Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bourekenaars betwis OG-verslag

’n Bourekenaargroep bevraagteken die feitelike korrektheid rakende die verskyning van sy naam in die verslag van die ouditeur-generaal wat verlede week in die Vrystaatse wetgewer gedien het en het ’n versoek gerig dat dit reggestel word.

Ook meen Rubiquant-bourekenaars dit was onverantwoordelik van die OG om ’n verslag, al is dit ’n tussentydse een, uit te reik sonder om die professionele konsultante en belanghebbendes te raadpleeg, sê Johan Pretorius van Rubiquant.

’n Hofbevel is op 29 November in die Vrystaatse hooggeregshof in Rubiquant se guns toegestaan teen die Vrystaatse LUR vir openbare werke vir agterstallige skuld.

Pretorius het ’n verklaring uitgereik na aanleiding van Netwerk24 se berig “OG bevestig Ramkraal-projek was nooit goedgekeur”.

“Die tussentydse OG-verslag, wat in die Vrystaatse wetgewer voor die staande komitee vir openbare rekeninge en openbare werke gedien het, en waarop die DA se nuusverklaring – en Netwerk24 se berig – geskoei was, is nie feitelik korrek nie deurdat dit nie die regte weergawe dra nie en foute bevat.”

In die OG-verslag is Rubiquant se naam op die lys van konsultante wat aangestel is op maniere wat afgewyk het van die vereiste prosesse en kriteria.

Rubiquant betwis dit. Pretorius sê Rubiquant het reeds deur sy prokureur ’n brief aan die OG laat stuur waarin die korrektheid van die verslag bevraagteken word en ’n afskrif van die verslag aangevra word om daarop te reageer en, indien nodig, dit ter syde te laat stel.

“Die OG het versuim om vir sy tussentydse verslag enige van die aangestelde bourekenaars te raadpleeg vir insette; dit terwyl die bourekenaarkonsultante en die departementele bourekenaars al die dokumente het om enige vrae rondom die projek se finansies te beantwoord. Al vraag wat gerig was, was wie van Rubiquant persoonlik by die projek betrokke was.

“Dit is uiters onverantwoordelik van die OG om ’n verslag, al is dit ’n tussentydse ene, uit te reik sonder om die professionele konsultante en belanghebbendes te raadpleeg.”

Luidens die verklaring plaas Rubiquant op rekord dat:

* Die aanstelling van al die konsultante vir die projek geskied het op dieselfde wyse as met enige ander van die departement van openbare werke se projekte.

* Fase 1 van die Ramkraal-projek ingevolge regulasies suksesvol afgehandel is waarna die finale rekening gelewer en deur die departementele bourekenaars goedgekeur is.

* Die styging in die projekkoste daaruit spruit dat die departement van openbare werke die tenderdokumente en -voorwaardes gewysig het kort voordat die projek op tender uitgegaan het. Die departement het ’n klousule bygevoeg waarby die kontrakteurs ook verantwoordelik sou wees vir die finansiering en onderhoud van die geboue vir ’n tydperk van 30 jaar. Dit het veroorsaak dat die suksesvolle tenderaars finansierders by hul tender moes betrek wat veroorsaak het dat die tenderbedrae baie hoër was as wat dit aanvanklik sou wees. Die konsultante het egter nie hul tariewe op hierdie addisionele koste bereken nie en is dus glad nie daardeur bevoordeel nie.

* Ten tyde van die projek alle professionele tariewe vir die verskeie konsultante bereken en betaal is volgens die heersende tariefskale soos gepubliseer in die Staatskoerant. Dit maak die ondersoek daarna maklik en deursigtig. Daar is altesaam 16 spesialis-konsultante aangestel vir die Ramkraal-projek, en nie slegs vier nie, soos in die berig gemeld.

“Wyle Ashwill Mapoe, wat die projek tot en met sy siekte namens Rubiquant behartig het, was welbekend as ’n kampvegter teen korrupsie en bedrog. Rubiquant het ’n jare lange verbintenis met die nasionale regering en is al verskeie kere aangestel om korrupsiesake te ondersoek en daaroor verslag te lewer. Rubiquant ontvang gereeld eerbewyse oor die land heen en is trots om te kan sê dat hy die afgelope sewe jaar ’n PMR-eerbewys vir van die beste bourekenaars in die bedryf ontvang het en nog altyd eerlikheid en deursigtigheid met sy projekte nagestreef het.

“Rubiquant doen sedert 2001 landwyd sake en die verkeerde weergawe het reeds onherstelbare skade aan ons openbare beeld aangerig. Dit het daartoe gelei dat ons opdragte weens die slegte publisiteit verbeur het,” lui die verklaring.

* Die OG het by monde van Africa Boso in reaksie gesê: “Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika het nog nie sy oudit oor die betrokke saak gefinaliseer nie. Soos geweet behoort te word is die OG se mandaat slegs om kommentaar te lewer op afgehandelde oudits, nadat die oudit-verslae by die bepaalde wetgewende liggaam ingedien is. In dié geval sal dit die provinsiale wetgewer wees.

Meer oor:  Og-Verslag  |  Ramkraal-Projek  |  Bourekenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.