Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Boere vra Maimane uit oor Schweizer-voorval

Boere in Douglas het Mmusi Maimane, DA-leier, Woensdag uitgevra oor die party se hantering van die voorval waarin ’n onderwyseres in Schweizer-Reneke van rassisme beskuldig is.

Mmusi Maimane, DA-leier, is Woensdag hier saam met boere in Douglas waar hy vrae oor die verkiesing beantwoord het. Foto: Charné Kemp

Maimane was op ’n verkiesingsveldtog in die Noord-Kaap.

Die landbouers se grootste kommer was Eskom se toekoms en watervoorsiening. Grondhervorming was volgens ’n leierboer die “kleinste” van sy kwellings.

Basie Heckroodt het Maimane gevra hoekom die DA die voorval waarin Elana Barkhuizen, ’n onderwyseres van Schweizer-Reneke, van rassisme beskuldig is, nie beter hanteer het nie.

Hy het verwys na Luyolo Mphithi, die DA se federale jeugleier, wat daarvan beskuldig is dat hy die foto van kinders – waarop hul gesigte herkenbaar is – en Barkhuizen se naam onthul het.

Maimane het gesê wanneer hy, wat deel was van bantoe-onderwys, ’n foto sien van wit en swart leerlinge wat afsonderlik sit, maak dit seer.

“Ons jeugleier het nie verdelende stellings gemaak nie; ek het die opnames van sy onderhoude om dit te bewys. Ek, wat ’n Suid-Afrika vir almal bepleit, sal nie ’n rassegeveg aan die gang sit nie.”

Maimane sê die swartbemagtigingsbeleid moet hersien word.

“Ondernemings moet eerder punte verdien wanneer hulle werknemers vir opleiding stuur of hulle ondernemingsbestuurskursusse laat ondergaan. Die beleid moet inklusief en op onderwysuitsette gegrond wees.”

As ons die beurtkrag wat in Maart vanjaar toegepas is, in Oktober tot Februarie in die bestuiwingstyd gehad het, was ons onderdeur.

Maimane sê die regering bestee ’n onvolhoubare miljard rand per dag aan diesel om Eskom se ligte aan te hou.

“Die ANC-regering hou net die ligte tot met die verkiesing aan. Hulle hoop prysverhogings sal die probleme oplos.”

Eskom moet in twee eenhede verdeel word: een wat infrastruktuur besit, en een wat verspreiding behartig.

“Die Noord-Kaap moet danksy sy hoeveelheid sonlig die sonkragkern van die land word. Die Noord-Kaap en sommige ander geskikte munisipaliteite moet van die kragnetwerk afgehaal word.”

Attie Scholtz, voorsitter van die Oranjevaal-watergebruikersvereniging en die Vaallus-landbouvereniging, asook ondervoorsitter van die Douglas-landbou-unie, sê Eskom bedreig die land se toekoms.

“As ons die beurtkrag wat in Maart vanjaar toegepas is, in Oktober tot Februarie in die bestuiwingstyd gehad het, was ons onderdeur. In een week van beurtkrag waarin jy nie kan besproei nie, kan ’n boer met 1 000 ha se gewasse ’n oes van R30 miljoen verloor.

“Besproeiingsboere moet Eskomkrag gebruik om water uit riviere te pomp om te besproei. Kragopwekkers en sonkragenergie met batterybanke is onvoldoende vir stelsels wat deur die nag pomp.

“Die ekonomie is swak. Ons is een oes van bankrotskap af. Die aanslae raak te veel.

Die ekonomie is swak. Ons is een oes van bankrotskap af. Die aanslae raak te veel.

“Ek kan nie uitbrei as ek nie weet wat met Eskom gaan gebeur nie. Grondhervorming is eintlik nie nou ’n kwessie vir my nie.”

Scholtz het sy kommer uitgespreek oor wat Maimane gesê het.

“Ons is in die moeilikheid, verkiesing of nie. Indien Eskom faal, sal landbouverwante ondernemings ondergaan en produkte verdwyn. Werkgeleenthede sal verdwyn en misdaad nog meer toeneem. Die polisie veg teen ’n oormag.”

Tekorte aan water en waterbesoedeling is nog ’n kwelling.

“Die infrastruktuur het nie saam met die bevolking gegroei nie. Met aardverhitting en veranderende boerderymetodes gebruik ons meer water as in vorige dekades.

“Die watertoestande verswak só dat ons dalk nie meer aan streng oorsese voedselstandaarde kan voldoen nie.”

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Douglas  |  Verkiesing 2019  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.