Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bosasa-geld: ‘Cyril het niks verkeerd gedoen’

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa nie direk betrek is by skenkers óf hul bydraes aan sy ANC-presidensiële- of CR17-veldtog nie, is hy soms deur sy veldtogbestuurders gevra vir “leiding oor moontlike skenkers”.

Dít is Ramaphosa se amptelike standpunt oor dié kwessie soos hy dit uitstippel in ’n beëdigde verklaring in die dringende interdikaansoek wat hy onlangs ingedien het om adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), te verbied om haar remediërende aanbevelings in haar verslag oor die R500 000-skenking van die omstrede fasiliteitsbestuurder Bosasa aan sy CR17-veldtog te implementeer. Dit is totdat ’n hersieningsaansoek daaroor komende Maandag afgehandel word.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: Daily Sun

Ramaphosa se presiese betrokkenheid by sy CR17-veldtog is Saterdag weer bevraagteken toe News24 berig het oor uitgelekte e-posse waarin die name van sommige CR17-skenkers bekend gemaak word. News24 het ook berig hoe die e-posse Ramaphosa se weergawe – dat daar afstand tussen hom en die skenkers was – ondermyn.

Van die e-posse toon luidens News24 dat Ramaphosa glo ook self deur sy veldtogbestuurders geraadpleeg is oor planne om sekere skenkers te nader.

Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, het Maandag teenoor die televisienuuskanaal eNCA die e-posse as ’n rookskerm beskryf én benadruk dat Ramaphosa nie “enige misdaad” gepleeg het rakende die skenkings nie.

Volgens haar was daar sowat 120 skenkers aan die CR17-veldtog, waarvan sommige R5 000 en ander tot in die miljoene geskenk het. Sy sê dit was mense wat daarna gestreef het om die ANC te hernu, te herbou en te verenig.

“Dit was mense uit alle sektore. Wit mense, swart mense, ou mense en jong mense wat ’n spesifieke perspektief wou laat wen (by die ANC se nasionale konferensie in 2017 by Nasrec), op voorwaarde dat hulle geen voordeel daaruit sou trek nie,” sê Diko.

Ramaphosa verduidelik ook in sy hofstukke dat hy nie direk betrokke was by die CR17-veldtog nie, maar dat hy wel oor politieke en strategiese kwessies daaromtrent geraadpleeg is.

“Daar is ooreengekom dat ek, sover moontlik, nie direk by die versoeke van skenkings betrokke sou wees nie en die algemene praktyk was dat die besonderhede van skenkers en bydraes nie met my gedeel moet word nie.

“Ek het verskeie fondsinsamelingsdinees bygewoon waar ek my visie vir die ANC en die land uiteengesit het. Die veldtogbestuurspan het my meestal geraadpleeg oor die uitnodigingslyste vir hierdie etes en ek is by geleentheid gevra vir leiding oor moontlike skenkers.”

Ramaphosa voer aan die veldtog het ’n fondsinsamelingskomitee en finansieskomitee gehad wat onderskeidelik fondse gewerf en die veldtog se geldsake bestuur het.

Hy voer ook aan daar is ooreengekom dat enige individu wat omgee vir die toekoms van die ANC en die land én wie sy visie as ANC-presidentskandidaat steun, tot die veldtog kon bydra.

Intussen het Dakota Legoete, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), Vrydag ook op die openbare vergadering oor die regulasies vir die nuwe Wet op Partypolitieke Befondsing in Kaapstad gesê dat die regerende party sy bestaande regulasies en reëls gaan uitbrei om die finansiering van interne veldtogte voortaan beter te reguleer.

Dr. Zwelinzima Ndevu, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, sê Ramaphosa het uit ’n regsperspektief niks verkeerd gedoen aangaande die skenkings nie.

“Daar was egter ’n morele en etiese verpligting op Ramaphosa om te weet wie presies geld aan die CR17-veldtog geskenk het. As hy nie direk daarby betrokke was nie, moes hy uitgevind het wie die skenkers was.”

Wat sê kenners oor die jongste herrie oor die CR17-skenkings?

Netwerk24 het Maandag met prof. Mcebisi Ndletyana, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, en dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, gepraat om te probeer uitvind wat presies aangaan.

Hier is Netwerk24 se vrae en hul antwoorde:

Weet politici gewoonlik wie hul veldtogte befonds?

Ndletyana: Politici sal dit gewoonlik weet. Dit is byvoorbeeld bekend dat partye soos die ANC en die DA geld insamel vir hul interne veldtogte

Croucamp: Normaalweg moet hulle bewus wees oor wie geld vir hul veldtogte skenk. Dit is soos in Amerika waar dit “lobbying” genoem word. Dit kan wees dat skenkers in Ramaphosa se geval geld geskenk het omdat hy volgens hulle die beste was om die land in ’n beter rigting te stuur, en nie noodwendig omdat hulle ’n ander voordeel daaruit verwag nie.

Is dit reg dat hulle weet wie hulle befonds?

Ndletyana: Ek dink oor die algemeen sal politici ’n idee hê oor wie (vir skenkings) genader behoort te word.

As sakelui byvoorbeeld genader gaan word sal dit nie snaaks wees vir die kandidaat om ’n toespraak te gaan lewer op ’n saamtrek waar lede van die sakegemeenskap sal wees nie. Dit is ’n belangrike kiesafdeling om te oorweeg.

Die kandidaat se span sal die opvolgwerk doen. Die kandidate self fokus op die hoëvlak-aspekte. Hulle skryf nie e-posse en maak nie telefoonoproepe nie – hulle het hul spanne daarvoor.

Croucamp: Dit is belangrik dat hulle moet weet wie hulle befonds. As Bosasa byvoorbeeld geld skenk, moet jy as kandidaat daarvan weet. Ramaphosa wou juis ’n afstand skep tussen hom en sy veldtogskenkers om die stereotipering te weerlê dat daar omstrede skenkers by sy veldtog betrokke kon wees.

Daarom moes hy die gevolge van ’n Bosasa-skenking voorsien het. Hoewel sy veldtogbestuurders vir die veldtog se bestuur verantwoordelik was, sou hy steeds finaal aanspreeklikheid moes aanvaar as hulle dalk iets verkeerd gedoen het.

Ek is nie oortuig dat daar goeie oordeel aan die dag gelê is met die Bosasa-skenking nie.

Wanneer moet die gevaarligte flikker met sulke skenkings?

Croucamp: Ramaphosa het ’n veldtog-bestuurspan gehad wat behoorlik die herkoms van elke skenking moes navors. “Hy moes self ook die risiko’s voorsien het van omstrede skenkings.”

Croucamp meen egter dat van al die kandidate wat in 2017 om die ANC-presidentskap meegeding het, het Ramaphosa die fondsinsamelingsproses die beste bestuur.

“Die gebrek aan wetgewing wat skenkings aan politieke partye moet reguleer, is ook ’n hoofoorsaak van die situasie waarin Ramaphosa hom nou bevind.”

Hoekom duik woorde soos geldwassery op?

Croucamp: Dit spruit uit die OB-verslag oor die R500 000-skenking van Bosasa. Ons weet nou (ná getuienis voor die Zondo-kommissie) dat Bosasa en sy grootbase meestal met kontant gewerk het. Die vraag is waar die Bosasa-kontant vandaan kom.

Het Cyril iets verkeerd gedoen of gee hy voor dat hy nie geweet het van die skenking nie?

Croucamp: ’n Politikus wat sê hy weet nie van iets nie, is altyd onder verdenking. Die vraag is of hy moes geweet het van die betrokke skenking. Die antwoord is ja.

“Dit is hoe die politiek werk. Opponente sal enigiets teen hom vir hul eie gewin uitbuit. Die punt is dat Ramaphosa nou sukkel om ’n teenvoeter of teenargument vir die Bosasa-bewerings te vind. Daarom gaan dit moeilik wees om sy opponente te oortuig dat hy nie iets verkeerd gedoen het nie.

Hoekom is daar anonieme skenkers?

Ndletyana: Dit is gewoonlik ’n kwessie dat sommige skenkers anoniem wil bly. Die moontlikheid bestaan dat ’n skenker dalk iets in ruil vir ’n skenking aan ’n politieke party wil hê. Om ’n botsing van belange te voorkom, is dit belangrik dat dit bekend is wie die geld skenk. Dit is om te verseker dat hulle byvoorbeeld nie staatskontrakte onwettig ontvang nie. Hul skenking moet hulle nie bo ander bevoordeel nie.

Wat van die nuwe Wet op Partypolitieke Befondsing?

Croucamp: Daardie wetgewing is belangrik. Wat ewe belangrik is dat die parlement en alle ander belanghebbendes ook hul werkswyse sal moet verander deur ook reëls en regulasies in plek te kry oor hoe daardie wetgewing presies toegepas gaan word. Dit is omdat wetgewing alleen nie veel gaan help as alle belanghebbendes nie hul deel doen om te verseker dat dit doeltreffend toegepas word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.