Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bosasa: DKD sê hoe hy 'korrupsie' hanteer

Talle staatsamptenare en regslui, wat die kantoorhoof van die staatsprokureur in Gauteng insluit, is geskors weens die aantygings van staatskaping in die departement van korrektiewe dienste (DKD) wat in die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping na vore gekom het.

Adv. Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, Arthur Fraser, nasionale kommissaris van die DKD, en ander het die media saam met ouditeure van die onderskeie afdelings van die DKD by die GCIS-hoofkantoor in Pretoria toegespreek.

Adv. Michael Masutha

Die bekendmakings handel oor die onregmatige kontrakte wat tussen Bosasa, wat nou African Global Operations (AGO) heet, en die DKD aangegaan is.

Inligting daaroor is onlangs voor die Zondo-kommissie onthul.

Masutha het onder meer verwys na die DKD-amptenare wat in die Zondo-kommissie se getuienis oor Bosasa geïmpliseer is.

Masutha het Maandag nie name genoem nie, maar gesê geïmpliseerde amptenare het kennisgewings ontvang en benadruk “ ’n sekere amptenaar is van vandag af geskors, ná ’n interne forensiese ondersoek, wat hom geïmpliseer het in ’n onregmatige kontrak met Global Technology Solutions om veiligheidsdienste aan die Zondo-kommissie te verskaf”.

’n Ander amptenaar moet redes verskaf waarom sy nié afgedank behoort te word nie.

Global Technology Solutions was voorheen Sondolo IT, Bosasa se eie inligtingstegnologie-maatskappy.

Aaron Motsoaledi

Dr. Khotso de Wee, sekretaris van die Zondo-kommissie, is ook met spesiale verlof, hangende die ondersoek na aantygings wat glo met dieselfde saak verband hou.

Masutha het gesê die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek tans beweerde korrupte aktiwiteite in die kantoor van die staatsprokureur. Sover is ’n prominente prokureur in Mthatha in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met bedrog met mediese eise van meer as R100 miljoen. Die verdagte het reeds in die hof verskyn.

Ses ander strafsake wat verband hou met bedrog van meer as R90 miljoen is aanhangig gemaak en talle ander inhegtenisnemings word eersdaags in die Oos-Kaap en ander dele van die land verwag, aldus Masutha.

Masutha het ook melding gemaak van die kontrak ter waarde van R601 863 632 wat in 2008 tussen die DKD en Sondolo IT aangegaan is.

Die kontrak is in September 2015 tot September 2018 verleng wat die departement ’n verdere R340 738 014 uit die sak gejaag het.

Arthur Fraser.
Arthur Fraser. Foto: Jaco Marais

Masutha het gesê die veiligheidsbestuur van die DKD het nie die tenderproses betyds voltooi nie, en die DKD is genoop om die Global Technology Solutions-kontrakte van maand tot maand voort te sit, totdat daar ’n ander diensverskaffer aangestel word. Hy belowe dat die aanstelling van nuwe diensverskaffers gou sal gebeur.

Masuta het ook benadruk die SOE het onregmatige kontrakte met betrekking tot infrastruktuur en elektroniese moniteringstelsels ondersoek, wat tans voor die hof is. Hy kan dus nie verder hierop uitbrei nie.

Hy kon egter bevestig die SOE is besig om kontrakte vir elektroniese monitering en geëlektrifiseerde heinings vir die DKD in KwaZulu-Natal te ondersoek.

“Ons is dankbaar oor die president se aankondiging gister van die oprigting van ’n spesiale SOE-tribunaal, wat bedoel is om dié siviele litigasie te bespoedig, asook die terugkry van verlore geld en bates. Die tribunaal sal druk van ons howe afhaal,” aldus Masutha.

African Global Operations is tans in ’n proses van likwidasie wat voedselverskaffing aan tronke direk raak.

Masutha het gesê hy het talle tronke besoek om te sien hoe privaat-openbare kontrakte werk.

Van die 226 kombuise wat aan 239 tronke kos voorsien, word 26 tronke deur African Global Operations se likwidasie geraak, wat 46 434 gevangenes huisves. African Global Operations verskaf dus kos aan 29% van die tronkbevolking. Hy het gesê die DKD is in ’n “gevorderde stadium” om ’n plan vir alternatiewe voedselverskaffing vir dié tronke in werking te stel.

Fraser het op sy beurt gesê sou die dienste van African Global Operations aan die tronke skielik gestaak word, hulle amptenare van die DKD sal ontplooi om in die kombuise uit te help, sodat daar nie ’n voedseltekort ontstaan nie.

Masutha het vlugtig na die SOE se 2009-ondersoek verwys.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof, het vroeg in Februarie reeds saam met Andries van Tonder, voormalige finansiële hoof van Bosasa, Frans Vorster en Carlos Bonafacio, voormalige Bosasa-werknemers, asook Patrick Gillingham, voormalige finansiële hoof van die departement van korrektiewe dienste (DKD), en Linda Mti, destydse tronkhoof, in die handelshof in Pretoria in verband met beweerde tenderbedrog verskyn.

Die inhegtenisnemings volg op die Valke en die SOE se ondersoek sedert vroeg 2007 waarin mense, soos Gavin Watson, Bosasa-hoof, nog nie geïmpliseer is nie.

Dié ondersoek het spesifiek verband gehou met beweerde bedrog tussen Bosasa en die DKD van meer as R1,6 miljard.

Volgens inligting van die nasionale tesourie blyk dit dat Bosasa tussen 2004 en 2019 ’n geraamde R12 miljard van verskillende staatsdepartemente gekry het. Dié bedrag word as konserwatief beskou en kan heelwat meer wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.