Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bongo fokus op hoofsaak teen hom

Adv. Bongani Bongo, voormalige minister van staatsveiligheid, het geen planne om op sy eie van sy openbare verpligtinge terug te staan nie.

Adv. Bongani Bongo. Foto: Daily Sun

Só het hy Maandag gereageer nadat die integriteitskommissie van die ANC in ’n mediaverklaring “spoedige en besliste” optrede teen Bongo aanbeveel het.

Die kommissie het onder meer gesê die ANC behoort opdrag te gee dat Bongo met onmiddellike effek van alle poste en aktiwiteite in die ANC opsy staan, insluitende enige openbare ampte wat hy beklee, totdat sy naam skoon is.

Bongo het egter Maandag gesê daar was geen kontak tussen hom en die integriteitskommissie oor die kwessie nie.

“Hulle het nie met my gepraat nie. Hulle het niks aan my gesê nie. Ek kan nie op ’n mediaverklaring reageer nie.

“Ek het geen planne om uit my eie terug te staan nie,” het hy op ’n vraag gesê.

Vir nou konsentreer hy net op die hoofsaak teen hom. “Dit is waaroor ek nou besorg is. Ek wil nie op ander dinge fokus nie,” sê Bongo.

Die Valke het dié voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake twee weke gelede in hegtenis geneem. Hy het later dieselfde dag op aanklagte van korrupsie in die landdroshof in Kaapstad verskyn en is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Die klagte teen Bongo spruit uit sy beweerde poging in November 2017 om adv. Ntuthuzelo Vanara, die getuienisleier in die parlementêre ondersoek na beweerde ongerymdhede by Eskom, om te koop. Bongo het Vanara na bewering ’n “blanko tjek” aangebied om siekteverlof te neem op die dag waarop die ondersoek sou begin in ’n poging om dit te ontspoor. Vanara het egter die seniors daarvan ingelig waarop die Valke se ondersoek gevolg het.

Die kommissie het Saterdag in ’n verklaring aanbeveel dat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) vir Bongo moet teregwys en ernstig daarteen moet vermaan om ’n aanslag op die eer van ander ANC-lede te doen en só onnodige spanning en verdeeldheid in die ANC skep wat op sy beurt ’n negatiewe impak op die ANC in die openbaar het.

Ek het geen planne om uit my eie terug te staan nie.

Kwessies met kollegas moet deur die ANC se interne strukture en prosesse hanteer word.

Dit kom nadat Bongo kort ná sy inhegtenisneming daarop gesinspeel het dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, hom probeer vergiftig het.

Bongo het dié uitlatings in ’n onderhoud aan eNCA gemaak, nadat hy vroeg dieselfde oggend in hegtenis geneem is. Hy het in dieselfde onderhoud beweer dat Ace Magshule, sekretaris-generaal, ook in hegtenis geneem sal word.

Die besluit deur die integriteitskommissie volg nadat ’n groep lede van die ANC se veteraneliga verlede week gesê het Bongo moet vrywillig bedank en aan die ANC se integriteitskommissie verantwoording doen.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.