Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bosasa-baas was op Andile se bruilof, sê Cyril

Gavin Watson, omstrede Bosasa-grootbaas, het verlede jaar pres. Cyril Ramaphosa se seun, Andile, se spogtroue in Uganda as gas bygewoon.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Dirco

Dít is een van verskeie erkennings wat Ramaphosa oor sy interaksie met Bosasa-grootbase én die omstrede Gupta-broers maak in ’n beëdigde verklaring wat op sy eie versoek Vrydag onverwags deur die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aan die nuusmedia beskikbaar gestel is.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het in ’n verslag wat sy onlangs uitgereik het, bevind dat Ramaphosa die parlement mislei het oor ’n R500 000-skenking van Bosasa vir sy ANC-presidentsveldtog in 2017. Ramaphosa wil dié verslag deur ’n hof laat hersien.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, het voor die uitreiking van die verklaring Vrydag bygevoeg dat Ramaphosa ook aangedui het dat hy bereid is om voor die kommissie te getuig.

Zondo het ook aangekondig dat die res van die ANC-leierskap, sowel as voormalige en huidige ministers, binnekort ook genader sal word om verklarings af te lê oor hul moontlike verhouding en bande met die Guptas, hul maatskappye en Bosasa en dié se filiale.

Ramaphosa voer verder in die verklaring aan dat Angelo Agrizzi, gewese Bosasa-bedryfshoof, destyds vir Grantham Catering gewerk het, wat ’n filiaal was van die Molope-groep waarvan hy die voorsitter was. Hy kan nie onthou of hy destyds enige interaksie met Agrizzi of ander Bosasa-direkteure gehad het nie.

Volgens Ramaphosa is die Cyril Ramaphosa-stigting, waarvan hy ’n direkteur is, in vennootskap met van die Adopt-a-School-stigting. Watson en Trevor Mathenjwa, nog ’n Bosasa-direkteur, het een van laasgenoemde stigting se Back-to-School-partytjies in 2017 bygewoon, waar Ramaphosa die gasheer was.

Luidens sy verklaring het Watson en Mathenjwa ook Andile Ramaphosa se troue op 4 Augustus 2018 in Uganda bygewoon.

“Meer as 1 000 mense het hierdie geleentheid bygewoon, insluitend tussen 150 en 200 gaste wat uit Suid-Afrika gevlieg het. Ek onthou geen interaksie met hulle by die geleentheid nie.”

Hy voer aan die Watsons was destyds aktiewe UDF-lede in Port Elizabeth en dat hy hulle destyds ook daarom kon ontmoet het.

Hy erken ook hoe hy tydens die munisipale verkiesings in 2016 die ANC se inbelsentrum in die Bosasa-hoofkwartier besoek het en ook daar interaksie met Bosasa-werknemers kon gehad het. Hy weet ook nie wie die sentrum gefinansier het nie.

Meer as 1 000 mense het hierdie geleentheid bygewoon, insluitend tussen 150 en 200 gaste wat uit Suid-Afrika gevlieg het.

Ramaphosa sê ook hoe hy sedert 2012 “drie of vier keer” twee Gupta-broers op ANC-geleenthede ontmoet het, maar dat hy net beleefd opgetree, gegroet en grappies gemaak het.

Hy het wel by een so ontmoeting in 2016 vir Tony Gupta oor hul destydse omstrede landing by die Waterkloof-lugmagbasis gekonfronteer.

Die ANC se erg verdeelde nasionale uitvoerende komitee (NUK) het Vrydag sy naweek lange vergadering in Irene, Pretoria, begin.

Spanning tussen die Ramaphosa- en Zuma-faksies in die NUK sal na verwagting hoog loop, veral oor die herrie oor oudmin. Derek Hanekom en bewerings van spioene wat die ANC geïnfiltreer het, wat oudpres. Jacob Zuma vroeër voor die Zondo-kommissie gemaak het.

Hanekom is in omstredenheid gedompel nadat Julius Malema onthul het dat Hanekom in 2017 met die EFF vergader het om Zuma se ondergang te probeer bewerkstellig.

Die militêre veterane van die MK, stoere Zuma-ondersteuners, eis daarom Hanekom, ’n Ramaphosa-ondersteuner, se onmiddellike skorsing uit die ANC.

Ace Magashule, sekretaris-generaal en Zuma-lojalis, het selfs vir Hanekom vroeër in ’n verklaring ’n “bedrieër” en “EFF-agent” genoem wat die ANC wil verdeel.

Dié NUK-vergadering is ook die eerste sedert Mkhwebane se verdoemende bevinding teen Ramaphosa oor die Bosasa-skenking.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.