks van mekaar verskil, kan verwarring veroorsaak.“Die verskil in syfers kan deels daaraan toegeskryf word dat die definisie van wat ’n plaasaanval behels, nie deur almal eenders toegepas word nie. AfriForum en TLU SA maak ook baie staat op hul lede om plaasaanvalle aan te meld,” sê Burger.

Al drie gebruik die polisie se definisie vir ’n plaasaanval wat aanvalle op kleinhoewes insluit, maar daar is glo nie eenstemmigheid oor hoe dit toegepas moet word nie.

Volgens Burger kan plaasaanvalle nie afsonderlik beskou word van die misdaadsituasie in die land nie. Hy sê daar bestaan ’n korrelasie tussen die toename in die aantal plaasaanvalle die afgelope tien jaar en die toename in die aantal huisrooftogte wat in stedelike gebiede aangemeld is.

Luidens die polisie se statistieke vir 2018-’19 word tussen 57 en 58 mense per dag in Suid-Afrika vermoor, wat meer is as al die mense wat verlede jaar in plaasmoorde dood is.

Ons wil bloot hê dat plaasaanvalle dieselfde gehanteer word as ander prioriteitsmisdade.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê AfriForum wil nie hê plaasaanvalle moet bo ander misdade spesiale behandeling ontvang nie.

“Ons wil bloot hê dat plaasaanvalle dieselfde gehanteer word as ander prioriteitsmisdade. In verhouding tot die bevolking stem plaasmoorde en -aanvalle met bende-geweld op die Kaapse Vlakte ooreen. Daar kort ook ’n spesiale benadering om landelike veiligheid te verseker, omdat dit van stedelike gebiede verskil,” sê Kriel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.