Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bouwerk by historiese koshuis in Bloem glo ‘onwettig’

Bouwerk is gestaak aan ’n studentekoshuis van miljoene rande op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein omdat daar glo nie aan wetlike vereistes voldoen is nie.

Dit is een van die projekte van die Docrats van die Gautengse maatskappy Sedtrade, wat veral onder Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, verskeie groot tenders en kontrakte van die Vrystaatse regering gekry het.

Zaid Docrat, uitvoerende hoof van Sedtrade. Foto: Facebook

Werknemers van Sedtrade, wat uit huise aan die voorkant van die psigiatriese kompleks sake doen, het aan Netwerk24 bevestig dat die bouwerk gestaak is.

“Vir ons is gesê dat bouplanne eers goedgekeur moet word voordat ons kan aangaan,” het hulle gesê.

Die omstrede projek behels die omskepping van die ou verpleegsterstehuis op die terrein, ’n historiese erfenisgebou, in ’n koshuis vir studente. Die nuwe vleuels van die gebou staan al dakhoogte.

Netwerk24 verneem betroubaar dat elke steen van die projek sover onwettig gelê is omdat die hersonering nog nie gedoen en die bouplanne nog nie goedgekeur is nie.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro, het onderneem om die saak te ondersoek.

Netwerk24 verneem dat onderhandelings gevoer is met die metro en dat onderneem is om aan die wetgewing te voldoen.

Die projek is gestaak totdat aan die nodige wetlike vereistes voldoen word en die sonering aangepas is.

Groot bouwerk aan ’n studentekoshuis wat nou eers tot stilstand gekom het op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks, blykbaar sodat die nodige sonering kan geskied en bouplanne goedgekeur kan word.Foto: Marietjie Gericke

Personeel van die psigiatriese kompleks het Netwerk24 vroeër genader om hul kommer uit te spreek oor die plan om ’n studentekoshuis op dié terrein op te rig met sale vir geestelik gestremde inwoners nie ver van die koshuis nie.

Zaid Docrat, uitvoerende hoof van Sedtrade, het by navraag gesê hy verstaan nie waarom Netwerk24 se vrae relevant en in die openbare belang is nie.

Hy het Netwerk24 van “’n heksejag” beskuldig, maar wou nie bevestig of die bouwerk inderdaad gestaak is sodat die bouplanne eers goedgekeur kan word nie.

Die Sedtrade-maatskappy omskep die ou verpleegsterstehuis op die terrein in ’n koshuis vir studente.Foto: Marietjie Gericke
Regs kan een van die nuwe vleuels gesien word wat aan die bestaande verpleegsterstehuis opgerig word. Foto: Marietjie Gericke

Docrat wou onder meer weet waarom dit in openbare belang is of Sedtrade ’n werkbaarheidstudie onderneem het of nie. “Ons gaan nie die inligting vir julle gee nie.”

Hy het gesê die hele projek behels ook winkels, kantore en moontlik ’n hotel, met ’n totale waarde van sowat R1 miljard.

“Dit sal ’n groot klomp werkgeleenthede skep.”

Docrat wou weet watter belang die publiek daarby het om te weet hoe die bouwerk aan die koshuis vorder.

“Julle kan aanvaar dat ons aan al die wetlike vereistes voldoen het, of in die proses is om aan die wetlike vereistes te voldoen.”

Docrat wou nie vrae beantwoord oor hoeveel kontrakte die Sedtrade-maatskappy van die Vrystaatse regering gekry het en wat die waarde daarvan is nie.

“Wil julle aandele koop?” wou hy weet.

Sedtrade het blykbaar sonder goedgekeurde bouplanne op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein gebou. Foto: Marietjie Gericke
Die historiese verpleegsterstehuis op die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks. Foto: Marietjie Gericke
Meer oor:  Bloemfontein  |  Bouwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.