Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bosasa: Hooflanddros van Pta voorlopig geskors

Desmond Nair, hooflanddros van Pretoria, is voorlopig geskors hangende die uitslag van ’n ondersoek na sy geskiktheid om sy amp te beklee.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Woensdag ’n verslag in die parlement ingedien oor die voorlopige skorsing.

Ingevolge die Wet op Landdroste moet die parlement besluit om die voorlopige skorsing te bevestig.

Nair se skorsing kom nadat hy verlede jaar in November aangekla is op twee aanklagte van wangedrag ná ’n voorlopige ondersoek deur die ministerie.

“Die aanklagte van wangedrag hou verband met aantygings dat Nair glo spesiale gunste of voordele van Bosasa gevra of aanvaar het wat die uitvoering van sy regsplig kon beïnvloed of wat die indruk of persepsie kan skep as bedoel om hom te beïnvloed in die uitvoering van sulke pligte,” het Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie, gesê.

Dagvaarding

Desmond Nair
Desmond Nair, hooflanddros van Pretoria. Foto: News24

Die veiligheid by Nair se huis in Pretoria is glo verbeter deur nuwe veiligheidstelsels ter waarde van R200 000 aan te bring. Die opknapping sluit in ’n volledige geëlektrifiseerde heining, kringtelevisie en alarmstelsels.

Richard le Roux, ’n werknemer van Bosasa, het dit aan die lig gebring toe hy verlede jaar in Januarie voor die Zondo-kommissie van staatskaping getuig het.

Le Roux, wat gedagvaar is om voor die kommissie te verskyn, werk vir Global Technology Systems, ’n filiaal van Bosasa, voorheen bekend as Sondolo IT.

Toe Nair destyds om kommentaar genader is, het hy gesê hy neem kennis van die verslag en het die saak na sy regsverteenwoordigers verwys om die nodige prosesse te volg.

Phiri het gesê ingevolge art. 13 (3) (b) van die wet kan die minister op advies van die Landdroskommissie ’n landdros voorlopig skors as die kommissie oortuig is van betroubare getuienis en dat dit onvanpas sou wees as die persoon voortgaan in sy rol terwyl die bewerings ondersoek word.

“Regterlike beamptes moet aan die hoogste standaarde van toetsing gehou word en hul gedrag moet by hul amp pas. Gegewe die erns van die aantygings, asook die belangrikheid van die beeld van ons regterlike beamptes, ons howe en die oppergesag van die reg, het ek besluit om Nair voorlopig te skors hangende die uitslag van die ondersoek,” sê Lamola.

Meer oor:  Desmond Nair  |  Ronald Lamola  |  Hooflanddros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.