Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bosasa-skandaal: DA verkla politici by polisie
John SteenhuisenFoto: Nasief Manie

Suid-Afrika kan in die nuwe politieke era en te midde van die swak ekonomiese groei dit nie langer bekostig dat politici soos dié in die Bosasa-skandaal hul eie belange bo dié van landsburgers dien nie, meen John Steenhuisen, DA-hoofsweep in die parlement.

Hy het dit Vrydag voor die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor gesê waar hy ingevolge korrupsiewetgewing strafregtelike klagte teen Vincent Smith, senior ANC-LP, Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie, Thabang Makwetla, adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, sowel as Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, ingedien het.

Volgens Steenhuisen volg die klagte nadat City Press en News24 die afgelope weke onthul het dat bogenoemdes na bewering veiligheidsverbeterings aan hul huise en ander voordele van die omstrede geriewebestuursfirma Bosasa, wat tans as African Global Operations bekend is, ontvang het.

Dié firma het verskeie regeringskontrakte van sowat R10 miljard ontvang.

Steenhuisen sê die beweringe sluit onder meer in dat Bosasa:

Vincent Smith. Foto: DAILY SUN

* Kringtelevisiestelsels (CCTV) en ’n elektriese heining van sowat R200 000 by Smith se huis in Roodepoort, Gauteng, geïnstalleer het. Dit terwyl hy glo ook R100 000 in kontant en in totaal R671 000 in maandelikse betalings die afgelope drie jaar van Gavin Watson, Bosasa se uitvoerende hoof, ontvang het;

* Veiligheidskameras en buiteligte van R300 000 by Mantashe se huise in Boksburg, Gauteng, en in Cala en Elliot in die Oos-Kaap geïnstalleer het;

* ’n Alarmstelsel, CCTV en ’n elektriese heining van R350 000 by Makwetla se huis geïnstalleer het; en

* ’n Alarmstelsel, elektriese heining en CCTV van R250 000 by Myeni se huis in Richardsbaai geïnstalleer het.

Volgens Steenhuisen word Mbulelo Gingcana, voormalige verkrygingsbestuurder van Prasa, en Linda Mti, voormalige nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, ook by die beweringe betrek.

Smith het Donderdag as voorsitter van drie parlementêre komitees afgestaan totdat ’n parlementêre ondersoek oor die beweringe teen hom afgehandel is.

Steenhuisen sê die strafregtelike klagte is ingedien omdat dit onaanvaarbaar is dat staatsamptenare geskenke van maatskappye ontvang wat groot regeringskontrakte kry, en om dit dan nie te verklaar nie.

“Ons het reeds gesien hoe daar met staatskaping ’n geskatte R100 miljard se geld en geleenthede van Suid-Afrikaners beroof is deur gierige politici en lede van die private sektor. Dit is tyd dat hulle gestraf word.”

Op ’n vraag oor of hy dink die polisie die jongste klagte met die nodige dringendheid sal ondersoek, siende dat talle vorige klagte wat die DA oor beweerde korrupsie ingedien het steeds sloer, het Steenhuisen gesê: “Ek dink dat die polisie, die Valke en die regstelsel in die post-Jacob Zuma-era hierdie tipe klagte meer ernstig moet opneem.

“Daar kan nie meer gesê word dat hulle deur oudpres. Jacob Zuma geviktimiseer word nie. Dit is ’n nuwe era en ons moet nou toesien dat die skuldiges aan die pen ry.

“As ons dit nie doen nie, verander ons nie die kultuur en gedrag van korrupsie en wanadministrasie nie. Ons moet daarop verbeter siende dat Suid-Afrika tans in ’n baie knap fiskale ruimte is en nie kan bekostig dat politici hul eie belange bo dié van Suid-Afrikaners dien nie.”

Meer oor:  Bosasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.